Johan Smith – Ouerskap

[powerpress]

Ligdraers – Dankbaar en vrygewig

[powerpress]

Onderhoud met Esme van Hannah’s Arms

[powerpress]

Hierdie is ‘n onderhoud wat met Esme Chesworth van Hannah’s Arms gevoer is deur Steve Rootman op 28 Augustus 2016.

Hannah’s Arms is ‘n organisasie wat verlate babas versorg en Impetus samel benodighede in vir hulle gedurende die MOVE reeks.

Lees gerus meer van hulle op hulle webblad.

http://www.hannahsarms.org/

Die Heilige Gees – Deel 2: Persoon en werk (1)

[powerpress]
(Agv ‘n tegniese fout is die eerste paar minute van die opname swak kwaliteit.)

Verlede week het ons begin kyk na die persoon van die H.G. en gaan die week verder.  Voordat ‘n mens die werk van die Heilige Gees reg kan verstaan moet jy eers die Heilige Gees as persoon verstaan en leer ken.

Wat van grootste belang is, is dat ons die Heilige Gees sal erken as een van die persone van die Drie-eenheid wat waardig is van ons aanbidding, ons geloof en liefde.  En wat ook waardig is om ons volle oorgawe aan Hom te gee.

As ons dit nie doen nie, dan beroof ons onsself van die primêre openbaring van God wat ons op hierdie stadium in die geskiedenis beleef.

Verlede week het ons oor die drie verskillende openbarings van God gesels.

Die Vader as skepper.  Die Seun as redder.  Die Heilige Gees as Voorspraak, Trooster, Heiligmaker.  Elke keer was daar ook ‘n belofte van nog een wat sal kom.

As ons net aan die H.G. sou dink as ‘n krag of as God se teenwoordigheid dan sal ons konstante gedagtes wees, Hoe kan ek meer van die Heilige Gees kry?

 

Maar as ons aan Hom dink op ‘n Bybelse manier as een van die Godheid, sal ons gedagtes eerder wees, Hoe kan die Heilige Gees meer van my kry?

As Hy net ‘n krag of simbool is van God se teenwoordigheid dan begin dit gaan oor myself en hoe Hy my kan help in hierdie wêreld.

Maar as Hy ‘n persoon is, dan begin ek meer van myself oorgee aan Hom sodat Hy my kan verander.  Die volledige transformasie van my lewe kom nie deur ‘n teologiese verstaan van dinge nie maar deur die ervaring dat die Heilige Gees my meer soos Jesus laat dink en my meer soos Jesus maak.

Ons vra die persoon van die Heilige Gees in ons lewe om ons bewus te maak van Sy werk in ons.  Ons nooi nie die gawes in ons lewe in nie.  Ons wil bewus word van ‘n Persoon van die Drie-eenheid wat in ons lewe.

In Lukas 3 sien ons met Jesus se doop die Drie-eenheid in werking.

Luk. 3:21-22      “Eendag toe die skares gedoop word, is Jesus self ook gedoop. Terwyl Hy bid, het die hemel oopgegaan, en die Heilige Gees het fisies soos ’n duif op Hom neergedaal. En ’n stem uit die hemel het gesê: “Jy is my geliefde Seun. Jy is ’n kind so na my hart.”  NLV

 

Die Vader spreek vanuit die hemel, oor Sy Seun wat mens geword het en die Heilige Gees het die vorm van ‘n duif aangeneem en op Jesus neergedaal.

Jesus was deur die Vader gestuur.  Die H.G. is deur Jesus gestuur.

Jesus het net gedoen en gesê wat die Vader vir Hom gesê het.

Joh. 7:16  “Jesus het vir hulle gesê: “Wat Ek die mense leer, kom nie van Myself af nie, maar van Hom wat My gestuur het.”  AFR83

 

Op dieselfde wyse sê en doen die H.G. dit wat Jesus gesê en gedoen het.

Joh. 16:13-14    “Wat Hy sal sê, sal nie van Homself kom nie: Hy sal net sê wat Hy hoor, … Hy sal My verheerlik, want wat Hy van My ontvang, sal Hy aan julle verkondig.”  AFR83

So, die Heilige Gees tree nie onafhanklik van die Vader en Seun op nie.  Hy verheerlik ook nie Homself nie maar Jesus wat Hom gestuur het.

Die werk van die Heilige Gees:

Daar is baie mense wat dink dat die H.G. se werk beperk is tot die mens.

Maar die Bybel vertel ons dat die H.G. se werk baie wyer as dit is.

  1. Die Heilige Gees was betrokke by die skepping

Ons lees in die skeppingsverhaal van Genesis 1 dat God gepreek het en daar was geskep.

Job. 33:4  “Die Gees van God het my gemaak, die asem van die Almagtige gee my lewe.”  NLV

Dit wat lewe gebring en gegee het in die Skepping was die H.G.  Elke lewende wese en ding het gebeur a.g.v. die werk van die H.G.

Die Vader werk in Sy Seun deur die Heilige Gees.

 

  1. Die Heilige Gees gee ook lewe in die heelal

Nie net was die H.G. betrokke by die skepping van alles wat lewe nie maar ook vandag nog is die H.G. die persoon wat lewe gee vir alle lewende wesens.

Ps. 104:29-30    “Maar as U U terugtrek, is dit klaar met hulle, as U hulle asem wegneem, is hulle dood en word hulle weer stof. U gee die lewensasem en daar is lewe; ook uit die grond laat U nuwe lewe spruit.”  AFR83

 

Dit wat bestaan, het gekom a.g.v. die Heilige Gees en dit voorbestaan in die heelal is a.g.v. die werk van die Heilige Gees.

Dit beteken nie dat God die heelal is nie.  Dit is ‘n panteïstiese of boeddhistiese siening.

Nee, die Bybel sê, die heelal bestaan a.g.v. God en Sy teenwoordigheid in die heelal deur die Heilige Gees.

 

  1. Die Heilige Gees bring oortuiging

Enige oortuiging dat daar ‘n God is, in die eerste plek, dat ons verlore is sonder Hom, dat ons in Hom moet glo – kom deur die werk van die Heilige Gees.

Joh. 16:7-11      “Maar Ek sê julle die waarheid: Dit is vir julle voordelig dat Ek weggaan; want as Ek nie weggaan nie, sal die Trooster nie na julle kom nie; maar as Ek weggaan, sal Ek Hom na julle stuur; en as Hy kom, sal Hy die wêreld oortuig van sonde en van geregtigheid en van oordeel: van sonde, omdat hulle in My nie glo nie; en van geregtigheid, omdat Ek na my Vader gaan en julle My nie meer sal sien nie; en van oordeel, omdat die owerste van hierdie wêreld geoordeel is.”  AFR53

 

Die H.G. het gekom soos Jesus belowe het.  En die H.G. het die wêreld kom oortuig van sonde, geregtigheid en oordeel.

