Vereenvoudig jou lewe – Skedule: Wie wil jy graag wees?

[powerpress]

Verlede week het ons gekyk na die EEN ding wat ons nodig het om ons lewe te laat werk en ook om ons lewe te vereenvoudig.  As jy dit gemis het, gaan luister asb. daarna.

Ons het hoofsaaklik gekyk na Lukas 10 met Marta en Maria.

Ons het ook hierdie (prent) emmer gehad wat ons geestelik emosionele emmer is.

Ons het gesê, as jou emmer vol is.  Dan voel dit of jou lewe reg werk, jy bid jou beste gebede, jy voel connected met mense, jy ervaar die Here se teenwoordigheid soveel beter.

 

Maar as jou emmer leeg is, dan is dit of jy gou kwaad word, jy voel nie naby aan mense nie, die Here en jou lewe voel so vêr van jou af.

En toe het ons gekyk na ‘n paar dinge wat jou kan help om jou geestelik, emosionele emmer weer vol te maak.

Vandag gaan ons verder om ons besige lewens bietjie te vereenvoudig en ons siele te unclutter van die dinge wat ons tyd steel.

 

Ons wil die woorde: Ek is oorweldig, ek is uitgeput, ek is besig, uit ons woordeskat haal met hierdie reeks en die lewens leef wat Jesus ons uitnooi om te leef.

Ons het ook verlede week gesê dat ons probleem nie noodwendig ons besige programme is nie maar eerder ons besige siele wat nooit tot rus kom nie.

 

So jaar of wat gelede het ons ‘n nuwe troeteldier gekry, ‘n kat.

Een middag besluit ek om gou by die huis te stop vir middagete voor ek jaag na my volgende afspraak toe.  Vinnig iets geëet en daarna weer in die kar geklim om te jaag.

So kilometer van die huis af hoor ek net ‘n sagte meaouw wat van my kar se enjin af kom.

Ek dog toe ek verbeel myself en ek ry toe verder.  Toe ek die derde meauw hoor oor die radio, dog ek dat ek dalk maar moet stop en kyk of daar nie iets fout is in my enjin nie.

Tot my verbasing sit ons gesin se baba kat op die enjin nadat ek seker 2km van huis af met hom gejaag het.  Hy moet verseker 9 lewens hê want daardie dag het hy sommer ‘n paar van hulle reeds verloor.  My spoed en haastigheid kon sy lewe gekos het.

 

Die van julle wat my goed ken weet ek is baie stadig van geaardheid en jaag nooit iewers heen nie.  🙂 Maar ek leer elke dag meer dat spoed ons vyand is.

Spoed maak dood is dit nie?  Ek is oortuig dat die spoed van ons lewens ons dood maak.

Miskien nie fisies nie, al is meeste van die groot siektes van ons tyd direk gekoppel aan ons lewenstyl, maar emosioneel, verhoudings, geestelik, finansieel?

En die teks wat ons vanoggend al gelees het, daardie unforced rhythms of grace, to live freely and lightly is iets wat nie eers in jou verwysingsraamwerk bestaan nie.

 

Wat is spoed besig om dood te maak in jou lewe?  Waar in jou lewe is jy besig om te sukkel om te oorleef? Kwaliteit tyd saam met jou man of vrou gebeur nie as jy te vinnig leef nie. Goeie besigheidsbesluite gebeur nie wanneer jy jaag na die volgende afspraak nie.

Betekenisvolle gesprekke met God gebeur nie wanneer jy konstant oormoeg is nie.

 

So vernederend as wat ek dit vind moet ek erken dat my lewe met stadiums al absolute choas was a.g.v. besluite en die spoed waarteen ek gelewe het.

Gelukkig het ek 9 jaar gelede totaal en al uitgebrand en depressie gekry om my te leer dat ek die pas van my lewe beter moet dophou en meer bewustelik en stadiger lewe.

Maar as ek na baie ander se lewe kyk dan sien ek dieselfde dinge wat ek in myself gesien het op ‘n stadium toe my werk my hele lewe oorgeneem het en ek konstant probeer het om beter te perform sodat ek goed sal lyk in ander mense se oë.

