Ons Bou 2015 – Ons Bou ‘n lewe van Geloof

[powerpress]

Markus 6:35-44

“Toe dit alreeds laatmiddag begin word, kom sê sy dissipels vir Jesus: “Dis ’n verlate plek hierdie en kyk hoe laat is dit al. Stuur die mense weg sodat hulle op die omliggende plase en in die dorpies iets kan gaan koop om te eet.”  Hierop antwoord Jesus: “Gee julle vir hulle kos.”  Hulle sê toe vir Hom: “Dit sal ’n yslike bedrag kos om brood te gaan koop om vir hulle te ete te gee!”  Hy sê toe vir hulle: “Hoeveel brood het julle? Gaan vind uit.”  Toe hulle dit vasgestel het, sê hulle: “Vyf brode en twee visse.”  Daarna sê Jesus vir die mense om groepe te vorm en op die groen gras te gaan sit. Hulle het toe in groepe van 100 en 50 gaan sit.  Jesus het die vyf brode en die twee visse gevat, na die hemel toe opgekyk en God gevra om die kos te seën. Toe breek Hy die brood en gee dit vir sy dissipels om aan die mense voor te sit. Hy het ook die twee visse onder almal verdeel. Hulle het almal geëet totdat hulle genoeg gehad het. Later het hulle twaalf mandjies vol oorskietbrood en -vis opgetel. ’n Volle 5 000 mans het van daardie vyf brode geëet!

 

Hierdie is ‘n interessante verhaal.  Die rede daarvoor is omdat Jesus se optrede so anders is as wat ons ons s’n is.  Indien jy die vooraf gedeeltes lees sal jy sien dat Jesus net voor hierdie geleentheid eintlik ‘n baie slegte en donker tyd beleef het.

Hy was in sy tuisdorp Nasaret – hier was Hy verstom a.g.v. die ongeloof wat die mense gehad het en kon Hy feitlik nie wonderwerke daar verrig nie.  So, Hy was teleurgesteld.

Daarna gaan hulle uit en Jesus stuur sy dissipels uit om te begin bedien.  Hulle leer die mense, dryf duiwels uit en maak siekes gesond.

In hierdie tyd hoor Jesus dat sy vriend en neef Johannes die Doper deur koning Herodus vermoor is omdat hy teen die koning gepreek het.  So Jesus was ook in rou en hartseer.

 

Hulle was so bedrywig met bedieningswerk dat hulle nie daarby uitgekom het om te eet nie.  Maar die skare wat hulle gevolg het wou nie huis toe gaan nie.

Ek en jy sal dalk begin ongeduldig begin raak het maar nie Jesus nie.  Die Skrif sê dat Jesus meegvoel gehad het toe Hy die skare gesien het.  Dit nadat Hy teleurgesteld en hartseer was oor wat die laaste week in sy lewe gebeur het.

 

Dan Jesus se ironiese woorde in Mark 6:37  “Gee julle vir hulle kos.”

Wat is dit?  Is Jesus besig om ‘n grap te maak, is Hy besig om sarkasties te wees?

Interessant nêrens lees ons dat die mense kom vertel het dat hulle honger was nie.  Waarskynlik was dit die dissipels wat honger geraak het.

 

Onthou, die dissipels het nou-net duiwels uitgedryf en siekes gesond gemaak; ek is seker as hulle probeer het om vir hulle kos te gee, sou daar dalk iets gebeur het.

Maar wat is hulle reaksie?  Waarskynlik het Judas en Matteus koppe bymekaar gesit en gedink – as ons vir hierdie menigte kos moet gee, wat gaan dit kos?

Mark. 6:37 “Hulle sê toe vir Hom: “Dit sal ’n yslike bedrag kos om brood te gaan koop om vir hulle te ete te gee!”

 

Vra die regte vrae

Ek dink nie hulle vra die regte vraag nie.  Hulle vraag is, “Moet ons so baie geld spandeer om kos te koop?”  Dalk moes hulle vraag eerder gewees het, “Ons weet nie hoe om vir hulle kos te gee nie, kan U ons wys hoe?”

As Jesus vir ons vra om iets onmoontlik te doen, moet ons reaksie nie wees om vir Hom te vertel hoeveel dit gaan kos nie en dom idee dit is nie.  Ons reaksie moet eerder wees, “Here, ek weet nie hoe om dit te doen nie, sal U my wys?”

 

Toe ons begin het met Ons Bou – elke druppel, het baie van ons geskrik toe ons gehoor het wat dit gaan kos.  Dit het vir ons onmoontlik gelyk.

Maar die regte vraag was nie, Here, hierdie gaan te veel kos, hoe sal ‘n klein groepie soos ons ooit soveel geld kan bymekaar maak nie.

Die regte vraag was vir baie van ons, Here, hierdie gaan U werk wees, ons weet nie hoe U dit gaan doen nie maar as U die opdrag gegee het dan moet ons vra, Here wys ons hoe U dit gaan doen?  Wat wil U hê, ek moet doen?

