40 Dae reis na Paas – om terug te draai

[powerpress]

Ons gaan hierdie week die derde week in van ons 40 Dae Reis na Paas.

Die tema van hierdie week is: Om terug te draai na God toe.

Ons teksvers vir die week is ook:

Mark. 1:14-15    “Later, nadat Johannes gearresteer is, het Jesus na Galilea toe gegaan om God se Goeie Nuus aan te kondig. Hy het gesê: “Die tyd het aangebreek. God se koningsheerskappy gaan nou enige oomblik begin! Kom tot inkeer en glo die Goeie Nuus!”  NLV

Dit is hoe Jesus se eerste dissipels gekies is.  Dit is hoe Jesus mense uitgenooi het om na God toe te draai.  Nie met ’n veroordelende boodskap nie maar met ’n uitnodiging.

’n Uitnodiging nie om meer godsdienstig te raak nie. Nie die Fariseërs was goed daarmee.

Ook nie ’n uitnodiging dat as jy dit nie doen nie sal jy sekerlik in die hel brand.

Nee, ’n uitnodiging dat daar ’n beter manier van lewe is.

 

Bill Hybels het ’n manier daarom op een van twee maniere te vertel.

Een voorbeeld wat hy gebruik is om ’n leer te teken en dan voorbeelde van bekende mense daarop te sit wat goeie lewens leef en te vra waar jy jouself sien op daardie leer.

Die leer verteenwoordig ons pogings om vir God aanvaarbaar te wees.

M.a.w. ons wat probeer om by God se standaard uit te kom.

En natuurlik vaar ons sleg daarmee.  Niemand kan by God se hoë standaard uitkom nie.

Dan is die bottom line:  Ons kan nie die leer klim nie, want hoog genoeg kan ek en jy nie klim om by God se standaard uit te kom nie.

Ons Iemand nodig wat in ons plek daardie leer kan klim en voldoen aan God se standaard

 

Of hy gebruik die bekende kloof of afgrond.  Ons staan aan die eenkant en God aan die ander kant.  Ons het ’n dilemma – om met God versoen te word beteken dat ek by God moet uitkom maar ons oortredings en eie pogings skiet vêr tekort.

Op ons eie kan ons nie by God uitkom nie.  Ons het ’n brug nodig.

Iemand wat bereid is om ons met God te versoen.  Wat bereid is om ons pogings om by God uit te kom af te skryf en eenvoudig ’n brug of ’n plaasvervanger te wees sodat ons kan oorstap na God se kant toe en met Hom ’n verhouding kan begin.

 

Dit gaan gepaard met berou.  ’n Werklike berou of jammer wees dat ek my eie weg gevolg het en Jesus se uitnodiging nie aanvaar het nie.

Die woordjie bekering is nie om jou ‘act together’ te kry of om ’n nuwe blaadjie oor te slaan nie.

Dawid en Saul se terug draai na God toe:

2 Sam. 12:1-13  “Die Here het toe die profeet Natan na Dawid toe gestuur. Hy het by Dawid gekom en vir hom vertel: “In ’n bepaalde dorpie was daar twee mans. Die een was ryk en die ander arm. Die ryk man het troppe kleinvee en beeste besit. Die arm man het niks besit nie behalwe ’n klein ooilammetjie wat hy gekoop het. Hy het haar versorg en saam met sy kinders grootgemaak. Sy het van die oorskietkos geëet, uit sy beker gedrink en op sy skoot gelê. Sy was vir hom soos ’n dogter. Op ’n dag kom daar ’n besoeker by die huis van die ryk man aan. Hy wou nie ’n skaap uit sy eie kudde vang en as kos voorberei nie. Toe neem hy die arm man se ooilam, slag dit en berei dit voor vir die gas.”

Dawid was woedend. “So seker as wat die Here leef,” sê hy vir Natan, “die man wat dit gedoen het, verdien die dood! Hy moet met vier lammers vergoed vir die ooilam wat hy gevat het en ook omdat hy geen medelye gehad het nie.”

Toe antwoord Natan vir Dawid: “Jy is daardie man! Die Here, die God van Israel, sê: ‘Ek het jou tot koning van Israel gesalf en jou uit die mag van Saul gered. Ek het sy huis vir jou gegee, asook sy vroue en die koninkryke van Israel en Juda. En, as dit nie genoeg was nie, sou Ek jou nog baie meer gegee het. Hoekom het jy dan die woord van die Here geminag en hierdie verskriklike ding gedoen? Jy het Urija die Hetiet met die swaard laat vermoor en sy vrou gevat. Jy het hom deur die swaard van die Ammoniete doodgemaak! Van nou af sal die swaard ’n permanente bedreiging vir jou familie inhou omdat jy My verag het en Urija se vrou vir jouself toegeëien het.

“Omdat jy dit gedoen het, sal Ek, die Here, toesien dat jou eie huis ellende oor jou bring. Ek sal jou vroue voor jou oë vir ’n ander man gee, en hy sal oop en bloot, in die helder daglig, by hulle gaan slaap. Jy het dit in die geheim gedoen, maar Ek sal dit openlik voor die hele Israel doen.”