Die H.G. bring oortuiging in mense se harte.  Net die H.G. kan ‘n mens oortuig van sonde.  Ons eie hart is bedrieglik en mislei ons heel gereeld.

 

Dink maar net hoe maklik en natuurlik is dit nie om ander se foute raak te sien en uit te wys nie.  Maar wanneer dit by ons eie foute kom, is ons blind en ontken ons dikwels ons eie tekortkominge.

Hoe meer ‘n mens met die menslike natuur te doen kry, hoe meer besef jy hoe hopeloos dit is om ander te wys op hulle foute.  Ons kan dit nie doen nie en God wil ook nie hê dat ons dit moet doen nie.  Hy plaas hierdie werk in die hande van die H.G. wat meer as weet, hoe om dit te doen.

Die Heilige Gees kan die mees verharde en geestelike blind persoon oortuig van sonde.

Wat is hierdie sonde?  Die sonde van ongeloof in Jesus Christus.

Joh. 16:9  “Die wêreld is skuldig aan sonde, want die wêreld glo nie in My nie…”  AFR8

Die H.G. kan ‘n mens verander van iemand wat net glad nie omgee nie (indifference) na iemand wat ‘n oorweldigende behoefte het aan ‘n Redder.  Iemand wat hulle kan red van hul verlorenheid.

 

Hoe gereeld is ons nie ook dalk skuldig aan hierdie sonde nie?  Dat ek Hom nie glo vir dit wat Hy vir my sê nie?

God se raad, “plaas My eerste, dan sal jy sien hoe jou verhoudings, jou finansies, jou emosies, jou gesondheid reg kom.”

Maar wat doen ons?  Ons vertrou Hom nie 100% nie.  Hoe kan God se raad vir verhoudings, vir finansies, vir gesondheid reg wees?  Hy weet tog nie beter as ek nie?

Daardie oortuiging, daardie geloof en vertroue kom deur die H.G.

En ons hoef nie moedeloos te raak as ons na mense kyk nie.  Maak nie saak hoe hard, hoe “don’t care” hulle is, hoe selfgerig hulle is – Die H.G. kan mense oortuig van sonde.

 

  1. Die Restourasie (vernuwings-) werk van die Heilige Gees

Die H.G. vernuwe ons, Hy maak ons nuut, en reinig ons deur wedergeboorte.

Titus 3:5   “Hy het ons verlos, nie op grond van wat ons gedoen het vir ons vryspraak nie, maar slegs op grond van sy eie ontferming. Dit het Hy vermag deur die reiniging van die weergeboorte en deur die Heilige Gees wat ons vernuwe.”

Wat is hierdie restourasiewerk wat die H.G. doen?

Die vernuwing is die meedeling (impartation) van lewe, geestelike lewe in hulle wat geestelik koud of dood geraak het.

Efes. 2:1   “En julle het Hy lewend gemaak, wat dood was deur die misdade en die sondes.”  AFR53

Hierdie transformasie, verandering of vernuwingswerk kom deur die H.G. wat in ons lewens werk.  Die Here se Woord is die primêre instrument wat die H.G. gebruik om ons te vernuwe en te verander.

Daarom, as jy nie in die Woord is elke dag van jou lewe nie, kan die vernuwingswerk wat die H.G. wil doen nie gebeur nie of die pas waarteen die H.G. sy werk kan doen is soveel stadiger.

1 Pet. 1:23          “Die nuwe lewe wat God gegee het, is vir ewig, want dit kom van die ewige en lewende woord van God.”  NLV

Die Woord is die instrument wat God gebruik vir vernuwing.  Maar die H.G. is die persoon wat die instrument gebruik om die restourasie of vernuwing te bring.

Die Gees maak die Woord vir ons lewendig.  Sonder die H.G. se werk in ons, is ons soos iemand wat met ‘n bril lees wat heeltemal te sterk of te swak is.

Ons kan net eenvoudig nie uitmaak wat daar staan en wat dit vir ons beteken nie.

Of anders gestel, die H.G. plaas die nuwe natuur van God in ons wedergebore lewens.

Maak nie saak hoe goed jou ouers jou grootgemaak het, hoe mooi jy lewe nie, ons almal word gebore in ‘n wêreld wat aangetas en vervalle is a.g.v. sonde wat die wêreld binnegekom het.

1 Kor. 2:14         “Die natuurlike mens kan nie hierdie waarhede toe-eien wat van die Gees van God kom nie. Dit klink vir hulle onsinnig. Hulle kan dit nie verstaan nie, want hierdie dinge moet vanuit ’n geestelike perspektief verstaan word.”

Ons leef met ‘n wil wat korrup is.  Die eie-ek wil vir homself leef, nie vir God nie.

Die ekkige-ek stel sy eie bedrieglike motiewe eerste voor enigiets.

Die H.G. is die een wat die herstel of vernuwing bring.

Ons kry gedagtes wat in harmonie met die wil van God is.

Ons hart begin klop nie meer vir ons eie plesier en dinge nie maar vir God en dit wat Sy hart bly maak.   Soos Jesus begin ons sê:

Joh. 4:34  “My voedsel is om die wil te doen van Hom wat My gestuur het, en om sy werk te voltooi.”  AFR83

 

Geen preek, of Bybelstudie vernuwe tensy die H.G. die werk van vernuwing doen nie.

Jou hart is die grond.  Die Woord is die saad.  Die wat die Woord bring of met jou deel is die saaiers.  MAAR dit is die H.G. wat die saad laat ontkiem en Christus in ons vorm.

Die H.G. restoureer jou na die oorspronklike skeppingsdoel toe wat God gehad het toe Hy jou geskep het en gevorm het.

Hy het die krag om ‘n totale nuwe natuur in jou te skep.  Amper soos toe God gesien het daar was duisternis en Hy gesê het, “laat daar lig wees.”

So kom dieselfde H.G. en met die spreek van ‘n woord bring Hy lig in die donker areas van jou hart.

Die H.G. is die een wat ‘n verlore, slegte, korrupte persoon vat en God se natuur in hom sit deur wedergeboorte en hom ‘n nuwe natuur gee wat net groei en groei.

Sonder die vernuwende krag van die H.G. in ons lewens kan ons nie in God glo nie, kan ons nie gered word nie, kan ons nie verander nie.

 

Die vernuwingswerk van die H.G. is so fantasties.

Enige hoop dat ek dit kan doen deur ‘n nuwe bladjie oor te slaan vernietig Hy.

Want dit is nie genoeg nie.  God moet iets nuuts in jou gees doen.