 

Ons is het dikwels die antwoord op ons eie gebed.  En wat doen ons?

Ons begin met die lys van verskonings hoekom dit nie sal werk nie, hoekom is dit ‘n dom idee is, waar moet ek die gawe of die tools kry om hierdie opdrag uit te voer.

Ons gee vir Jesus al die redes hoekom dit nie kan werk nie.

Ons maak of ALLES van ONS af hang.

Wat kan EK doen? EK het nie genoeg om vir 5000 kos te gee nie.  ONS het nie genoeg om kerk te bou nie.  So dan doen ek maar eerder niks.  Dit is nie geloof nie.

 

Geloof is… om gehoorsaam te wees al verstaan ek dit nie.

Hierdie dissipels moes doen soos Jesus hulle gevra het.  Of daar 5000 was en net 2 vissies en 5 brode, dit was nie die saak nie.  Hulle is nie in beheer nie, Hy is.

My werk is nie om vir Jesus die redes op te noem hoekom dit nie kan werk nie.

Al wat ek moet doen, is om gehoorsaam te wees.  Al verstaan ek dit nie.

 

Mark. 6:38 “Hoeveel brood het julle? Gaan vind uit.”

Dit is amper of Hy nie eers na hulle verskonings geluister het nie.  Hy stuur hulle terug na die skare toe omdat geloof en die bestanddele vir ‘n wonderwerk altyd IN ONS midde is.

Dit is in saad vorm en ons dink dit is niks, want dit is nog nie ‘n oes nie.

Maar Jesus kan nie vermenigvuldig, wat ons nie raaksien nie.

 

Dink jy nie dat daar dalk nie iemand anders was wat kos gehad het nie?

Die dissipels het waarskynlik omgegaan en gesê, ons moet al hierdie mense kos gee, het enigiemand vir ons kos om vir die mense te gee?

En wat het gebeur?  Almal wat iets daar gehad het, het gedink die grootheid van hierdie probleem of uitdaging is té enorm.  En hulle het vasgehou aan wat hulle het.

Hulle het gedink, Omdat ek nie genoeg het nie, gaan ek niks doen nie.

 

Geloof is… om vir Jesus te gee al lyk dit of dit te min gaan wees.

Wie het die bestanddele vir die wonderwerk gegee?  Die seuntjie wat nie eers getel was nie.

In Bybelse tye het hulle net mans getel.  En ons weet daar was 5000 mans.

En God gebruik die seuntjie wat nie eers getel is nie.

 

Mark 6:38b         “Toe hulle dit vasgestel het, sê hulle: “Vyf brode en twee visse.”

En hulle het waarskynlik gesê, kan U nou sien wat ons het, daar is nie genoeg nie.

**       Jy het nie God nodig as dit nog vir jou moontlik is nie.  As hulle genoeg kos bymekaar gemaak het vir die mense, dan het hulle nie Jesus nodig gehad nie.

Met natuurlike oë of logika lyk dit of dit onmoontlik is.  Dan weet ons Hebreërs sê,

Hebr. 11:6 “And without faith it is impossible to please God.”

 

Dan gebeur daar iets wat verbasend is. Jesus sê DANKIE vir dit wat NIE GENOEG is nie.

Mark 6:41 “Toe het Hy die vyf brode en die twee visse geneem, na die hemel opgekyk en die seën gevra.”

 

Geloof is… om God te dank vir die bietjie wat ek het.

Amazing, dat wanneer ons voel dat die Here nie vir ons deurkom nie dan begin ons te kla oor die presiese goed wat die bestanddele vir ‘n wonderwerk is.  Dit is nie genoeg nie.

Ons sien nie raak wat ons reeds het nie.   Begin God dank vir die dinge waaroor jy oor kla of selfs wegwens en laat Hy jou ‘nie-genoeg-nie’ verander is ‘meer-as-genoeg’.  Geloof is om te glo, al sien ek dit nie.

 

Die wonderwerk het nie gebeur TOTDAT hulle die brood begin uitdeel het en die brood gebreek het nie.  HULLE moes die eerste stap neem.

Geloof is …om te reageer en die eerste stap te neem

Soos wat die brood gebreek is, so het die wonderwerk gebeur.

Hulle het almal geëet en was tevrede.

Gemeente ons het verlede jaar die eerste tree in geloof gegee.  En vandag staan ons hier 14 maande later en ons het R3.36 miljoen ontvang in bydraes en donasies.

Terwyl ons uitdeel, terwyl Ons Bou, is Jesus besig om ‘n wonderwerk voor ons oë te doen.

 

En dan dink ons dit is waar dit eindig.

Maar Jesus sê vir hulle dat hulle moet optel – dit is wat tussen die wonderwerke gebeur.

Geloof is… om te volhard selfs al voel ons nie so nie.

As jy die gedeelte verder lees dan sal jy sien Jesus stuur hulle vooruit en dan breek daar ‘n storm op die see uit.  En hulle dink dat hulle gaan verdrink.

