Waar jou skat is… Word ‘n buitensporige gewer
[powerpress]
‘n Man loop eendag deur ‘n tweedehandse winkel en sien ‘n kat drink van ‘n potjie.
Die ou is ‘n antieke goedere ‘expert’ en herken onmiddellik die potjie waaruit die kat drink as antieke porselein pot van Sjina wat dateer na die Ming dinastie.
Dit was ‘n fortuin werd. Hy begin toe dink hoe hy sy hande op hierdie pot kan kry sonder dat die eienaar agterkom hoeveel dit werd is.
Hy bedink ‘n goeie plan en sê vir die eienaar:
“Dit is ‘n merkwaardige kat wat jy daar het.” “Ek sal jou $500 vir die kat gee.”
Die eienaar sê: “Ek sal skuldig voel as ek hierdie gewone kat verkoop vir $500, ek weet wat hy werd is.”
Die antieke ou sê: “Nee, nee, ek dring aan, vat asb. die $500.”
Die eienaar vat die geld en die ou sê toe: “Weet jy, ek gaan iets nodig hê om vir die kat melk in te gee, wil jy nie sommer daardie pot ook ingooi vir die prys nie?”
Die eienaar: “Oo, nee, dit is eintlik ‘n antieke pot wat dateer uit die Ming dinastie. Dit is ‘n fortuin werd. Dit is nogal snaaks, sedert ek daardie pot het, het ek al 18 katte verkoop.”
Daar’s baie slim mense daardie buite wat baie katte koop en hoop dat hulle d. pot gaan saamkry.
Ek het ‘n verrassing vir jou: jy gaan nie die 1ste persoon wees wat nooit sal sterf nie.
Jesus die wysste finansiële adviseur het gesê: God gaan vir jou skatte gee in jou lewe. Miskien baie van hulle. Om dit bymekaar te maak en vir jouself op te gaar waar dit in elk geval nie lank gaan hou nie, is nie ‘n goeie belegging strategie nie.
“You might think of life like this: our life on earth is represented by a dot, because it goes so fast. It’s such a short thing. You’re born and then you grow up. You think life is so long, and the more you age, the faster you realize that it’s going by, and it’s just a little dot. Picture this line that extends not just all the way across the page, but as far as you can imagine, and that’s eternity. And that’s your destiny.” Randy Alcorn in Treasure Principle
Maar Jesus se raad is: “Leef vir die lyn, nie vir die kolletjie nie.”
Die aarde is nie jou of jou kinders se tuiste nie. Jy is gemaak vir veel meer as dit.
Jy is gemaak vir ‘n ewigheid.
Vrygewigheid leer my, om my skatte op die regte plekke te belê.
Deur my hande los te maak van my besittings, is om my hart los te maak sodat God my kan verander.
Luk. 12:24 “Waar jou skat is, daar sal jou hart ook wees.” 1983 NAV
Jou hart sal volg waar jou skat is.
Ons dink dit is andersom. As iets my hart gryp, dan sal ek my geld daarvoor gee.
So ons dink eintlik: “As ek voel om te gee, as ek vrygewig voel, dan sal ek my geld gee vir dit waarheen my hart gaan.”
Jesus ken ons harte beter as wat ons dit self ken as Hy sê: ‘Gebruik jou geld om jou hart te vorm.’ Waar ook al jou skat is, daar sal jou aandag, jou gedagtes, jou emosionele energie en jou hart ook wees.
Daarom sê Jesus, sit jou geld en jou skatte waar jy jou hart graag wil hê.
Moenie wag vir jou hart om te verander en dink dan sal jou geld volg nie. Dit werk nooit.
Doen dit andersom, sit jou skatte waar jy jou hart graag wil hê.
As jy ‘n hart wil hê wat in lyn met God se wil is, sit jou skatte dan daar.
Vir enige volger van Jesus, is Hy ons rolmodel. Nie net in lewe nie maar ook in wat Hy gesê het oor die ekonomiese realiteite van die lewe.
As jy dink waar Jesus se bediening begin het met sy dissipels.
Hulle was basies selfsugtige manne wat vir hulself gevra het, Wat is in dit vir my?
Dit was nie moeilik vir hulle om kinders, siek mense, oues en kruppel mense van Jesus af weg te hou nie. Hulle het selfs gedink dat Jesus hulle mag sou gee of ryk sou maak.
Maar Jesus was presies die teenoorgestelde. Eendag sê Jesus vir sy voornemende dissipels, Julle moet verstaan dat die Seun van die Mens nie eers ‘n plek het om sy kop neer te lê nie. Jesus het werklik vir die lyn geleef en nie die kolletjie nie.