Enige hoop dat kerkbywoning of goeie dinge wat ek doen dalk genoeg is oortuig Hy my, dit is nie waaroor dit gaan nie.  Ek moet die vernuwingswerk van die H.G. in my lewe begin toelaat.

 

Uiterlike verandering en om jou ongeduld en humeur te beteuel is nie genoeg nie.

‘n Nuwe Hoop is nodig.  ‘n Nuwe lewe is nodig.

‘n Lewe wat oorgegee is aan die derde persoon in die Godheid.

‘n Lewe wat die restourasie en vernuwingswerk van die H.G. ervaar en begeer.

‘n Lewe diep bewus van die inwonende teenwoordigheid van God se Gees in haar lewe.

Die H.G. skep nuwe lewe.  Die H.G. herstel dit wat die vyand verwoes het.

Hoe groot is jou oes?

[powerpress]

’n Ou boer het ’n seun gehad maar die seun was maar so bietjie soos die verlore seun in Lukas 15.  Hy het sy lewe geniet en altyd kortpaaie gesoek vir dinge in die lewe.

Dit was ook nie lank nie of die boer se seun het in die moeilikheid met die gereg geraak en moes tronk toe gaan vir ’n hele paar jaar.

Terwyl die seun in die tronk is skryf sy pa toe vir hom ’n brief wat min of meer so gaan:

My liewe seun, hierdie jaar sal ek nie kan aartappels plant nie, want ek is al oud en ek sal nooit die land alleen kan om ploeg nie, ek weet as jy hier was, sou jy my kon help.

Die baie slim maar skelm seun skryf toe terug: “Pa, moet asb. nie eers dink om die lande om te ploeg nie, want dit is waar ek die geld begrawe het.”

Die owerhede het die briewe gelees en die volgende dag het hulle begin om die ou boer se hele plaas omgeploeg om te soek van die geld wat die seun kwansuis iewers begrawe het.  So week later skryf die seun weer… “Pa, plant nou die aartappels, dit is die beste wat ek van hierdie kant af, sal kan doen.”

Lukas 8:5-8       “’n Boer het uitgegaan om saad te saai. Terwyl hy dit oor die land gestrooi het, het ’n deel op ’n voetpad geval waarop getrap word en die voëls het dit kom eet. ’n Ander deel het in vlak grond op ’n klipbank geval. Hierdie saad het begin groei, maar het gou verlep en verdroog omdat daar nie vog was nie. Nog ’n deel het geval waar dorings opgeskiet en die nuwe blare versmoor het. En ’n ander deel het in vrugbare grond geval. Hierdie saad het gegroei en het ’n oes gelewer 100 maal soveel as wat geplant is.”

Luk. 8:11-15      “Die saad is God se boodskap. Die saad wat op die harde pad geval het, is die mense wat die boodskap hoor, maar dan kom die duiwel en steel dit en verhoed hulle om te glo en verlos te word. “Die klipperige grond is mense wat die boodskap met blydskap aanhoor. Maar soos jong plantjies in sulke grond het hulle nie diep wortels nie. Hulle glo wel vir ’n rukkie, maar hulle verlep wanneer die warm winde van beproewing waai. “Die saad tussen die onkruid is mense wat die boodskap hoor en ook aanvaar, maar tog te gou word dit verdring deur die sorge en rykdom en plesiere van hierdie lewe. En só groei hulle nooit tot volwassenheid nie.  “Maar die saad wat in goeie grond val, is mense met ’n goeie en opregte hart wat God se boodskap hoor, daaraan vashou en konstant ’n groot oes oplewer.”

Daar is ‘n paar dinge wat my opval in hierdie verhaal.

Die betekenis hiervan nogal baie diep.  Die saad is eenvoudig die goeie nuus van God se koninkryk wat moet kom in elke mens se lewe.

Elke saadjie verteenwoordig die groei wat in iemand se lewe plaasvind na die beeld van Jesus Christus, hy is ons rolmodel.  Maar ook die saad wat ons saai in ander se lewens.

En dan vir baie redes alhoewel daar baie saad gesaai word, is daar redes hoekom hierdie saad nie ontkiem nie.

En deel van Jesus boodskap is: moenie mismoedig raak nie.

Daar is nie fout met die saad of die boodskap nie.

Sommige van die saad gaan wel op goeie grond val.  Iemand sal wel op die ou einde ontvanklik wees en die saad sal groei en dit gaan ’n pragtige boom of oes wees.

Die sommetjie van Jesus se storie wat my nogal pla.

Jesus vertel die storie, Hy kon dit vertel op enige manier wat Hy wou.

Maar Jesus vertel dit met ’n “saad-sterfte-verhouding” as jy dit so kan beskryf.

Hy kon gesê het die saad ¼ van die tyd nie groei nie, of helfte van die tyd.

Maar Hy kies ’n 75% saad-sterfte-verhouding wat nogal hoog is.

Die boom wat groei, is die saad wat ontkiem is ’n hart wat oop en ontvanklik is vir die dinge wat God in daardie persoon se lewe wil doen.

In die werk wat ek doen, is dit iets wat ek gereeld sien.

Mense wie se totale lewensrigting begin verander.

Hulle kry ’n nuwe rigting in hulle lewe.  Hulle kry ’n doel waarvoor hulle opstaan elke dag.

Ek is een van die mense wat glo dat almal se lewe beter sou wees as God in die middel of senter van daardie persoon se lewe is.

Nou, as jy een van vandag se kommersiële boere is of in besigheid is en jy het nie geloofsoë om na dinge te kyk nie dan is hierdie ’n baie slegte scenario.

Vir jou sal die boom of die saad wat ontkiem ’n nuwe produk of unieke besigheidsgeleentheid wees of ’n groot oes wat inkom.

Vir my as ’n pastoor is dit om meer bome te sien hierdie jaar as verlede jaar.

Meer saad wat in mense se lewens ontkiem.  Meer getransformeerde lewens.

Maar as ek dink aan die saad wat nie ontkiem nie en die verhouding is 3 uit 4 dan voel ’n mens mismoedig.

Om te dink dat nie net helfte van die saad gaan nie ontkiem nie maar driekwart van die saad wat gesaai word gaan nie ontkiem nie.

So, as my begeerte dan is om meer bome te sien en om meer van God se koninkrykswerk te sien, wat sal ek moet doen?

(Skerm) PLANT MEER SAAD!  PLANT MEER SAAD!

 

As net 25% saad in my lewe en in mense se lewens ontkiem, wat sal ek moet aanhou doen?  Opgee?  Nee, ek sal net eenvoudig meer saad moet saai sodat die 25% se volume in my lewe opgaan en die 25% in ander se lewens ook opgaan.