Toe bely Dawid sy skuld en sê vir Natan: “Ek het teen die Here gesondig.”

Natan antwoord hom: “Die Here het jou sonde vergewe sodat jy nie oor hierdie sonde sal sterf nie.

 

Wat is die verskil tussen Dawid en Saul?  Beide was moordenaars gewees. Beide het teen God gesondig.

Ja, die Dawid, wie se Psalms ons so graag sing en wie se gedigte soos Ps. 23 ons lees was ’n moordenaar.  Hy het ’n ander man doodgemaak sodat hy sy vrou kon hê.

Maar die verskil tussen Saul en hom was die omdraai.  Saul was ook nie werklik jammer nie.

 

Maar werklike berou is wat hulle geskei het.

“Repentance is more than just sorrow for the past; repentance is a change of mind and heart, a new life of denying self and serving the Savior as king in self’s place.”  J.I. Packer

Dit is ’n lewenslange proses.  Berou laat God weer toe om God te wees in my lewe.

Berou laat my besef dat ek besig is om my lewe te vernietig.

Dat my eie keuses swak is om die minste te sê.  Dat ek my eie kop volg.

 

Maar hier is die groot besef – dit is nie net ’n eenkeer besef wat moet kom nie.  Dit ook.

Hoe dikwels volg jy jou eie kop?  Hoe dikwels maak jy verkeerde besluite?

Hoe dikwels is daardie plaasvervangers in jou lewe waarvan ons verlede week van gepraat het?

Hoe gereeld is daardie stryd in jou binneste aan die gang tussen MY manier en God se manier?  ELKE DAG.

 

Deel van hierdie Lydenstyd reis waarop ons is, is om weer ’n geestelike gesondheidstoets te doen en myself te vra:  Waar soek ek die geluk in my lewe op hierdie oomblik?

As ek baie eerlik moet wees – wat dink ek vandag, sal my gelukkig maak?

Wat is die rigting van my gedagtes vandag?  Is dit God se gedagtes of my eie gedagtes of dalk selfs die vyand se gedagtes?

 

Om om te draai – in hierdie sin van die woord gaan nie oor my redding nie.

Joh. 3:16  “Want so lief het God die wêreld gehad, dat Hy sy eniggebore Seun gegee het, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê.”  AFR53

Om terug te draai, is eerder die stryd waarvan Paulus in Rom. 7 van praat:

Rom. 7:15 “Ek begryp self nie wat ek doen nie, want wat ek wil doen, dit doen ek nie, maar wat ek haat, juis dit doen ek.”  AFR83

Om terug te draai – beteken dat ek weer besef dat hierdie kragtige werking in my weer aan die gang is.  My way – het weer vir my te belangrik geword.

Die plek waar ek my geluk soek – het baie stadig en baie subtiel – weer verander.

My gedagtes het heel onskuldig en onbewustelik weer BAIE VÊR van God se gedagtes geraak.

My hart is vol dinge wat nie God se hart is nie.  Oordeel, kritiek, liefdeloosheid.

 

Mark. 13:13        “Maar wie volhard tot die einde toe, hy sal gered word.”  AFR53

Waarvan praat hy hier?  Hy praat van hierdie stryd wat in ons binneste aan die gang is.

Die EKKIGE EK – en die NUWE SKEPSEL EK.  Die nuwe mens.

Van hierdie spanning raak ons nie ontslae in hierdie lewe nie.

Ek wil weer terugkom na Dawid en Saul.

Hoe het Saul teruggedraai?  Hy het eers lang stilgebly.  Daarna het daar ’n belydenis gekom maar hy het dit maar gedoen omdat Saul hom gevra het om dit te doen.

Dan weier hy om verantwoordelikheid te neem vir sy dade en hy blameer ander mense.

Sy terugdraai na die Here toe was net tydelik – hy het nie die pad aanhou stap nie.

 

Dawid daarteenoor se terugdraai was eg.  Werklike berou.  Werklike verantwoordelikheid neem vir sy foute.  ’n Diep besef dat hy sy rug eintlik weer op God gedraai het.

Dat hy dinge in sy eie hande geneem het.  Sy eie planne gemaak het.

Dat hy sy geluk op ’n ander plek gaan soek het.

Dat sy hart nie meer soos God se hart lyk nie.

Hier waar ons nou vandag uitgekom het in ons 40 Dae Reis na Paas, is ’n geestelike gesondheidstoets.  ’n Voorraadopname – in watter rigting is jou lewe op pad vandag?

En dalk is dit die totale rigting van jou lewe.

Maar miskien is dit die stryd wat vanoggend in jou binneste aan die gang is oor iets wat baie subtiel en baie ongemerk in jou lewe ingeglip het.

En die oplossing is nie om harder te probeer en weer ’n nuwe blaadjie oor te slaan nie.

Die oplossing is om oor te gee.  Om berou te hê.  Om te erken dat jy jou eie kop gevolg het.  Om te bely soos Dawid bely het.

Ps. 51:11-12      “Moenie let op my sondes nie, en wis al my oortredings uit.  Skep vir my ’n rein hart, o God. Gee my ’n nuwe, standvastige gees.”  NLV