Jesus gaan om te bid op die berg.  Tot so 3uur in die oggend.  Hulle is besig om van hulle koppe af te raak in die storm.  Hulle wonder waar Jesus is.   Jesus kan saam met jou in die middel van ‘n storm wees en op pad na jou toe, om jou te kom red van die storm, en jy kan Hom nie raaksien nie.

Hulle het nie besef nie – Jesus het vir hulle gevra om die 12 mandjies wat oorgebly het saam hulle in die boot te vat.  Hoekom sou Hy dit doen?

Hoekom hierdie krummels en hierdie visstukke saam hulle vat?

Hy wou hê hulle moes die bewysstukke van die wonderwerke saam met hulle in die storm saamvat want Hy wil hê hulle moet onthou dat dieselfde God wat die wonderwerk net so rukkie gelede gedoen het, is die God wat nou in hierdie storm saam hulle in die boot is.  En Hy sal sal hulle na die ander kant toe neem.

 

God werk elke dag op nuwe maniere

Hulle het Jesus eers nie herken nie.  Hulle het die Jesus geken wat die brode vermeerder het maar hulle het nie die Jesus geken wat op die water geloop het nie.

Ek weet nie watter wonderwerk jy vandag nodig het nie, maar Jesus kom elke dag in ‘n nuwe vorm en op ‘n nuwe manier.  Moet Hom nie in ‘n boks sit, van hoe Hy in die verlede gewerk het nie.  Moenie dink dat Hy altyd dieselfde werk nie.  Moenie ook nie dink dat mense altyd dieselfde is nie.

Jy het nie die Jesus nodig wat brode vermeerder wanneer in die middel van ‘n storm in die see is nie.  Jy het ‘n Jesus nodig wat op water loop.  Ons as ‘n gemeente het ‘n Jesus nodig wat ons sal ontmoet waar ons geloof nou is.

 

Jesus klim in die boot.

En Jesus is teleurgesteld nie omdat hulle nie op die water saam Hom kon loop nie maar omdat hulle nie besef het wie Hy was nie.

Ek wonder hoeveel van ons het al God al gesien wonderwerke doen maar jy het dit nog nie persoonlik gemaak nie.  Dit gebeur met al die ander kerke, dit gebeur met al die ander mense.

Het jy Hom op ‘n persoonlike wonderwerkende intieme manier ontmoet, nie 20 jaar terug nie, nee, vandag, op hierdie plek in jou lewe?

Die Here het werklik die laaste jaar ‘n groot wonderwerk vir ons gedoen.  Ons staan nou op 52% van die bedrag wat ons oorspronklik wou insamel so 14 maande terug.

Wat die wonderwerk groter maak is dat ons net 60% mense gehad het wat maandelikse beloftes gemaak het en dit gegee het op die ou einde.  So daar sou ‘n tekort wees.

So die Here het daardie 40% tekort opgemaak plus ons het ‘n tekort voorsien van R2 miljoen wat ons begroot het, ons het gesê, ons weet nie waar dit vandaan sal kom nie.

Wel, die feit dat ons op 52% staan beteken ook dat ons R1 miljoen van daardie tekort ingesamel het.  Selfs buite ons gemeente het meer as R400,000 ingekom.

Die Here het en is besig om groot wonders onder ons te doen.

Kan ons Hom dank en eer vir dit wat Hy gedoen het?

 

Ek wil jou uitnooi, moenie uitmis op hierdie geloofsreis nie.

Ons het ‘n stiltetyd begeleiding wat ons lees sedert verlede Sondag.  Is agter beskikbaar.

Lees dit saam met ons.  Maak tyd om alleentyd saam met God te spandeer.

 

Waar het die wonderwerk van die vissies en broodjies begin?

Jesus het vir hulle gesê, gee vir die mense kos.  En toe het Jesus het hulle gevra, wat het julle?

Hulle moes na Jesus toe bring wat hulle gehad het om te bring.

 

En dit is presies wat ons volgende Sondag gaan doen.

Ons gaan ‘n geloofoffer gee.  Vir die van ons wat reeds betrokke is, gaan dit ‘n herbevestiging wees van ons offer wat ons reeds gebring of belowe het.

Vir die van ons wat nog nie betrokke is in die wonderwerk nie – gaan ons die geleentheid kry volgende Sondag om ons offer vir die volgende jaar te bring.

 

Ons wil dan ook nou uitnooi, kom saam met ons na die tyd.  Of jy ‘n besoeker is of lidmaat.  Of jy betrokke is of nie.

Ons gaan vir julle lekker take-away koffie gee en dan gaan ons om die hoek ry na ons bouperseel toe.  Daar gaan ons vir julle details gee van wat nou gaan gebeur en ons gaan daar ook bid vir die projek en ons afhanklikheid vir die Here bely.

Kom sien met jou eie oë hoe die wonderwerk besig is om te gebeur.