50 Dae van Hoop – Week 2: Wat is ware Bybelse HOOP regtig?

 

 

Wat is ware Bybelse HOOP?  Dalk eers wat dit nie is nie.

Dit is nie ‘n ‘wishy-washy’ miskien en ‘n onsekere optimisme nie.  Die moderne idee van hoop is dat dit iets is wat jy verwag maar met ‘n onseker vervulling.  Bybelse HOOP is ‘n indikasie van sekerheid.

HOOP is… ‘n sterk en vaste verwagting.

Klaagliedere is nie juis ‘n boek wat meeste mense lees nie.  Dit is moeilik om te verstaan.

Die rede daarvoor is dat dit nog in die O.T. afspeel en die skrywer se idee van God nog nie gevorm was soos wat ons God leer ken in die N.T. nie.  In kort, die skrywer van Klaagliedere 3 is op moedverloor se vlakte.  Hy voel dat God hulle in die steek gelaat het.

Die konteks daarvan was dat hulle in ballingskap geleef het.  M.a.w. hulle was deel van die groep Judeërs wat ontvoer was deur die Babiloniërs en wat soos slawe moes werk vir hulle.

Dit wat hulle elke dag beleef het was afgryslik.

Hulle het hulle land verloor, hulle tempel verloor (hulle het gedink God bly daar) en hulle hoofstad (wat hulle identiteit gevorm het) verloor.

Die prentjie van God waarmee hierdie skrywer geleef het was dat alles God se toedoen is.  M.a.w. hy leef met ‘n monoteïstiese God.  Goed en sleg kom van die Here af.  Hy het nog nie die bestaan van die bose en ‘n gevalle wêreld verstaan nie.  Hy dink alles wat sleg is, is God wat hulle straf.

So as jy Klaagliedere 3 begin lees voel jy hierdie ou gaan enige oomblik sy polse sny.

Klaagliedere 3:8-11   “Al roep ek en al smeek ek om hulp, Hy weier om my gebed te verhoor.  Hy het my pad met klip toegebou, vir my geen uitkomplek gelaat nie.  Hy is soos ’n beer wat my inwag, soos ’n leeu wat my voorlê, Hy het my eenkant toe gekeer en verskeur, my vermink laat lê.”  AFR83

Hy is kwaad vir God.  As God dan vir hulle omgee en ‘n God van ontferming is, hoekom lê alles nou in so gemors?  Hoekom lyk dit soos ‘n gebrande veld om hulle?

Klaagliedere 3:18-19“Ek het gedink dit is klaar met my en met my hoop op die Here. Die gedagte aan my ellende en my vreemdelingskap is gal en gif vir my.”  AFR83

Hierdie is iemand wat begin twyfel het.  Nie in God se bestaan nie maar in God se goedheid.  Dalk het jy al ook by hierdie plek in jou lewe uitgekom.

Jy doen alles wat ‘n kind van God moet doen.  En tog gebeur daar goed wat ons laat voel dat God sy rug op ons gedraai het.

Jy bid maar iemand wat siek is word nie gesond nie.  Jou besigheid wat soos al die ander geraak deur die ekonomiese resessie.  Jou kind, jou huwelik, jou kom nie reg nie.  Dit is dan wat mens voel, as Hy dan almagtig is, hoekom gryp Hy nie in nie?  En as Hy nie daarvoor verantwoordelik is nie, waarom laat Hy dit toe?

Maar dan kom daar ‘n wending in sy uitkyk in vers 21.

Klaagliedere 3:21-23  “Maar dít sal ek ter harte neem en om dié rede bly ek hoop: deur die liefde van die Here het ons nie vergaan nie; daar is geen einde aan sy ontferming nie, dit is elke môre nuut. U trou is groot.”  AFR83

Wat het gebeur?  Is daar iets waarvan ons nie gelees nie?  NEE.  Daar was geen geestelike oorwinning of deurbraak wat plaasgevind het nie.  Dit is ook nie of hy homself “regruk” en weer geloof “inpraat” nie.

“God se ontferming en genade gee vir my hoop – vir myself en die vir die wêreld.” – Billy Graham

  1. HOOP is ‘n bewuswording van ‘n groter realiteit in my.

Hy raak weer bewus van iets wat seker van kinds af aan hom oor en oor vertel is.