 

Eksodus 33:7-17  NLV

“Moses het ’n tent ’n hele ent weg van die laer af opgeslaan. Hy het dit “die ontmoetingstent” genoem. As iemand by die Here raad gesoek het, het hy na die ontmoetingstent buite die kamp gegaan. 8 Wanneer Moses uit die kamp na die tent toe gegaan het, het al die mense by die ingang van hulle tente gaan staan. Hulle het Moses agternagestaar tot hy in die tent van ontmoeting ingegaan het. 9 Die oomblik wanneer hy die tent binnegegaan het, het die wolkkolom afgesak. Dit het oor die deur van die tent bly hang terwyl die Here daar met Moses gepraat het. 10 Wanneer die volk die wolkkolom oor die tent se deur sien hang het, het hulle opgestaan en by die ingang van hulle tente gekniel om die Here te aanbid. 11 Binne-in die tent het die Here met Moses gepraat soos vriende wat gesels en mekaar in die oë kyk. Wanneer Moses daarna weer na die kamp toe teruggekom het, het Josua die seun van Nun wat hom gehelp het, daar agtergebly. Hy het nie van die tent af weggegaan nie. 12 Op ’n keer het Moses vir die Here gesê: “U het vir my gesê om hierdie volk te lei na die land wat U aan hulle beloof het. U het egter nooit vir my gesê wie U saam met my gaan stuur nie. U het wel vir my gesê dat U my baie goed ken en dat ek u goedkeuring wegdra. 13 “As dit dan so is, sê asseblief wat u planne is sodat ek kan weet wat U van my verwag. Hierdie mense is tog u eie volk.”14 Hy vra toe vir Moses: “Moet Ek dan self saamgaan sodat jou hart kan rus?”15 Moses sê vir Hom: “As U nie self saamgaan nie, moet U ons nie eers ’n tree van hier af laat beweeg nie. 16 As U nie saam met ons gaan nie, waaraan sal dit duidelik wees dat U vir my en u volk lief is? Hoe anders sal dit duidelik wees dat U anders oor ons voel as oor die ander volke op aarde?”17 Die Here het vir Moses geantwoord: “Goed, Ek sal doen wat jy gevra het. Jy dra my goedkeuring weg. Jy is my vriend.”

 

Die konteks van hierdie stuk is dat God vir Moses gevra het om in ‘n leiersposisie op te tree vir Hom.  God wou ‘n tabernakel vir sy mense bou, ‘n plek waar sy teenwoordigheid kon wees.  God het gedink dat Moses hierdie projek moes lei.

Die opdrag kom NADAT Moses sy roeping van die Here gekry het.

 

Nadat die Here die 10 plae gestuur het.  Nadat die Here hulle bevry het.

Nadat die Here die Rooi see oopgemaak het en die Egiptenare laat verdrink het.

Nadat die Here ‘n verbond met hulle gesluit het en hulle Sy volk gemaak het.

Moses het nogal baie ervaring gehad om saam met God te werk en nou hier in Eks. 33 het hy net een vraag vir die Here: Sal U teenwoordigheid nog steeds saam met my wees?

Eks. 33:14          “Hy vra toe vir Moses: “Moet Ek dan self saamgaan sodat jou hart kan rus?”

 

Moses was altyd gehoorsaam en het die Here se guns op hom gehad.

Maar hier toe hy die tabernakel moet bou en hy die grootste toets het van sy leierskap het hy ‘n saak om met die Here uit te maak.

Ex. 33:12-13      “Moses said to GOD, ‘Look, you tell me, “Lead this people,” but you don’t let me know whom you’re going to send with me. You tell me, “I know you well and you are special to me.” If I am so special to you, let me in on your plans. That way, I will continue being special to you. Don’t forget, this is your people, your responsibility.’”  Message

 

Moses voel uit sy diepte.  Of op die minste bang tot in sy tone.