Miskien moet ek nie langer kla oor hoe min bome daar nou is nie en hoe stadig hulle groei nie dalk moet ek eenvoudig meer saad saai.

Nou die praktiese implikasie daarvan:

By Impetus gemeente glo ons in vier verhoudings in jou lewe.

Drie plekke in ons lewe waar God saad wil saai:

 

1.  Jou verhouding met Hom.

In Matteus 22 kom ’n persoon na Jesus toe wat ek dink so bietjie in ’n midlife crisis is.

Hierdie ou wil weet waaroor gaan die lewe nou eintlik?

Miskien het hy getrou alles gedoen wat sy ouers hom geleer het en wat die vroom kerksmense hom geleer het; miskien het hy oorweldig gevoel omdat daar so baie reëls is om te gehoorsaam, wat is nou eintlik belangrik en wat is nie?

Mat. 22:36-40     “Meneer,” vra hy, “wat is die grootste gebod in die wet?”  Jesus antwoord hom: “‘Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel’ en met jou hele verstand. Dit is die grootste en die eerste gebod. En die tweede, wat hiermee gelyk staan, is: ‘Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.’  In hierdie twee gebooie is die hele wet en die profete saamgevat.”

Jesus praat hard en duidelik.  Die bottom line is:  Liefde vir God.  Liefde vir jouself.  Liefde vir jou naaste.  Liefde vir vreemdelinge of soekende mense.

Nou, terug na ons verhaal van die saaier.

As jy wil hê daar moet meer saad val in jou lewe sodat die ¾ wat gaan doodgaan of kom ons sê, jy weet en hoor maar nie doen nie… Wat sal jy moet doen?

Jy sal meer saad moet saai in jou verhouding met Hom.

In enige verhouding is die intimiteit en die geluk wat ek daar beleef direk gekoppel aan die hoeveelheid kwaliteit tyd wat ek saam met die persoon spandeer.

So, in jou verhouding met God.  Hoeveel kwaliteit tyd is daar tussen jou en Hom?

Hoeveel saad word op hierdie grond in jou lewe gesaai?

Ek weet daar is baie mense wie sê, ek weet eenvoudig nie wat om te doen as ek stiltetyd het nie.  Dit is so vervelig, ek lees net ’n stukkie en bid en dit is dit.

Dan is daar nog ’n rede hoekom jy iets soos dissipelskap moet oorweeg want hier word jy stap vir stap begelei om van jou tyd saam met God iets opwindend en na uit te sien te maak.

 

2.  Jou verhouding met jouself.

Dit is vir my baie interessant dat Jesus hier is Matteus 22 die manier hoe ek ander kan liefhê, direk koppel aan die manier hoe ek myself liefhet.

Maar wie is jy nou eintlik?  Baie mense sê, hulle ken hulle self daarom sal hulle eerder iets doen of nie doen nie voordat hulle hulself in die moeilikheid kry.

Dit is nie die ware jy nie.  Binne jou is daar twee mense wat eintlik lewe.

Die valse EK en die ware EK.  Die valse EK is die een wat haarself wil verdedig as iemand haar in ’n slegte lig stel.

Die valse EK is iemand wat liggeraak is as iemand iets sê wat jou omkrap.

Die valse EK is selfsugtig en selfgerig en dink 99% van die tyd aan wat vir hom belangrik is wat wat hy graag in die lewe wil hê.

Jesus sê, daardie EK moet sterf.  Jy moet bewus raak van die nuwe lewe wat in jou begin het.  Daardie saad wat geplant is toe jou Hom ontmoet het, dit moet ontkiem en groei.

Die WARE EK is wie jy in Christus is.

Col. 3:3-4  “Your old life is dead. Your new life, which is your real life—even though invisible to spectators—is with Christ in God. He is your life.”  The Message

Hoeveel saad in jou lewe word gesaai om uit te vind wie jy eintlik is?  Wie is hierdie nuwe mens wat gebore is die dag toe jy besluit het om die rigting van jou lewe te verander?

Is dit vir jou belangrik om die ware EK te ontdek?  Die Ek wat nie selfgerig is nie.

Die EK wat weet wat sy blindekolle en foute is en nie dit probeer verdedig om wegsteek nie.

 

3.  Jou verhouding met ander.

Eintlik onderskei ons by Impetus ook nog tussen mense wat hier is en mense wat ons graag hier wil kry omdat ons glo hulle lewe sal ook hier geraak word.

Maar hoeveel saad saai jy in ander se lewens?

En daarmee bedoel ek nie nou of jy ’n helpende hand soms is en mense bystaan wat hulp nodig het nie.

Daarmee bedoel ek op geestelike gebied, hoe gereeld vertel jy hulle wat Jesus vir jou beteken?  Hoe gereeld gooi jy net ’n saadjie uit en sê, hoekom kom kyk jy nie bietjie hoe lyk dit daar by my gemeente nie?

Hoe gereeld stap jy oor die pad of die vertrek en nooi jou buurman of jou kollega by die werk en sê, weet ons is ’n groep wat een keer ’n week bymekaarkom en net vir mekaar bid en mekaar ondersteun en ons doen die lewe saam.  Kom saam na my omgeegroep toe.

Hoeveel geestelike saad saai jy in ander mense se lewens?  Is dit maar min?

Dan is dalk weer tyd dat ons dink hoekom ons hier op aarde is?

Hoekom het God jou die mens gemaak wat jy is?

Hoekom het hy jou tussen daardie klomp mense gesit waar jy môreoggend is?

Vir jouself?  Ek dink nie so nie.

Om net ’n paycheck te kry aan die einde van die maand?  Ek dink ook nie so nie.

 

En laat ons nie mismoedig raak as ¾ van die saad wat ons saai en die buurman wat jy al 3 keer genooi het nog nie kom nie.  Nee.

As ons wil hê die saad moet ontkiem en daar moet meer bome wees of die oes moet groter word, gaan ons eenvoudig meer saad moet saai.

 

Vanoggend het jy ’n pakkie saad gekry toe jy ingestap het.

Ek wil hê, jy moet hom in jou hand sit.  Dink aan hierdie saadjies.

Wat beteken hulle vir jou?

Waar moet daar saad gesaai word in jou lewe of in iemand anders se lewe?

Waar moet jy geestelike saad saai in iemand se lewe?

En ja, ¾ daarvan gaan dalk nie ontkiem nie.  Maar weet jy wat – hoe meer jy saai, hoe meer sal daar wees wat ontkiem.  Hoe meer bome of plante sal daar wees.

Hou aan saai.  Want jy bring nie die groei nie.  Dit is iets wat net God gaan doen.