God is getrou.  Sy getrouheid en liefde in die verlede bring vir hom weer hoop.

Onthou, niks het verander nie.  Hy ervaar nog steeds lyding en swaarkry.

Hy voel nog steeds dat God hom wil uitwis op die oomblik.

 

Maar daar kom ‘n nuwe bewussyn by hom: daar is geen einde aan sy ontferming nie.

Dit wat ek nou hier beleef is nie al wat daar is nie.  Daar is ‘n groter realiteit aan die werk.

Vir ons wat die N.T. verstaan kan ons sê dat Christus in my, die Een word op wie ek HOOP.

*Christus IN MY is die HOOP wat lewe.  Nie dit wat ek sien en beleef om my elke dag nie.

Die digter van Klaagliedere sê, “ek is nog nie dood nie.”

En terwyl ek nog nie dood is nie is daar HOOP wat hier binne my aan die lewe is.

 

So seker soos die son wat elke dag weer opkom, so seker is dit dat God se liefde en ontferming daar is.

Dan is dit ons teksvers van hierdie week:

Klaagliedere 3:24       “Ek sê vir myself: Die Here is my lewe, daarom hoop ek op Hom.”

Hy sê dat hy alles verloor het.  Sy land, sy tempel, sy koning.

Al erfdeel wat hy oor het, is die Here self.  Al die ander goed wat my so valse hoop gegee het, is weg.  Nou het ek Hom alleen, en daarom kan ek weer HOOP.

Die hoop van die digter bly broos en breekbaar. Hier is geen goedkoop waarborge nie.

Klaagliedere 3:29       “Miskien is daar hoop…”

Al wat hy het, is God se beloftes, maar dit is vir hom genoeg.

 

  1. HOOP is gebaseer op God se karakter en beloftes.

As jy verder lees sal jy sien dat hy nog worstel met die Here wat hom straf.

Maar wat hy sê is al straf God my nou, in Sy hart, in Sy karakter is Hy ‘n God wat liefdevol is en wat Hom ontferm.  Daarom is daar HOOP.  Daarom wag ek op die Here.

 

‘n Mens sien nie ‘n verandering in sy tydelike omstandighede nie.

‘n Wonderwerk gebeur nie en daarom het Hy weer HOOP nie.

Al wat gebeur is dat hy bitter eerlik sy hart teenoor God uitstort en uit hierdie worsteling groei nuwe hoop.  Hy maak hom vas aan God se karakter en sy beloftes.

Al voel dit nou of Hy my afbreek, Hy gaan my weer opbou.  Moeilike tye is nie vir altyd nie.

Daar is ‘n groter realiteit wat in my lewe aan die werk is, meer as net die hier en nou.

En omdat ek weet en gesien het hoe God in die verlede met liefde en genade opgetree het, weet ek, Hy gaan weer in die toekoms my lot verander.

“Die Christelike hoop is nie dieselfde as “the power of positive thinking” nie; die Christen se hoop lê in die wete: Selfs in my uiterste nood is God steeds daar; selfs in my diepste eensaamheid is ek nie alleen nie, want Hy is deur sy Gees by my. Ek weet dat my lewe opgeneem is in God se groter verhaal. My pyn, my verlies… is in God se hande – nie omdat Hy dit bewerk het nie, maar omdat Hy dit in sy hande neem en daarmee werk sodat daaruit iets goeds kan voortkom. Wát die goeie is wat God vir ons bewerk, dit verstaan ons nie altyd nie. Baiekeer weet ons dit eers heelwat later, en soms nooit nie. Maar Christelike hoop is om te weet dat my lewe en my lotgevalle in die goeie Vader-hande van God is – dieselfde hande waarmee Hy besig is om ‘n nuwe, beter wêreld tot stand te bring.”  Andre Bartlett

 

  1. Wanneer jou hoop vervaag, fokus dan op die Here.

Wie is die bron van jou hoop?

Ons het 2 weke gelede gesê dat Hoop soos ‘n emosionele tenk is wat vol is of leeg is.

Ek dit vra ‘n aktiewe commitment van my kant af om seker te maak dat die tenk vol is.

Dit is amper soos die Israeliete wat elke oggend moes uitgaan en manna gaan optel het.

Hulle kon nie vandag gister se manna eet nie.

 

Daar is iets wat met ons gebeur die oomblik wanneer ons elke dag weer manna optel.