Hy wil nie ‘n tree gee as hy nie so te sê ‘n waarborg het dat die Here saam is nie.

 

1.  Beweeg saam met God

Moses is heel duidelik meer besorg oor die Here se wil as oor sy eie wil.

Ons sien Moses praat met God van aangesig tot aangesig. Soos twee vriende.

Daar is diepte.  Daar is baie tyd saam gespandeer.  Daar is intimiteit.

Dan sien ons Moses het ‘n tent van samekoms opgesit waar die Israeliete kon kom met hulle vrae en dinge wat hulle wou met hom bespreek.

Moses wou die wysheid en vrede wat Hy gehad het aan die Israeliete oordra deur die tent van samekoms.  Moses het hulle uitgenooi om te kom en hulle het weggebly.

 

Die volk het nie die intimiteit gehad met God wat Moses gehad het nie.

Miskien soos party van ons het hulle gedink hulle het ‘n beter plan.

Hulle het gedink dat hierdie soek na die “wil van God” is nou nie eintlik wat hulle voor tyd het nie.

Miskien was van hulle ouers wat hulle kinders moes homeschool en by al die aktiwiteite uit kry.  Miskien was van hulle besigheids eienaars wat dringende sake moes opvolg.

 

Miskien was van hulle studente wat take en werksopdragte moes uitwerk.

Miskien was van hulle so besig met hulle familie verantwoordelikhede dat hulle nie daaraan gedink het om by die tent uit te kom nie.

Wat ook al die rede was, hulle was te besig, glo dit as jy wil in die woestyn om by die tent van samekoms waar Moses was uit te kom.

 

Ek dink Moses het na die volk, die geliefdes soos die Bybel hulle genoem het, gekyk en hy was woedend binne in homself.  Ons weet net in die vorige hoofstuk 32 dat toe hy van die berg afgekom het was hy so kwaad dat hy die twee kliptafels met die wet op stukkend gegooi het.

Moses het hierdie ongelooflike oomblik met God gehad waar God self met sy vinger op die kliptafels geskryf het en met Hom gepraat het.

En wat kry Hy toe hy onder kom?  ‘n Goue kalf voor wie almal dans en aanbid.

Blykbaar het hulle so verveeld geraak terwyl hy weg was dat hulle dronk geword het, orgies gehad het, en metaal gesmelt het vir ‘n afgod.

 

Moses het eenvoudig genoeg gehad.  Hy het die kliptafels met die wet stukkend gegooi.

Hy het skoon gemaak. Ons sien in Eksodus 32:28 dat 3000 hulle lewens verloor het daardie dag.

Weet jy wat het hom so kwaad gemaak? Nie omdat hulle nie die wet gehoorsaam het nie.

Nie omdat hulle nie gedoen het wat hy gesê het hulle moet doen nie.

Hy was kwaad omdat hulle die “plot” verloor het.

 

Hy was kwaad omdat hy geweet het watter intimiteit daar tussen Hom en God was, en sy eie mense het gekies om hulle eie manier te volg.

Hy wou hulle leer van God se karakter en sy teenwoordigheid.

En wat doen hulle?  Hulle kies hulle eie begeertes en aanbid ‘n afgod.

As Moses vandag hier was sou Hy een ding gesê het, daar is niks wat kan vergelyk as om saam met God te beweeg.  Absoluut niks kan vergelyk daarmee nie.

 

Dink aan God se getrouheid oor jou lewe.  Sal jy dit wil verruil vir jou eie plan?

Dink aan alles wat God vir jou gegee het.  Sal jy dit wil verruil vir ‘n goue kalf?

Dit is presies wat die Israeliete gedoen het.

Dink aan al die seëninge wat jy van Hom ontvang het.

En tog gaan ons aan met ons gejaagde lewe om te dink dat Hy niks daarmee te make wil hê nie.  Ons is besig met die goed wat ons MOET DOEN dat ons reg verby God hardloop.

 

Ek dink Moses sou vandag vir ons sê, “Wil jy God se vriend word?  Sit elke dag tyd uit vir Hom.  Gesels met Hom gereeld.  Maak ‘n afspraak met Hom.