Impetus Visie Sondag 2016

[powerpress]

2016 is een van die grootste waterskeidingsjare vir ons omrede ons hierdie jaar ’n tweede hoofstuk in ons geskiedenis gaan begin.  Impetus is nie een van ons pastore of ’n paar mense in leierskap nie, dit is elkeen van ons, want ons is ’n liggaam.

Die 1ste hoofstuk het begin op 31 Okt. 1999 toe Impetus sy eerste diens gehou het.

Die doel en die hart van Impetus was om ’n veilige plek te skep in ons dienste veral waar mense wat kerkloos, kerklos is en soekend is ’n plek kan vind van omgee en genade.

In 2001 het ’n gemeente Houtkruis A.G.S. saam met ons gesmelt.

Die Visie van Impetus gemeente was van die begin af om mense te begelei in betekenisvolle verhoudings.  Daarom ons leuse – lewe in verhouding.

Soekende mense is vir ons mense wat dalk glad nie in ’n verhouding met Jesus leef nie, mense wat dalk seergekry of weggeraak het in die tradisionele kerk en mense wat opsoek is na liefde, omgee en aanvaarding.

 

Daarom ook een van ons Kernwaardes:  verhoudings.

Dit is baie interessant dat nie Christen sosioloë al studies gemaak het van die eerste kerk in Handelinge en agtergekom het dat een van die grootste redes hoekom die eerste kerk so gegroei het, was die liefde wat daar onder mekaar was.

Hulle het eenvoudig geen prys te hoog gesien om vir mekaar om te gee en uit te reik na mense wat in nood was nie. Daarom is liefdevolle verhoudings vir ons die hoogste waarde.

Joh. 13:34-35    “Ek gee julle ’n nuwe opdrag: Julle moet mekaar liefhê; soos Ek julle liefhet, net só moet julle mekaar ook liefhê. As julle mekaar liefhet, sal almal daaraan sien dat julle my dissipels is.”  NLV

 

Dit is waaraan ons geken moet word – liefde vir Jesus, liefde vir mekaar, liefde vir mense buite ons gemeente.  Sonder liefde is ek en jy niks.  1 Kor. 13 sê ons is ’n simbaal wat net geraas maak.

1 Kor. 13:1         “Al sou ek enige taal op aarde of selfs in die hemel kon praat, maar ek kom die liefde kort, het ek ’n galmende trom of ’n klinkende simbaal geword.”  NLV

 

In 2016 sal ons graag wil sien dat hierdie waarde van omgee, liefde, ware diep verhoudings nog ’n groter werklikheid in ons lewens word.  In sekere opsigte doen ons fantasties maar daar is nog steeds mense wat dit nie ervaar nie en ons gaan hard daaraan werk dat almal ons as ’n liefdevolle groep mense beskryf wat in verhouding met God en mekaar lewe.

Wanneer ons as gemeente iewers betrokke raak in die gemeenskap wil ons dit in verhouding doen.  Ons glo nie in eenmalige tref-en-trap benaderings as dit by gemeenskapswerk kom nie.

Ons kuier voor en na kerk is vir ons uiters belangrik.  Soms werk die Here se Gees op so tasbare manier, self meer as in die diens wanneer daar informele geselskap voor of na die diens gebeur.  Ek wil jou ook uitnooi – as jy skaam is, of voel jy ken niemand nie.

Bly bietjie agter of kom vroeër en drink saam met ons ’n koppie koffie.

Omdat dit deel van ons Visie is, gaan ’n groot deel van ons beplanning en maniere van doen daaroor dat besoekers veilig en gemaklik kan voel.

Terselfdetyd wil ons vir mense wat al langer hier is die grond skep om verder te groei in hulle verhouding met God.  Ons dissipelskap is een van die grootste “tools” daarvoor.

In die verlede het ons verskeie kere al gevoel dat die Here ons roep om ’n gebou of ’n kerk op te rig.  Dit is egter vir ons belangrik daarom nooit te sien as ons visie nie.

Ons visie is dat jy in verhouding sal leef.

Mat. 22:36-38     “Meneer,” vra hy, “wat is die grootste gebod in die wet?”

Jesus antwoord hom: “‘Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel’ en met jou hele verstand. Dit is die grootste en die eerste gebod. En die tweede, wat hiermee gelyk staan, is: ‘Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.’ AFR83

Die groot gebod en die groot opdrag in Mat. 28:19 is vir ons belangrik.

As ons sê dat ons wil hê dat elkeen wat hier sit in verhouding moet leef bedoel ons dat daar 4 verhoudings is waarin jy moet groei:

Jou verhouding met God.  Het jy hom liewer vandag as die dag toe jy Hom ontmoet het vir die eerste keer?  Hart, siel en verstand.

Jou verhouding met jouself.  Het jy geweet dat jy nie nie ander meer kan liefhê as wat jy jouself lief het nie?  Jy moet jou naaste liefhê soos… jouself.

Dit is ’n verhouding in die lewe wat baie mense dikwels miskyk.  Wie is jy?  Wat is jou sterkpunte maar ook jou blindekolle, dinge wat ander raaksien.  Hoe groei jy daarin?

Jou verhouding met ander.  Hier is dit jou naaste – en gaan lees maar weer die verhaal van die Barmhartige Samaritaan as jy vergeet het dat jou naaste selfs jou vyande kan wees.  Hoe groei jy in hierdie verhouding?  Reflekteer jou hart, die hart van God?  Of is jy maar hardkoppig en selfsugtig tot in jou kern?

Jou verhouding met soekendes.  Is jy ’n draer van hoop, van lig, van liefde waar jy kom?  Die oes is ryp maar die arbeiders is min het Jesus al 2000 gelede gesê.

In Lukas 15 vertel Jesus 3 verhale om vir ons te wys hoe God voel oor mense wat weggeraak het, wat verlore langs die pad geraak het en hulle dan bekeer.

Luk. 15:32 “Maar ons kan tog nie anders as om fees te vier en bly te wees nie, want hierdie broer van jou was dood, en hy lewe weer; hy was verlore, en ons het hom teruggekry.”  AFR83

Kom ons onthou net weer ons definisie van:

Bekering – om die rigting waarin jy jou geluk soek te verander.

Soms wonder ek of Jesus saam met ons sou kerk gehou het en of Hy nie eerder daar buite in die wêreld sou gewees het by die sondaars en die soekendes nie.

Julle het dalk al die gerugte gehoor of gelees dat ons graag as dit die Here se wil is in Julie in ons nuwe gebou wil intrek.  Dit is iets wat my persoonlik bang maak – maar ook geweldig opgewonde maak.

In Julie hierdie jaar gaan ons met die 2de hoofstuk in Impetus se geskiedenis begin.