Die oomblik wanneer ons bewus raak van die groter realiteit in ons lewe.  Die H.G.

Daar is iets wat in ons gebeur wanneer ons Sy genade en ontferming ervaar more oggend.

Klaagliedere 3:23       “… daar is geen einde aan sy ontferming nie, dit is elke môre nuut. U trou is groot.”  AFR83

 

As dit dan elke more nuut is, dan beteken dit tog dat die lewe ons slaan en dat ons hoop gaan verloor.  Soos wat die dag aangaan, lek die hoop in ons lewe uit.

Teen vanaand is ons moedeloos en voel ons niks is die moeite werd nie.

More oggend moet ek weer kom by die bron van my HOOP.

Anders begin ek met ‘n agterstand, anders is ek more pessimisties en negatief.

 

Dit is amper soos beskerming.  As ek my kind gister beskerm het teen gevaar en ek los hom vandag alleen in die gevaar, dan help dit min dat hy roem op my beskerming van gister… Dit moet elke môre nuut wees.

Rom. 8:24-25     “Ons is immers gered, en ons het nou hierdie hoop. Wat ’n mens al sien, hoop jy tog nie meer nie. Wie hoop nog op wat hy reeds sien? Maar as ons hoop op wat ons nie sien nie, wag ons daarop met volharding.”  AFR83

Ons ervaar en ons wag op ‘n groter realiteit in ons lewe.  Partykeer sien ons hierdie perfekte wêreld van God in ons gebroke wêreld maar meeste van die tyd sien ons dit nie.

Partykeer kom daar ligstrale van liefde, regverdigheid en vrede.

Meestal deur God se kinders.  Maar die volmaaktheid het nog nie gekom nie.  Dit kom nog.

Daarom het ons HOOP.  Ons steek ‘n lamp op in ‘n donker wêreld.  Maar die Lig wat elke stukkie donker gaan verdryf kom, ons leef met die belofte.

 

Wanhoop en moedeloosheid is om in die donker te bly sit. Hoop is om ‘n lamp op te steek.

Dit is nie baie moeilik om soos die digter van Klaagliedere te voel nie.

Veral nie as jou prentjie van God soos die man s’n lyk nie. En die prentjie lyk min of meer so. God is ʼn goeie God. God is soos ʼn goeie oupa wat alles wat in hierdie wêreld gebeur bestuur. En as jy sy kind is, sal Hy keer dat niks wat sleg is met jou gebeur nie. En dan kom die ontnugtering.  Iets gebeur met jou wat met die volgende persoon gebeur.

 

Maar wat laat hom dan verander?

Wat ontdek hy as hy kyk na die afgebrande stad en die tempel wat ʼn ruïne geword het? Wat tel hy tussen die rommel van die stad op om met homself saam te neem die toekoms in? Vir God…! Dis die die verrassende ding van twyfel. Twyfel worstel met God, maar wil ook nie sonder God nie. As jy weet waarvan ek praat sal jy ook weet dat twyfel met die Here stoei en sê, Here ek verstaan jou nie, maar ek kan/wil jou ook nie los nie!

Dis min of meer wat met die klaer in Klaagliedere 3 gebeur. Hy mor en klae oor dit wat met hom gebeur het, en tog hou hy aan God vas. Want al verstaan hy op hierdie moment nie vir God nie, gryp hy vas en klou hy vas aan dit wat hy wel van God ken.

Ek verstaan God nie op hierdie moment in my lewe nie, weet ek v. 22, sy liefde is groot.

Al voel dit vir my asof ek klippe kou, weet ek ook v. 22, daar is geen einde aan sy ontferming nie.

Al voel dit vir my asof hy my alleen gelos het, v. 23 weet ek dat U trou is groot – U sal my nooit los nie!

Selfs Jesus worstel en klae by God. “My God, my God, waarom het U my verlaat?

So asof Hy daarmee wou sê, ek verstaan nie. Waarom die lyding? Waarom die swaar? Het U my nou heeltemal alleen gelos?

Dis woorde van Iemand wat met God worstel. Maar dan net voor Hy sy laaste asem uitblaas, bid Hy die gebed wat elke Jood van kleins af leer om te bid as die son begin sak. Die aandgebed – “Vader, in U hande gee ek my gees oor….”

Ek verstaan nie, maar Ek hou aan U vas!