Vergete waardes – Lojaliteit

[powerpress]

Lojaliteit is iets wat besig is om uit te sterf.  Ons leef vandag in ‘n kitsbevredigende en verbruikersgeoriënteerde samelewing waar ons so vinnig van iets verander soos wat dit ons pas.

Net hierdie week het ek en Eugene ‘n gesprek oor ons internet data.  Ons is op ‘n mobile data pakket by die huis wat ons 8GB per maand gegee het en nou het hulle dit verminder na net 4GB toe. Die aanloklikheid van hierdie pakket was dat dit net maand tot maand was.  Eers was ons by ‘n ander mpy, toe hulle die data halveer het, toe skuif ek eenvoudig oor na ‘n ander mpy wat my dubbel die data gee.

Nou doen hulle dieselfde, en ons is opsoek na ‘n mpy wat weer vir ons 8GB kan gee vir minder as R200 p.m.  Met die druk van ‘n paar knoppies kanselleer ek my subskripsie by die een mpy en beweeg na ‘n ander mpy toe.  Geen lojaliteit nie.

 

Meeste van ons sal voel maar dit is normaal, ons almal ‘shop’ rond as dit by sulke goed kom.  Maar ons dislojaliteit gaan selfs verder.  Ons verbruikers mentaliteit begin by feitlik elke fasset van ons lewe insluip.  Selfs by dinge soos verhoudings.

Daar word bereken dat die gemiddelde persoon vandag eers sal “settle” na 15 verskillende verhoudings, waarvan twee ernstige langtermyn verhoudings was en ‘n ouderdom van 35 jaar bereik is.

En wat lê in die kern van hierdie dislojaliteit?

1. Die gevoel dat ek my opsies wil oop hou.  Net dalk kom daar iets beter my pad langs.

2. Onmiddelike bevrediging.  Ek wil iets hê en ek wil dit nou hê.  Iets beter is nou voor my deur.

3. ‘n Onwilligheid om enige ongemak of pyn te verduur.  Dinge moet basies gaan soos dit my pas en as daar nie iets vir my daarin is nie, dan wil ek dit verander.

 

Lojaliteit is verseker ‘n waarde wat in vandag se samelewing besig is om te verdwyn.

Iewers in die middel van ‘n begrafplaas in Penang Maleisië is daar ‘n ongewone standbeeld tussen al die grafte.  Dit is nie ‘n standbeeld van ‘n man of vrou of ‘n ‘saint’ nie maar ‘n hond.  Die storie gaan dat die dag wat die hond se baas se begrafnis was het hy die begrafnis stoet gevolg tot by die plek waar sy baas te ruste gelê is en hy het daar gebly tot hy self gesterf het.  Die familie het toe ‘n standbeeld opgerig om die getrouheid en buitegewone lojaliteit van die hond te herdenk.

Loyal dog statue

Nog ‘n verhaal van sulke buitengewone lojaliteit sien ons in 2 Sam. 15:13-23

“Daar het spoedig ’n boodskapper in Jerusalem aangekom en koning Dawid meegedeel: “Die hele Israel het in ’n sameswering teen u by Absalom aangesluit!”  “Kom, ons moet onmiddellik gaan,” sê Dawid aan sy ondersteuners by die hof, “anders sal ons nie van Absalom kan ontvlug nie. Maak gou voordat hy ons inhaal en ’n ramp oor ons bring en die stad met die swaard oorweldig.” “Wat U Majesteit sê, sal ons doen,” antwoord hulle. Die koning en sy huishouding het toe dadelik per voet vertrek. Hy het net tien van sy byvroue agtergelaat om die paleis te versorg. Die koning en sy mense het te voet gevlug, maar by die laaste huis het hulle gaan stilstaan. Dawid se manskappe het almal by hom verby beweeg, asook die Filistynse huursoldate en die 600 man uit Gat.

