50 Dae van HOOP – Week 3: Waar kom lewende HOOP vandaan?

 

 

Jy moet baie versigtig wees wie se beloftes jy glo… As jy iemand se woord ernstig opneem wat jou wil benadeel het jy groot moeilikheid.

Dink maar aan die vinnig-ryk-word-skemas.  So elke nou en dan wen ek die Britse lotto.

450,000 pond.  Dit is amazing, hulle ken my epos adres.  Nou wie sal nie sulke geld wil wen nie?  Net jammer hulle kom nie deur nie of hulle wil eers geld van my af hê voordat ek hulle miljoene kan wen.

Advertensies van werke en besighede wat jou in die eerste maand al R50,000 sal laat verdien.  Regtig?

Sekere beloftes is nie die papier of skerm waarop die geskryf staan werd nie.

Aan die ander kant was daar al die wonderlikste seëninge vir mense wat iets aan mekaar belowe en dan daardie belofte gestand doen. Dink aan voorbeelde van mense wat huweliksbeloftes aan mekaar aflê en dan die vrug beleef van ʼn huwelik wat dekades geseënde intimiteit lewer. Só ook ʼn besigheidsvennootskap waar daar besonderse sinergisme is tussen mense.

1 Pet. 1:3-6;9     “Aan God, die Vader van ons Here Jesus Christus, kom al die lof toe! In sy groot ontferming het Hy ons die nuwe lewe geskenk deur die opstanding van Jesus Christus uit die dood. Nou het ons ’n lewende hoop op die onverganklike, onbesmette en onverwelklike erfenis wat in die hemel ook vir julle in bewaring gehou word.  En omdat julle glo, word ook julle deur die krag van God veilig bewaar vir die saligheid wat reeds gereed is om aan die einde van die tyd geopenbaar te word.  Verheug julle hieroor, selfs al is dit nodig dat julle ’n kort tydjie bedroef gemaak word deur allerhande beproewings sodat die egtheid van julle geloof getoets kan word. v.9  Hom het julle lief, al het julle Hom nie gesien nie. Deur in Hom te glo, al sien julle Hom nou nie, het julle reeds deel aan die saligheid wat die einddoel van julle geloof is. En dit vervul julle met ’n onuitspreeklike en heerlike blydskap.” AFR83

Ons het ʼn brief gelees wat geskryf is van ʼn groepie gelowiges wat verspreid woon in die Noorde en Weste van Klein-Asië – die huidige Turkye.

Hulle is uit hulle vorige godsdienste geskud toe hulle die wonderlike evangelie van Jesus

se sterwe en opstanding gehoor en dit aangegryp het.  Dit het hulle lewens verander: hulle het God nuut leer ken, hulle is vrygemaak van sonde en skuld, hulle het deel geword van die huisgesin van God, hulle het die krag van die evangelie en die opstanding fisies beleef…

En toe kom dit: erge diskriminasie.  Dit was nog voor die vervolging begin het.

Meeste van hierdie eerste gelowiges was ook slawe wat onder slegte base gewerk het.

Hulle gaan deur beproewing (4:12), hulle word onverdiend gestraf (2:20), hulle word gespot oor hulle toegewyde lewens (4:4), hulle ly… Nou is dit nie meer lekker nie.

Nou begin hulle wonder of dit nie maar beter was om weer terug te gaan na hulle vorige godsdienste nie. Hulle verloor iets van hulle eerste vreugde en entoesiasme.

Petrus sê vir hulle: “Glo! Hoop! Wees bly!” Daar is Iemand wat ʼn onbreekbare belofte van ʼn wonderlike hemelse erfenis aan julle gemaak het. En weet julle wat? Hy is volkome betroubaar. Julle kan reken op elke woord uit sy mond.

Num. 23:23        “God is nie ʼn mens dat Hy sou lieg nie…”

Beleef ons dit nie ook so partykeer nie.