Dit bly vir ons ’n geweldige reis van geloof.  Sonder die Here kan ons nie dit doen nie.

Ons het nog heelwat finansies nodig maar die wonderwerke gebeur weekliks met mense wat vir ons werk of materiaal of verniet of teen groot afslag doen of verskaf.

Met die ekonomiese vooruitsigte vir 2016 gaan dit selfs ’n groter wonderwerk wees wanneer ons intrek en ook wanneer ons al die fases van die gebou voltooi het.

Ons oë is nie op mense nie.  Want mense stel teleur – ons oë is op die Here.

Ons glo met ons hele hart dat ons by Hom gehoor het en dat Hy vir ons gesê het ons moet bou.  Die Skrif wat Hy vir ons gegee het toe ons daaroor gebid het, was:

Neh. 2:18  “Ek het hulle toe vertel hoe my God sy goeie hand oor my gehou het en wat die koning vir my gesê het. Hulle het gesê: “Kom ons bou!” en hulle het die goeie werk aangepak.”

 

Nog ’n kernwaarde vir ons is Groepe:

Dit is ons droom en visie dat elke liewe een van julle in ’n groep inskakel.  Of dit ’n omgeegroep is, ’n dissipelskapgroep, ’n belangegroep of ’n bedieningsgroep.

In enige van hierdie groepe gaan ons verhouding beleef en gaan ons ook geleenthede kry om te groei in God, onsself en met die ander wat deel is van die groep.

Een van die bekommernisse wat mense al genoem het toe ons begin praat het oor bou en ’n platform skep vir uitreik deur die gebou was dat ons karakter van intimiteit en warm sal verlore gaan.  En dit is een van die grootste redes hoekom ek jou vandag weer wil uitdaag om iewers in ’n groep in te skakel.

Want as ons nie wil hê dit moet gebeur nie moet ons beide groter en kleiner groei.

Kleiner in groepe waar ons kan omgee en mekaar bedien.

Nog ’n fokus vir ons in 2016 gaan wees om meer leierskapontwikkeling te doen en meer leiers op te wek sodat ons meer mense wat bereik.

Ons wil nie net ’n gehoor of ’n crowd wees op ’n Sondagoggend nie.  Nee, ons wil ’n liggaam wees.  In die tegnologiese tyd waarin ons lewe, waar alles so oppervlakkig en op ’n afstand geraak het gaan ware kerk, mense wat vir mekaar omgee, nog belangriker word

Ons gaan geleenthede skep en ek wil vir jou sê – almal is ’n leier iewers.  Of jy net ’n ma is en of jy ’n Mpy. bestuur – ons almal kan groei in leierskap.  Woon die geleenthede by.

 

’n Derde kernwaarde vir ons is:  Diens deur gawes.

In 1 Kor. 12 dan kom Paulus en hy begin met die mense gesels oor geestelike gawes wat deur God aan elkeen gegee is. En ek vermoed dat daar mense was wat net die in aanhalings teken “flashy” gawes wou hê, wat dalk nie wou dien as hulle nie gesien word nie, of gevoel het dis nie so belangrik en nodig nie.

Dalk was daar mense wat neergekyk het op sekere bedieninge en Paulus begin hulle te leer deur die voorbeeld van die liggaam te gebruik. Ek wil julle aanmoedig gaan lees die hoofstuk vanaand en die week en staan bietjie stil en vra God hoekom het Hy jou in Impetus geplaas en waar Hy wil hê jy moet dien.

Hoor net hoe mooi sê Paulus dit:

1 Kor. 12:25-26 “The way God designed our bodies is a model for understanding our lives together as a church: every part dependent on every other part, the parts we mention and the parts we don’t, the parts we see and the parts we don’t. If one part hurts, every other part is involved in the hurt, and in the healing. If one part flourishes, every other part enters into the exuberance.”  MSG

1 Kor. 12:27-31 “You are Christ’s body—that’s who you are! You must never forget this. Only as you accept your part of that body does your “part” mean anything.”  MSG

Impetus is net die gemeente wie sy is omdat daar klaar mense is wat betrokke is wat hulle deel doen in die liggaam. As jy nog nie seker is nie, dan is daar ’n Ontdek jou plek eendag retraite Saterdag die 27 Feb. by Humbleways wat jy kan bywoon.

 

Op julle stoele is daar vanoggend ’n blaadjie met die verskillende bedieninge waar jy kan betrokke raak en ’n verskil kan maak. Soos ek vroeër gesê het ons wil die eerste middel van die jaar alles in plek kry genoeg leiers oplei en genoeg mense of te veel mense in bedieninge betrokke kry sodat ons reg is om Impetus gemeente se karakter te missie te bly uitleef wanneer ons in ons nuwe gebou intrek.

Sodat as kerklos en soekende mense kom kuier in ons nuwe gebou, hulle vriendelik groet sal word en welkom sal voel, dat daar genoeg koffie makers en skinkers is, genoeg mense om hulle te wys waar hulle kan sit en hulle in verhouding kan plaas met ander mense.

Sodat daar genoeg groepe is waar in mense kan inskakel en kan behoort. Dat ons beraders het wat saam met mense kan bid en kan luister en ondersteun.

Ons mense het wat saam bid vir die gemeente en vir versoeke.

Ons sal graag ’n span wil hê wat parkering kan aangewys en mense daar in die parkering al vriendelik kan groet en welkom laat voel.

Dat ons genoeg mense het om Kinderkerk die beste uur van ’n kind se week te maak en hulle belangrik kan laat voel.

Dalk is tieners op jou hart raak daar betrokke.  Dit is ’n area waar ons bid dat ons werklik sal groei.

Vriende elkeen van ons het ’n rol om te speel in Impetus en ek wil jou uitdaag raak betrokke. Ons is nou in die begin van die jaar en ons maak ons lewens vol met baie dinge kom ons sê nee vir een ding daar buite sodat ons kan ja sê om betrokke te raak in Impetus sodat ons ’n verskil kan maak in God se koninkryk.

Ons vertrou dan ook die Here om in Julie te trek na Fase 1A toe. Nou Fase 1A is die eerste deel van die Ouditorium.

So amper 2 jaar gelede het ons begin met Ons bou elke druppel te veldtog.

Ons het 8.5 miljoen rand nodig gehad en met beloftes het ons 4.5 miljoen beloftes gekry ons het 2 miljoen gehad en ons het gesê ons vertrou die Here vir wonderwerke vir die ander 2 miljoen.