Terwyl hulle voor die koning verbytrek, vra hy vir Ittai, die leier van die manskappe uit Gat: “Hoekom kom jy saam met ons? Gaan terug met jou manne na koning Absalom toe, want jy is ’n uitlander, ’n vreemdeling in ballingskap. Jy het maar kort gelede hier aangekom. Moet ek jou dan laat rondswerf terwyl ek nie weet waarheen ons gaan nie? Gaan gerus terug en neem jou manskappe saam met jou, en mag die Here se goedheid en trou met jou wees.”  Maar Ittai antwoord die koning: “So waar as die Here leef en u lewe, waar my heer die koning ook al is, daar sal ek ook wees, in dood of in lewe.”  Dawid het geantwoord: “Goed dan, kom saam!” Ittai en sy 600 manne en hulle families het toe saamgegaan.  Daar was groot droefheid in die stad en daar is hardop gehuil toe die koning en sy volgelinge verbytrek.

Hierdie krisis in Dawid se lewe het die geleentheid geskep vir buitengewone lojaliteit om te wys.  Is dit nie soms hoe dit gaan nie.  Lojaliteit word nie gewys wanneer almal gelukkig is en veilig is nie.  Dit word gewys wanneer dinge skeef loop en veral wanneer dinge vir jou skeefloop.

 

1. Buitengewone lojaliteit word gewys wanneer daar geen plig is nie.

Kyk, as jy ‘n selfoon kontrak het vir 2 jaar is jy lojaal vir 2 jaar.  Elke maand.

Hoekom?  Want dit is jou plig.  Jy het daarvoor gecommit.

As jy nou hierdie maand dink, aaagg ek is nie meer lus vir Cell C nie en jy het nog 22 mde oor op jou kontrak, dan het jy nie ‘n keuse nie, het jy?

Maar as jy geen plig het om by iets of iemand te bly nie, dan is dit buitengewone lojaliteit.

 

Absalom was Dawid se 3de seun van sy vrou Maka.  Hy was ‘n baie aantreklike man wat sy half-broer vermoor het omdat hy sy suster Tamor verkrag het.

Daarna het hy gevlug na sy ma toe en vir 3 jaar daar gebly.

Na 3 jaar het een van Dawid se generaals, Joab, vir Absalom teruggebring.

In plaas daarvan dat Absalom sy pa se genade terugbetaal deur hom oor te sien, het hy begin om steun te werf in Dawid se koninkryk.

Hy het hulle geregtigheid belowe en hulle vertel dat hy hulle meer regte sal gee as hy kroon gehad het.  So paar jaar later besluit om ‘n staatsgreep uit te voer.

 

Die sameswering het verder gegroei toe Absalom die steun van Agitofel, een van Dawid se mees senior raadgewers en ‘n baie skerp man, gekry het.

Vinnig het dit gelyk of die meederheid mense aan Absalom se kant was.

Dawid was ‘n goeie koning met ‘n herdershart wat altyd vir die belange van sy volgelinge uitgekyk het, selfs wanneer hy persoonlik onder baie druk was.

 

Hy was nie bereid om in ‘n oorlog met sy eie mense in te gaan, wat hy waarskynlik sou wen nie omdat hy geweet het dat duisende onskuldige mense sou sterf a.g.v. ‘n geveg tussen hom en sy seun.

Hy kies om sy koningskap prys te gee t.w.v. bloedvergieting wat sou kom.

Soos wat hy Jerusalem uitgevlug het saam sy familie en diensknegte, het Dawid gestop by die buitewyke van die stad om van sy soldate bymekaar te maak of te groet.

 

Van die laastes wat hy groet is Ittai van Gat, ‘n Filistynse stad.

Ittai was reeds uit sy land weg om te gaan veg as huursoldaat.  En nou kies hy om weer te vlug saam met Dawid.  Daarom vra Dawid vir hom, hoekom wil jy saam met ons gaan?  Jy is mos nie ‘n Jood nie, jy is ‘n vreemdeling.

 

As ‘n huursoldaat kon hy vir enige koning geveg het wat hom die beste betaal het.