In die begin is dinge so eenvoudig.  Die oplossings is eenvoudig.

Maar later raak dinge moeilik, meer kompleks, onkeerbaar.

Soms voel dit of dinge eintlik beter was toe jy nie ‘n kind van God was nie, nou word dinge net tawwer en tawwer omdat jy eintlik iets glo en ook opstaan vir dit wat jy glo.

Voorheen was daar nie standaarde en waardes waarvolgens jy geleef het nie, en nou?

Nou is die dinge iets wat vir jou bespotting, vervolging en diskriminasie bring.

Skielik val daar skaduwees op jou nuwe geloof.  Moeilike omstandighede maak dit swaar; daar is onverhoorde gebed; twyfel vrae spring in jou gedagtes op…

Hoekom werk dinge nie vir my uit nie?  Hoekom is alles so gesukkel?

Jy sien ek dink ons word geleer om nie heeltemal eerlik te wees met wat in ons binne wêreld aan die gang is nie.  Nie eers teenoor die mees intiemste mense in ons lewe nie.

Vir baie van ons ervaar ons dood, in plaas van lewe.

Ons ervaar wanhoop in plaas van HOOP.

Ons beleef twyfel en ongeloof i.p.v. geloof en sekerheid.

Waar kom HOOP vandaan?  Hoe lyk lewende HOOP?

Die N.T. se idee van HOOP is heeltemal anders as ons normale idee van HOOP.

Ons maak stelling soos “Ek hoop so.”

M.a.w. ek begeer iets in die toekoms waaroor en onseker is.

Maar wanneer die N.T. praat van hoop bedoel hy:

Hebr. 6:11“Maar ons verlang dat elkeen van julle dieselfde ywer mag toon om te kom tot die volkome sekerheid van die hoop tot die einde toe.”  AFR53

Hy praat nie daarvan dat ons iets moet begeer waarvan ons onseker is nie.

Die feit dat Jesus weer gaan kom aarde toe in iets waarvan die N.T. skrywers absoluut seker is.  Hulle het Hom self gesien sterf en opstaan en gehoor dat Hy dit sê.

N.T. hoop is ‘n volkome sekerheid, ‘n vaste vertroue dat God goed vir ons is.

Maar daar is iets selfs meer wonderlik oor HOOP volgens Petrus.

Hy noem dit lewende HOOP.  Wat beteken dit?

Die teenoorgestelde sou DOOIE HOOP wees.  En as daaraan dink dan kom Jakobus 2 by jou op wat praat van dooie geloof.  En wat sê hy is dooie geloof?

Jak. 2:26   “So is die geloof wat nie tot dade kom nie, ook dood.”  AFR83

So lewende HOOP deur analogie is vrugbaar, produktief en aktief.

Lewende HOOP het krag en bring verandering in ‘n mens se lewe.

Hoe kom hierdie lewende HOOP in ons harte?

1 Pet. 1:3  “…het Hy ons die nuwe lewe geskenk deur die opstanding van Jesus Christus uit die dood.”

M.a.w. ons HOOP kom van die feit dat ons nie meer dieselfde mens is as wat ons was voordat ons Christus ontmoet het nie.

Die historiese opstanding van Jesus uit die dood word gekoppel aan my nuwe lewe wat ek ontvang het toe ek tot wedergeboorte gekom het.

Dieselfde gebeur natuurlik met die doop wat ons oor so twee weke weer gaan vier.

Rom. 6:3-4         “Of weet julle nie dat ons almal wat in Christus Jesus gedoop is, in sy dood gedoop is nie? Deur die doop is ons immers saam met Hom in sy dood begrawe, sodat, soos Christus deur die wonderbaarlike magsdaad van die Vader uit die dood opgewek is, ons ook so ’n nuwe lewe kan lei.”  AFR83

Jesus se fisiese opstanding word gekoppel met my lewe hier op aarde.

En hierdie wete bring vir my HOOP.  Hoekom?