Moenie dat ENIGIETS in jou pad staan nie.  Ek dink hy sou sê, “Ek weet jy dink jou manier is beter.  Maar jou eie getuienis bewys dat dit nie waar is nie.”

Beweeg en leef saam met God, elke uur, elke minuut van die dag.

 

Wanneer jy ‘n belangrike vergadering of gesprek het wat in jou dag gaan gebeur, wat doen jy?  Jy sy vir ‘n paar vriende of jou gesin, vandag 11uur.  Dink aan my, ek het daardie belangrike gesprek wat kom.  Bid vir my, dat die Here my wysheid sal gee.

Dit is presies wat Moses gedoen het.  Die grootste ding in sy lewe het voor hom gelê –

Hy moes ‘n aardse woning vir God bou.  En Hy sê vir God, “Ek gaan dit nie sonder U doen nie.  Nie een tree as U nie saam met my gaan nie.”

 

Eks. 33:15,17    “Toe het Moses vir Hom gesê: “As U nie self saamgaan nie, moet U ons nie van hier af laat wegtrek nie.  Die Here het vir Moses geantwoord: “Ook wat jy nou gevra het, sal Ek doen. Ek is jou goedgesind en Ek ken jou op jou naam.”

As dit jou nie laat voel, ek wil God ook so ken nie, dan ken jy God nog nie goed genoeg nie.  God vind plesier in ons, vriende.  Hy ken jou naam.  Hy wil hê jy moet Hom beter leer ken.

 

En wat doen ons?  “Here, ek moet net hierdie dinge gedoen kry.”

“Here, ek kan net nie vroeg in die oggend opkom nie.”

“Here, dinge gaan so rof by die werk, ek kry nooit my werk klaar nie.”

Of sê ons, “Here, ek stap nie by hierdie deur uit vandag as U nie saam met my is nie.”

 

Jy sien vriende, ek dink ons skedules moet nie opgemaak word deur die dinge wat ons gedoen wil kry elke dag nie.  Want dit is hoe meeste van ons, ons skedule bepaal.

Ons dink aan al die goed wat ons gedoen moet kry sodat ons nie in die moeilikheid by die werk of by die huis gaan kom nie.

Ons TO DO lyste moenie ons skedule bepaal nie.

Eerder, WIE WIL JY GRAAG WEES / WORD?

 

As jy graag iemand wil wees wat God se stem ken en gehoorsaam, dan sal daar daagliks tyd op jou skedule moet wees al is dit net 15 min. om met Hom tyd te spandeer.

As jy graag ‘n ouer wil wees wat kinders in God se wil grootmaak, dan sal jy genoeg tyd met hulle moet spandeer sodat hulle ervaar hulle is belangrik in jou oë.

As jy graag ‘n meer gebalanseerde lewe wil leef, dan sal jy die dele van jou lewe wat te swaar weeg moet afskaal totdat die dinge wat vir jou eintlik belangrik is op jou skedule beland.

 

Ek weet dit klink baie maklik en jy dink nou, wel jy kan dalk jou goed reël soos jy wil maar ‘back in reality’ werk my lewe nie so nie.  Wel, dan wil ek jou herinner aan ‘n iets wat in jou lewe gebeur het te midde van ander realiteite in jou lewe.

Jy het verlief geraak toe jy ‘n voltydse werk gehad het – en raai wat, julle het vir ure gekuier.  Jy het kinders gekry terwyl jy reeds ‘n besige lewe gehad het – en raai wat, jy het tyd gemaak om hulle te voer, te bad, met hulle te speel.

Die dinge wat ons kies word vir ons belangrik.  Maak seker wat jy kies.

 

Wie wil jy graag word?

Watter aanpassings moet jy maak om daardie mens te word?

Dit is baie keer die klein besluite wat soos ‘n domino effek in ons lewens skep en al groter en groter impak het op ons toekoms. Wat is daardie klein domino besluit wat jy vandag moet maak?