So hy was onder geen verpligting om by Dawid te bly nadat Dawid hom laat gaan het. Ittai was waarskynlik ook ‘n persoonlike wag vir Dawid gewees omdat die konings in antieke tye gewoonlik uitlanders gebruik het as wagte omdat hulle nie deur interne politiek of konflik geraak sou word nie.

 

Lojaliteit.  ‘n Vergete waarde in vandag se tyd.  Hou eerder jou opsies oop…

Die Amerikaanse Dept. van Arbeid skat dat vandag se studente tussen 10 en 14 werke sal hê wanneer hulle die ouderdom van 38 jaar oud bereik.

In Amerika is 1 uit 4 werkers is by hulle huidige werkgewer minder as ‘n jaar.

En 1 uit 2 is by hulle werkgewer minder as 5 jaar.

 

Maar Lojaliteit is ‘n sterk waarde in die Bybel.

Trouens dit is een van die vrugte wat die Heilige Gees veronderstel is om in ons lewens te werk.  Onthou jy nog die vrugte van die Gees in Gal. 5:22-23

“Maar die vrug wat die Gees voortbring, is: liefde, vreugde, vrede, geduld, vriendelikheid, goedheid, getrouheid, sagmoedigheid en selfbeheersing.”  NLV

 

2. Buitengewone lojaliteit word gewys wanneer daar geen voordele is nie.

Wanneer dinge goed gaan of die beloning goed is, dan is dit maklik om lojaal te bly.

Maar wanneer dit moeilik, ongemaklik of nie gaan soos jy dit wil hê nie, dan is dit deesdae veel eerder ‘n waarde om weg te stap en te sê, my tyd by die persoon of die plek is verby.

 

2 Sam. 15:20     “Moet ek jou dan laat rondswerf terwyl ek nie weet waarheen ons gaan nie? Gaan gerus terug en neem jou manskappe saam met jou, en mag die Here se goedheid en trou met jou wees.”  NLV

Daar is geen beloning vir Ittai nie.  Trouens hy sou waarskynlik moes vlug vir sy lewe.

Dawid sê vir hom, hoekom wil jy ‘suffer’ deur te vlug?  Ek het niks vir jou nie.

Gaan terug en dien die nuwe koning, hy sal jou breed vergoed.

Dawid het absoluut niks gehad om vir Ittai te bied nie.  Nie eers in die toekoms nie.

Meeste mense assoseer hulself met ‘n opkomende ster soos Absalom, nie ‘n vallende ster soos Dawid nie.

 

Daar is sommige mense in hierdie wêreld wat werklik glo dat elke persoon se lojaliteit ‘n prys het.  Enigiemand kan lojaal wees as daar voordele is, as dinge gewaarborg is.

Maar wat as die voordele verdwyn en dinge moeilik vir jou raak?

Met jou man of vrou?  Hoe vêr gaan jou lojaleit of getrouheid?  Net totdat jou behoeftes nie meer aangespreek word nie?

Met jou werk?  Verander vir ‘n paar rand meer.  Werk jy net hard wanneer jy weet daar is voordele vir jou daarin en daar ‘n beloning sal wees?

 

Vandag is Vadersdag:  Iewers in jou lewe verander jou prentjie van jou pa nogal drasties.  Vir baie mense gaan hy van ‘n “hero” tot ‘n “zero”.

Van iemand wat alles kan doen tot iemand wat niks weet nie.

Ons verwag mos dat hy perfek moet wees want EK is mos so perfek…

 

Nee, ek dink lojaliteit, getrouheid beteken dat ek hom aanvaar met sy foute en hom onvoorwaardelik liefhet en aanvaar met sy tekortkominge.

Is dit nie wat liefde veronderstel is om te wees nie?