Ons is nou soos die volk in die Woestyn ons sien al die beloofde land daar vêr weg en ons besef dat daar is nog ’n paar reuse- en hoë mure wat oorkom moet word. Ons kort nog ’n hele paar rand en met die rand dollar raak die klank en goed net duurder wat ons wil insit. Daar is ’n klomp uitdagings wat oorkom moet word, maar soos die volk wonderwerke gehad het om te onthou soos manna en kwartels, water uit die klip, die trek deur die rooi see, die wolk en vuurkolom, net so Impetus het ons wonderwerke wat ons kan onthou op ons kliptafel.

Net toe ons begin het met die grondwerke en dit elke aand net genoeg gereën het sodat ons die grond kom kompakteer en nie nodig gehad het om watertenkers in te huur nie. Toe Walmer Park begin bou het en die grond wat hulle uitgehaal het die regte tiepe grond was wat ons kon gebruik het om op te vul en ons R700,000 gespaar het. Skenkings van heining en stormwaterpype. Dat die maatskappy waar by ons die bakstene koop gevoel het dat hulle ons wil seën en ons die bakstene teen kosprys gee. En hoe wonderlik is dit nie dat die geld wat ons spaar op die bakstene is genoeg om die scaffolding en arbeiders wat die mure gaan bou te betaal.

Vriende die Here is besig om sy Kerk te bou op verskeie maniere en hy nooi my en jou om saam te bou. Elke druppel tel, elke bediening tel, elkeen van julle tel.

Sonder julle kan Impetus nie sy roeping of doel uitleef nie en ek wil julle nooi raak betrokke. Neem ’n oomblik en stel jou self beskikbaar vanoggend, vra die Here waar wil Hy jou gebruik.

Transformed Week 7 – Beroepsgesondheid

[powerpress]

Ons Bou 2015 – Ons bou ‘n lewe wat iets nalaat

[powerpress]

Elkeen van ons ‘n ingebore behoefte het om ons lewe te laat saak maak of betekenis.  Betekenis is baie meer as sukses.  Sukses is gewoonlik tydelik.  Maar iemand wat ‘n lewe van betekenis leef, is iemand wat ‘n erfenis of nalatenskap agter los wat lank nadat die persoon dood is nog bly voortleef.

Indien jy die nuus vandag moes kry dat jy net ‘n kort tydjie oor het om te lewe, sou dit enige verskil vir jou maak?

Een dag het ‘n man Jesus genader met ‘n soortgelyke vraag.

“Hoe kan ek die ewige lewe kry?”  M.a.w. “Hoe kan ek seker maak dat my lewe vir God saak maak?

 

Mark. 10:17-22  “Net toe Jesus uit die huis uitkom om verder te gaan, kom daar iemand aangehardloop. Hy val toe voor Hom op sy knieë en vra Hom: “Goeie Leermeester, wat moet ek doen om die ewige lewe te verkry?”  Daarop sê Jesus vir hom: “Waarom noem jy My goed? Niemand is goed nie, behalwe God alleen. Jy ken die gebooie: ‘Jy mag nie moord pleeg nie, jy mag nie egbreuk pleeg nie, jy mag nie steel nie, jy mag nie vals getuienis aflê nie,’ jy mag nie iemand veronreg nie, eer jou vader en jou moeder.” “Meneer,” sê hy vir Hom, “dit alles het ek van my kinderdae af nagekom.”  Jesus het na hom gekyk en hom liefgekry en vir hom gesê: “Net een ding kom jy kort. Gaan verkoop alles wat jy het, en gee die geld vir armes, en jy sal ’n skat in die hemel hê. Kom dan terug en volg My!”  Hy het egter geskrik toe hy dit hoor en het bedruk weggegaan, want hy het baie besittings gehad.”  AFR 83

 

Om God ten volle lief te hê sou beteken dat hierdie ryk jongman moes sy rykdom opgee en hy was nie gewillig om dit te doen nie.    Dink wat kon gebeur het as hy sy rykdom gebruik het om in God se koninkryk beleggings te maak

Dink maar aan mense in die Bybel wat honderde jare gelede geleef het en nog steeds praat ons oor hulle en lees ons oor hulle in die Bybel.

Sommige van hulle was nooit suksesvol gewees  in hulle tyd nie maar hulle het ‘n legacy gelos wat ons vandag nog inspireer.

 

Vraag:  Wat gaan jou lewe eendag nalaat?

As dit iets is wat kan opraak of verlore raak, is dit nie ‘n legacy nie.

As jy werklik jouself vir ander gee en opoffer, sal jy verseker ‘n verskil in hulle lewe maak.

Dit het ewige waarde.

 

Maar wat as jy saam met God werk?  Wat as jy dalk in staat is om jou lewe te gee vir die dinge waarvoor Jesus sy lewe gegee het?  Vir elke mens sonder onderskeid op aarde?

Vir Sy koninkryk hier op aarde.  Vir Sy liggaam of bruid of kerk hier op aarde?

Dan kan die saad van jou lewe dalk vir geslagte nog ‘n verskil maak in mense se lewe.

As ek dink aan die persoon wat my aan die Here voorgestel het – die vrug van my bediening is deels ook sy vrug omdat hy bereid wat om saam met God in my lewe te werk.

Dawid, een van die suksesvolste konings van alle tye kom op ‘n plek in sy lewe waar hy besef dat sukses eintlik maar leeg is.

Duisende soldate onder sy beheer, soveel oorloë gewen dat hy nie eers kon tel nie.

Persoonlike rykdom wat hy nooit self sou kon uitleef nie.

 

Maar wat was sy nalatenskap?  Wat gaan Dawid agter los?

Soldate?  Die buit wat hy in sy veldslae gewen het?  Goud en silwer?  Nee, hierdie goed is tydelik.  Maar hy kon hierdie goed gebruik om ewige beleggings te maak.

Dawid kom op ‘n plek in sy lewe wat Hy besef – ek moet my lewe en dit wat ek het, belê vir die ewigheid.

Ek moet saam met God werk.  Anders gaan my lewe nie veel tel nie.