Oor drie jaar het Jesus die boodskap van vrygewigheid oor en oor in Sy dissipels se harte en gedagtes ingegraveer.
Van die 36 gelykenisse wat Jesus vertel het, was 16 oor besittings en geld.
Jesus het eerstens nie daaroor gepraat nie, Hy het dit gemodelleer deur vrygewig te lewe.
Drie gelykenisse wat Jesus vertel het:
1. Ryk man en Lasarus die bedelaar in Lukas 16:19
Jesus vertel die storie van ‘n ryk man wat in ‘n reuse huis woon en die beste kos eet elke dag en ‘n paar tree van hom af bly ‘n bedelaar vol swere wat begeer het om net van die krummels van die ryk man se tafel af te eet.
Dit is nogal ‘n ontstellende storie wat Jesus vertel want die bedelaar hoor ons in vers 22 eindig:
Luk. 16:22 “Kort voor lank is Lasarus dood. Maar toe het hy ’n koninklike ontvangs in die hemel te beurt geval. Die engele het hom kom haal en reguit na Abraham toe gedra. “ ’n Ruk later is die ryk man ook dood. Maar daar was geen engel om hom hemel toe te dra nie. Nee, hy het sy oë in die hel oopgemaak.” BDKP
Dan smeek die ryk man vir Abraham vir bietjie water omdat die pyn ondraaglik geword het.
Luk. 16:24 “Maar Abraham sê vir hom: ‘Dink so ’n bietjie terug. Daar op aarde het jy alles gehad wat jou hart begeer. Maar Lasarus het net swaargekry. Nou is die rolle omgekeer. Nou is Lasarus gelukkig, en jy ly baie.” BDKP
Weereens sien ons Jesus sê, leef vir die lyn en nie die kolletjie nie.
2. Vrygewige (barmhartige) Samaritaan
Ons ken die verhaal van die goeie Samaritaan. Al die godsdienstige figure loop verby die man wat geslaan en beroof is en doen alles om hom te vermy.
Dan kom die Samaritaan. Jesus kies juis die woord: “Samaritaan” omdat Hy geweet het die wat geluister het waarskynlik rooi in hulle gesigte geraak het. Hulle het Samaritane gehaat.
Hoekom sou Jesus ‘n Samaritaan kies om die toonbeeld van vrygewigheid te wees?
Dit is amper of Jesus dit in “slow motion” vertel. Die Samaritaan sien die man in die sloot.
Hy stap na hom toe. Hy sit olie en verbande aan sy wonde. Hy sit hom op sy donkie. Hy vat hom na ‘n herberg toe. Hy versorg hom tot hy moet gaan. Hy gee ‘n blanko tjek vir die herbergier en sê versorg hom verder. En dan hierdie woorde:
Luk. 10:35 “Hy sê toe vir die eienaar van die hotel: ‘Hier is ’n paar honderd rand om vir daardie siek man se verblyf te betaal. Sorg asseblief goed vir hom. As dit nodig is, kry ’n dokter. As die geld te min is, sal ek later die res kom betaal. Ek kom binnekort weer hier oorslaap. Bêre al die rekenings vir my.’ BDKP
Die woorde, Ek kom binnekort weer hier oorslaap, tref my. Jesus sê, wil jy weet wat vrygewigheid in sy volheid is? Kyk hoeveel is iemand bereid om op te offer.
Kyk na die Samaritaan, hy is bereid om wat ook al dit kos, vir ‘n vreemdeling te gee.
3. Die Fariseërs en die weduwee in Markus 12
In Markus 12 sien ons ‘n kort beskrywing van Jesus in die tempel van Jerusalem.
Daardie spesifieke dag was die tempel vol met mense wat gekom en gegaan het.
Dit was soos spitsverkeer in ‘n besige stad. Dan lees ons:
Mark. 12:41 “Jesus het regoor die offerkis gaan sit en gekyk hoe die skare hulle geld in die kis gooi. In die proses het baie welgesteldes groot bedrae geld ingegooi.” NL
Iets tref my ook in hierdie sin – Wat maak Jesus hier? Wat het hulle offers met Jesus te doen? Wel, ek dink dit is hier om vir ons te wys dat Jesus eerstens weet wat ons gee en tweedens dat Hy weet hoe belangrik hierdie gedeelte van ons lewe vir God is.
Mark. 12:42-44 “Toe kom daar ’n brandarm weduwee en sy gooi net twee klein geldstukkies in. Daarop roep Jesus sy dissipels na Hom toe en sê vir hulle: “Weet vir seker, hierdie arm weduwee het meer in die offerkis gegooi as al die ander. Julle sien, almal het ingegooi vanuit hulle oorvloed, maar sy het, arm soos sy is, alles ingegooi wat sy gehad het, alles waarvan sy moes lewe.” NL
Verbeel jou vir ‘n oomblik Jesus het hierdie “teaching moment” met sy dissipels.