1 Pet. 4:8  “Die belangrikste van alles is dat julle mekaar onselfsugtig moet liefhê. Sulke liefde maak baie sondes toe.”  NLV

Dit beteken liefde maak dat ek verby baie van my pa, my man, my vrou, my pastoor, my kerk se onvolmaakthede kyk, en sê ek het jou nog steeds lief want ek weet ek is ook nie perfek nie.

 

Ittai het geen voordele gehad om lojaal aan Dawid te bly nie. Hy alles gehad om te verloor.

Maar hy het bewys dat hy nie ‘n oppertunis was nie en later is hy beloon toe hy dit nie verwag het nie.

Hy was die bevelvoerder van ⅓ van Dawid se troepe toe hulle teen Absalom geveg het.

 

Dit was ‘n donker tyd in Dawid se lewe.  En in hierdie donker tyd toe hy niks gehad het om iemand te bied nie het Ittai se lig geskyn.

Buitengewone lojaliteit kom wanneer dit nie verwag word nie en feitlik almal besluit om weg te stap.

 

Dawid se vlees en bloed wil hom doodmaak.  Maar ‘n onbetaalde dienskneg is bereid om sy lewe te gee.  Hy was nie die eerste persoon wat sulke ewige lojaliteit belowe het nie.

Jare voor hom het Dawid se groot ouma grootjie, Rut, ook ‘n vreemdeling, haar trou aan haar skoonma Naomi belowe.

Rut 1:16-17        “Maar Rut het geantwoord: “Moet my tog nie dwing om van u af weg te gaan en om om te draai nie, want waar u gaan, sal ek gaan; waar u bly, sal ek bly; u volk is my volk; u God is my God; waar u sterf, sal ek sterf en daar sal ek begrawe word. Ek lê ‘n eed af voor die Here: net die dood sal ons skei.”  AFR83

 

Ek gebruik baie keer hierdie teks wanneer ek mense trou want dit is soos huweliksbeloftes hierdie.   Ittai se woorde:

2 Sam 15:21      “So waar as die Here leef en u lewe, waar my heer die koning ook al is, daar sal ek ook wees, in dood of in lewe.”

 

Wanneer is lojaliteit belangrik?  Is dit in goeie tye of in slegte tye?  Eintlik albei.

As jy nie lojaal kan wees in goeie tye nie wat laat jou dink dat jy lojaal sal wees in slegte tye.

 

Waar het ons lojaliteit die meeste nodig?

Eerstens by die huis.  In goeie tye en in slegte tye.

Dan in my ander verhoudings.  In goeie tye en in slegte tye.

In die kerk.  In goeie tye wanneer alles lekker gaan en die moraal hoog is en in slegte tye wanneer ons getoets word.  Gaan ek steeds lojaal bly of gaan ek aanbeweeg na ‘n plek toe waar daar op die oog af niks probleme is nie.

In ons werksplek – wanneer tye goed is en wanneer daar dalk moeilike tye is.

In ons land – woah, is ons dislojaal op die oomblik.  Want dit gaan mos nie so goed op die oomblik nie.  Nee, ons sal onsself eerder met lande vergelyk wat ‘n paar duisend jaar se geskiedenis het en nie nou enige groot probleme het nie.

 

Jou ware vriende is die mense wat na vore tree wanneer jy in ‘n krisis is.

Hulle bly lojaal selfs al is daar geen voordele vir hulle in dit nie.

Hulle bly lojaal selfs wanneer dit nie hulle plig is om jou te help nie.

Jy is baie ryk as jy sulke vriende het.

 

En jy het so Vriend.  ‘n Vriend wat nader as ‘n bloedbroer is.  Sy naam is Jesus.

Hy het jou niks geskuld nie, en jy het Hom alles geskuld.

Hy kon geen voordeel kry om jou te aanvaar nie, jy kan in die lewe en vir ewig voordele kry deur Hom te aanvaar en lief te hê.

En tog het Hy jou liefgehad met ‘n liefde wat meer is, as wat jy nog in hierdie lewe ooit ervaar het.  En Hy nooi jou uit – wil jy nie ook My vriend wees nie?