 

1 Kron. 22:5-13 “Want Dawid het gesê: “My seun Salomo is nog jonk en onervare, en die huis wat vir die Here gebou gaan word, moet indrukwekkend en groot wees, ’n roem en ’n sieraad vir alle lande. Daarom tref ek vir hom die voorbereidings.” Daarom het Dawid voor sy dood al groot hoeveelhede boumateriaal bymekaargemaak.  Daarna het Dawid sy seun Salomo laat haal en vir hom verduidelik dat hy ’n huis vir die Here, die God van Israel, moes bou. “Ek wou ’n huis tot eer van die Here my God bou,” het Dawid vir hom gesê. “Maar die Here het vir my gesê: ‘Jy het baie mense doodgemaak in die groot oorloë waarin jy geveg het. Omdat jy so baie bloed voor My op die grond vergiet het, is jy nie die een wat ’n tempel tot my eer sal bou nie. Maar jy sal ’n seun hê wat vrede en rus in sy tyd sal beleef. Ek sal hom vrede met sy vyande en al die omliggende lande gee. Sy naam sal Salomo wees, en Ek sal vrede en rus in Israel gedurende sy regering gee. Hy is die een wat ’n tempel tot my eer sal bou. Hy sal my seun wees, en Ek sal sy Vader wees. Ek sal die troon van sy koningskap oor Israel vir altyd bevestig.’  “Nou, my seun, mag die Here met jou wees en jou suksesvol maak terwyl jy die instruksies volg wanneer jy die huis van die Here jou God bou.  Mag die Here jou ook wysheid en begrip gee sodat jy die opdragte van die Here jou God sal gehoorsaam terwyl jy oor Israel regeer. Want as jy sorgvuldig al die opdragte en bepalings uitvoer wat die Here deur Moses vir Israel gegee het, sal jy suksesvol wees. Daarom, wees sterk en vol moed. Moenie bang of moedeloos word nie.”

 

Kosbare oomblikke wat Dawid saam met Sy seun Salomo het.

Miskien het hierdie laaste paar jaar van Dawid se lewe meer getel as al die jare voor dit.

Hy gee sy seun raad.  Hy werk saam met God.

Hy gebruik sy lewe en die tydelike goed wat hy het, om ewige beleggings in die toekoms te maak.

 

Waarin belê jy jou lewe en besittings?

As jou lewe net gaan oor jou eie koninkryk en jou gemak en genot gaan dit nie ‘n verskil maak in enigiemand se lewe nie.

As jy jou lewe leef elke dag as ‘n verteenwoordiger van God.

Gereed om te doen wat Hy jou vra.

Gereed om enigiets van jouself op te offer t.w.v. God en Sy koninkryk DAN sal jy ‘n verskil maak in mense se lewens.

 

Die opgee van gemak en genot, is ‘n vereiste vir ‘n lewe wat iets nalaat.

Dink maar aan enige persoon wat ‘n betekenisvolle lewe geleef het en ‘n verskil gemaak het in ander mense se lewens en jy sal dadelik sien dat dit iemand was wat sy eie begeertes en genot ondergeskik gesit het aan die missie wat hy gehad het.

Dit is heel dikwels mense wat groot opofferings gemaak het om ‘n verskil in ander se lewens te weeg te bring.

 

Geen atleet wat lief is vir laat slaap, min oefen, ongesond eet het al ooit goud gekry op ‘n Olimpiese spele nie.

Geen gelowige wat ‘n verskil in God se koninkryk gemaak het, het nie ‘n lewe van selfkruisiging en selfopoffering geleef sodat God hom of haar kan gebruik nie.

 

Impetus, ons as gemeente is besig om soos die tema video van hierdie reeks vertel, ‘n boom te plant.  En hierdie boom kan dalk honderde jare oud word.

Deur vir ons as gemeente ‘n permanente tuiste te bou sal ons ‘n baken in ons stad word.

Ons kinders en hulle kinders en hulle kinders gaan nog die Here daar dien.

 

Wanneer ‘n mens deur Graaff Reinet die 5de oudste dorp in Suid Afrika ry is daar ‘n baken waarvan mense reg oor die wêreld weet.

In die middel van die dorp staan daar ‘n kerk.  Die NG gemeente Graaff Reinet.

Daardie kerk is gebou in 1886.  Vandag nog is daar ‘n sterk en aktiewe gemeente in daardie gebou.  Hulle is nog steeds ‘n baken vir die gemeenskap.

 

Kan jy jouself indink hoeveel mense moes in 128 jaar al in daardie kerk gesit het?

Kan jy jouself indink hoeveel mense is getroud in daardie kerk in 128 jaar?

Hoeveel mense het hulle geloofsverhouding met Jesus Christus begin in daardie gebou.

Daar word vertel dat die mense wat betrokke was met die oprig van die gebou lidmate was wat baie vrygewig was maar ook groot opofferings gemaak het.

Van die klipwerk is met ossewaens kilometers weg aangery om in die gebou in te bou.

A.g.v. hierdie mense se opofferings 128 jaar gelede het duisende oor die jare al hulle geloofsreis daar begin.

 

Ja, die ware kerk is die mense.  Dit mag ons nooit vergeet nie.

Maar na 128 jaar is die bydraes wat mense gebring het in 1886 nog steeds besig om ‘n nalatenskap te los.

Na soveel jare is hulle opofferings in tyd en geld nog steeds besig om dissipels vir God se koninkryk te maak.

In my oë is dit ‘n groot erfenis, nalatenskap of ‘n legacy.

Daarom Impetus gemeente, het die Here die geleentheid vir ons geskep om ook iets na te laat vir ons nageslag.

En ek glo dat Hy vandag ons uitnooi om deel te raak van ‘n wonderwerk wat Hy besig is om te doen.  Om in moeilike tye ekonomiese tye soos hierdie ‘n kerk te bou is nie in ons vermoë nie.  Maar dit is in God se vermoë.

 

Dawid het ook vir die volk gevra om hulle offers te bring sodat hulle ‘n huis vir die Here kon bou.

Dan bid Dawid ‘n lofpsalm om vir die Here dankie te sê vir Sy grootheid en Sy voorsiening

1 Kron. 29:13-14         “En nou loof ons U, ons God, ons prys u glansryke Naam, want wie is ek en wie is my volk dat ons die vermoë sou hê om sulke gawes te bring? Alles kom tog van U af en ons gee aan U, wat ons van U gekry het.”

 

Ons het verlede week gesien hoe die wonderwerk gebeur het met die brode en vissies wat hulle na Jesus toe gebring het.  Hulle moes gebring het wat hulle kon kry.  En dit is wat ons met ons geloofsoffer vandag weer gaan doen.

En toe, nadat Jesus daarvoor gebid het (vir dit wat te min was) het hulle begin uitdeel.

Soos hulle uitgedeel het, het die wonderwerk gebeur.

Soos wat ons verlede jaar begin het met ons bouwerk, het die wonderwerk ook in ons gemeente gebeur.  Dit wat met ons gebeur is ‘n reuse wonderwerk, moenie dit mis nie.

 

En ons kan kies om aan te gaan met ons gewone lewe met dinge wat elke gewone mens nastreef.  Gemak, genot, besittings, status.

OF ons kan kies om saam met God deel te raak van iets wat ‘n legacy gaan los.

Ons kan Sy ware kerk bou (die mense) deur ‘n fisiese kerk te bou waar duisende mense oor die jare Hom nog sal vind.

Ons kan betekenis met ons lewe vind deur in die grootste doel hier op aarde betrokke te wees.