En Hy wys vir hulle al hierdie ouens wat baie geld ingooi en dan die weduwee.
In daardie kultuur was ‘n weduwee die mees kwesbaarste, magteloos en onbelangrike persoon in die gemeenskap. Die armste van die arm was die weduwees en die weeskinders.
En Jesus sê, Kyk wat sy doen! Haar twee kopermuntstukke is buitensporig vrygewig.
Hoekom? Sy alles ingegooi wat sy gehad het. Sy gee soos God gee.
Dit maak my persoonlik skaam. Want ek weet dat ek meeste van die tyd eintlik maar uit my oorvloed gee. Ek praat nie van my tiende nie. My tiende is die eerste deel van my inkomste wat ek vir God gee en dit behoort nie aan my nie maar aan Hom. As ek dit vir myself hou sê Maleagi 3:10 dan steel ek by God. Ek praat van wat ek meer as dit gee.
Nog steeds gee ek uit my oorvloed uit. Jesus se standaard vir vrygewigheid is: Niks is te veel, te groot of gemors as dit by finansiële offers vir Hom kom nie.
Buitensporig, generous gee is hoe Jesus was. Dink maar ook aan die vrou in Matt. 26 wat daardie duur parfuum oor Jesus gooi en Hom salf. Almal dink dit is ‘n vermorsing.
Maar nie Jesus nie, nee, nooit kan ek op God en Sy koninkryk geld vermors nie.
Net soos Jesus by die tempel gesit het, weet Hy alles wat ek vir Hom gee.
As Jesus ‘n finansiële adviseur was, watter raad sou Hy vir ons vandag gee:
1. Dink oor jou geskiedenis met geld.
Hoe het jy grootgeword met geld? Wat was jou ouers se siening oor geld? As jy in ‘n arm huis grootgeword het is sal vrees waarskynlik ‘n groot rol in jou lewe speel. Vrees dat jy nie genoeg sal hê nie. Vrees dat jy nie sal kan voorsien nie.
2. Raak ontslae van skuld.
Met uitsondering van huis skuld, as jy rustig wil gaan slaap in die aande sonder om wakker te lê oor jou skuld, begin om jouself stelselmatig skuldvry te kry.
Moenie wag tot daai skip inkom nie, want hy gaan waarskynlik sink voor hy in jou hawe aankom.
3. Moenie oor die 80% merk gaan nie.
Wyse mense met geld sal almal vir jou dieselfde ding vertel, leef met net 80% van jou inkomste. Meeste mense leef op 100% plus om by te hou met goed wat begeertes geraak het. Leer die beginsel van uitgestelde genot. Spaar voor jy geniet.
4. Maak voorsiening vir jou kinders se opvoeding.
Ons leef in ‘n tyd waar opvoeding alles geword het. In meeste gevalle is jou potensiële inkomste direk gekoppel aan jou vlak van opvoeding.
Die enkeles wat ryk erf of met matriek ‘n enorme besigheid ophou is die uitsondering.
5. Begin met jou tiende.
Wanneer dit by vrygewigheid in God se koninkryk kom is dit werklik die beginpunt.
Dit is soos baie ander dinge eenvoudig ‘n stap van gehoorsaamheid.
Dit is ‘n saak van vertroue dat God my sal seën met die 90% waaroor ek kan besluit.
Ek kan vir jou getuienis op getuienis gee oor my eie lewe en ook ander mense hier se lewe wat hierdie begin self begin toepas het wat sal vertel hoe God in staat is om jou 90% te rek na vêr meer as die 100% wat jy in die begin gehad nie.
God seën mense finansieel wat Hom eer met die eerste deel van hulle inkomste.
Niemand raak oornag vrygewig wanneer hulle nie eers sistematies begin het om elke maand vrygewig te wees nie. Ons tiende is amper soos ‘n oefening in vrygewigheid.
Onthou, jou hart volg jou geld en jou besittings, nie andersom nie.
Mag God ons wys hoe oorvloedig, vrygewig en buitensporig Hy is wanneer Hy gee.
God het nog altyd niks minder as Sy beste vir jou gegee nie.
Kom ons eer Hom ook met hierdie deel van ons lewe.
Kom ons raak ontslae van die greep van materialisme wat so maklik en subtiel in ons lewe inkruip.
Mag jy ervaar hoe God jou seën as jy Hom eer met die dinge wat Hy vir jou gegee het.