Want Christus IN MY is die lewende HOOP wat ek het.  Dit is my bron.

Nie enige ding wat in hierdie wêreld vir my soms so groot lyk dat alles verby is nie.

Dit beteken dat elke oortreding van my kant af nie hierdie HOOP kan blus nie.

Dit beteken dat elke vervolging en diskriminasie in hierdie wêreld nie die HOOP wegneem nie.

Dit beteken dat my erfdeel, dit wat God belowe het veilig is en dat Hy my ook veilig sal hou totdat ek hierdie erfdeel in Sy volheid kan besit neem.

Dit beteken dat ek nie ‘n arme sondaar is wat worstel hier op aarde nie maar ‘n koningskind wat tydelik deur Hom gebruik wil word hier op aarde.

Christus IN MY is die lewende HOOP wat ek het.

Jy het ‘n nuwe geboorte gehad toe jy besluit het om Jesus Christus te volg met jou hele lewe.  Dit beteken dat hierdie onverganklike saad.  Saad van HOOP binne in jou is.

Niemand kan dit by jou steel nie.

Dit beteken dat dit nie onseker is nie, dat daar volkome sekerheid en vaste sekerheid is dat Christus nou deur sy Heilige Gees in jou woon.

Volkome sekerheid dat die bron van HOOP nie iewers is nie maar BINNE IN MY.

As dit jou nie op gewonde maak nie, is daar iets fout met jou.

Christus IN MY is die lewende HOOP wat ek het.

“Ek het altyd hoop. Al weet ek nie wat die toekoms inhou nie, weet ek in wie se hande die toekoms is.” Jones

Illustrasie van helium ballonne:

1ste ballon:  Hierdie ballon is so 3-4 dae gelede gevul met helium.  (Pap)

2de ballon:  Hierdie ballon is eergister gevul met helium.  (lui hanggerig)

3de ballon:  Hierdie ballon is gister gevul met helium.  (styg op).

Hier is die les in hierdie illustrasie:

Die Israeliete is beveel om elke oggend nuwe manna op te tel.  Hulle kon dit nie oorhou tot more nie.  Een keer het hulle nie geluister nie en toe het daar miet in dit gekom.

Eks. 16:21          “Hulle het dit vroeg elke oggend bymekaargemaak, volgens elkeen se behoefte, maar net as die son begin bak, het dit weggesmelt.”  AFR83

Later is die N.T. word die manna vergelyk met die lewende Brood wat ons by God kry deur Sy woord.

Wat het dit met HOOP te doen?  Hoop is soos hierdie ballonne.  As die bron van HOOP Christus is.  Dan moet jy daagliks by die bron van jou HOOP uitkom.

Anders is dit nie ‘n lewende verhouding nie.  Ander bly dit nie lewende HOOP nie.

Die lewe, pessimiste om jou, onregverdigheid, diskriminasie, sal die HOOP in jou kom steel deur jou dag.

Voor jy jou kan kry sal jou HOOP lyk soos hierdie ballon. (pap een).

Maar jou tyd saam Jesus elke dag, sal die lewende HOOP in jou laat groei.

Jou tyd in Sy lewende Woord, sal lewe aan jou HOOP en GELOOF gee.

Dit is nie ‘n een keer geleentheid en ek het ‘n ballon vol HOOP vir ewig nie.

Allermins, elke dag lek HOOP uit my hart, raak ek moeg, kom ek in aanraking met gebrokenheid, maak dinge nie sin nie.

Dan moet ek gaan sit, nie om kennis op te doen nie.  Nie om te lees sodat ek my Bybel in 3 maande deur kan lees nie.

Ek moet gaan sit en bewus raak van Christus IN MY is die lewende HOOP wat nodig het.

“Geloof klim teen die trappe op wat liefde gebou het en sien die toekoms deur ‘n venster wat hoop oopgemaak het.”  Charles H. Spurgeon

http://www.ignitermedia.com/products/3787-hope-is-here