Vergete waardes – positiewe denke

[powerpress]

Hierdie week het ek ‘n uitstekende artikel gelees (http://maroelamedia.co.za/blog/goeiegoed/as-die-rykes-moan-wat-moet-die-armes-doen/) wat deur Jaco Strydom geskryf is.

Die artikel se titel is:  “As die rykes ‘moan’, wat moet die armes doen.”

Hy skryf in die artikel dat hy nou die dag by die blanke plakkerskamp net buite Pretoria was.  Saam met hom was Karabo, ‘n vlugteling seun uit Midde-Afrika.

Terwyl hulle so tussen die omheinde wendyhuisies loop vra hy vir Karabo:

“What do you think about this place?”  “Hooo, it’s nice!” sê hy, “Is it a holiday place?”

En net daar besef hy hoe relatief armoede en rykdom is.  As hierdie mense volgens Karabo ryk is, wat is ons?

 

Jaco skryf verder dat hy gereeld met middelklas jongmense gesels waarvan meeste in goeie skole is, hulle ouers mooi karre ry, hulle elke naweek braai en hulle gereeld naweke weg en met vakansie.

Gereeld loop hy een raak wat nie ‘n goeie woord vir Suid-Afrika te sê het nie.  Hulle sien geen toekoms nie.  Hulle kan nie wag om te emigreer nie.  Vra jy hulle wat gebeur het, gaan dit selde oor ‘n krisis wat hulle persoonlik ervaar het.  Hulle het maar gehoor wat sê die ooms om die braaivleisvure en het dinge op die internet gelees.

 

Selfs die werkloosheidargument werk nie altyd so lekker nie.  Alhoewel Suid-Afrika ‘n skokkende wewrkloosheidsyfer van 25% het, is die werkloosheid onder blankes minder as 7%, baie dieselfde as in Europa en eintlik heelwat beter as in lande soos Spanje, Italië, Griekeland, Frankryk en Portugal.

Die oumense het swaarkry en armoede anders verstaan.  Hulle het in die goeie jare lêhenne gehad, self groente geplant, vrugte gedroog en hulle eie naaldwerk gedoen.

Swaar jare het hulle verstaan as ‘n tyd toe hulle moes seep kook en koeksusters maak om te gaan verkoop op die dorp gedurende die depressiejare.  Hulle het klere was gelap of uit sakke gemaak en daar was nie geld vir skoene vir die kinders nie.

 

Hy wonder wat die mense in die Bybel sou gesê het as hulle kon sien waaroor ons vandag so te kere gaan en hoe jammer ons onsself kry.  Die Bybel is nie ‘n verhaal van kerkmense wat in gemak lewe, naweke gebraai het en gereeld op vakansie gegaan het nie.  Van die begin af was dit ‘n verhaal van mense wat uitgestaan het in moeilike tye.  Groot dele van die O.T. speel af teen die agtergrond van slawerny in Egipte, die Assiriese ballingskap en die Persiese onderdrukking.

In Jesus se tyd was dit die Romeinse onderdrukking.  Gereeld lees mens byvoorbeeld in Handelinge van die vervolging van die vroeë kerk deur die Romeine en die Jode.

 

Die Bybel draai nie doekies om oor die realiteit van die stukkende wêreld waarin ons ‘n verskil moet maak nie.  Mense wat kerm dat dit vandag erger gaan as ooit te vore, weet nie waarvan hulle praat nie.  As Eskom se kragonderbrekings jou histeries aan die moan sit, wees bly jy leef vandag, want ‘n Babiloniese ontvoering of Assiriese aanval sou jou verander het in ‘n totale senuweewrak.

 

God se mense het regdeur die geskiedenis juis hulle merk in die donkerste tye gemaak.

Die moeilikhede het juis gewys wie hulle was.  Dink jou in: ‘n Moses sonder Egipte, ‘n Dawid sonder ‘n Goliat of ‘n Daniël sonder ‘n leeukuil.

Lig skyn al helderder soos wat dit donkerder word.

Gelowiges is veronderstel om mense met hoop te wees, postiewe mense.

Niks is gevaarliker as die goed wat in ons eie koppe aan die gang is nie.

 

Paulus gee ons uitstekende raad in:

Fillippense 4:8  “…vul julle gedagtes met alles wat waar, eerbaar, skoon, suiwer, lieflik en lofwaardig is.”  NLV  “whatever is true, whatever is noble, whatever is right, whatever is pure, whatever is lovely, whatever is admirable if anything is excellent or praiseworthy think about such things.”  NIV

As jy nog nie hierdie vers gememoriseer het nie, dan behoort jy, want dit kan jou hele uitkyk op die lewe verander.

Want waarop is meeste mense se gedagtes?  Die TV, die nuus, tydskrifte, skindernuus.

En wat gaan in ons gedagtes aan?  Onwaar, oneerbaar, onrein, onsuiwer gedagtes.

Geen wonder die waarde van positiewe denke is besig om uit te sterf nie.

 

Ek het ‘n voorstel: Kom ons breek die patroon vanoggend.  Kom ons kyk na Paulus en hoe hy op die positiewe gefokus het.

Fillippense 1:12-26    “Julle moet weet, broers en susters, dat dit wat met my gebeur het, gelei het tot bevordering van die Goeie Nuus.  Dit het vir almal hier, ook vir die soldate van die paleiswag, duidelik geword dat ek in die tronk is ter wille van Christus.  En die meerderheid medegelowiges hier is só deur my gevangenskap in hulle vertroue in die Here versterk dat hulle dit al hoe meer waag om oor die boodskap van God te praat sonder om bang te wees.  Daar is wel sommige wat dit doen omdat hulle jaloers is of iets teen my het, maar daar is ook ander wat Christus met goeie bedoelings bekendmaak.  Hulle doen dit uit liefde omdat hulle weet dat ek hier is om die Goeie Nuus te verdedig.  Maar dié wat in eiebelang Christus verkondig, doen dit met onsuiwer motiewe. Hulle bedoeling is om die swaarkry van my gevangenskap nog swaarder te maak.  Maar wat maak dit saak? Of hulle motiewe nou onsuiwer of suiwer is – die feit is dat Christus op allerhande maniere verkondig word, en daaroor is ek baie bly!  My blydskap sal ook voortduur, want ek weet dat deur julle voorbidding en die hulp van die Gees van Jesus Christus alles op my vrylating sal uitloop.  Dit is my strewe en hoop dat ek nooit iets sal doen waaroor ek my sal hoef te skaam nie. Ek wil eerder, soos nog altyd, ook nou in my hele bestaan – of ek bly leef en of ek moet sterf – Christus met volle vrymoedigheid verheerlik.  Want vir my is die lewe Christus, en die sterwe wins.  As ek aanhou lewe, kan ek vrugbaar werk. Ek weet regtig nie wat om te kies nie!  Ek is in ’n tweestryd. Aan die een kant verlang ek om te vertrek en bý Christus te wees, want dit is vir my verreweg die beste.  Aan die ander kant is dit vir julle belangriker dat ek bly lewe.  Dit weet ek vas en seker: my blywende betrokkenheid by julle almal sal daartoe lei dat julle groei en blydskap in julle geloof sal beleef.  Dan, wanneer ek weer by julle is, sal julle nog meer rede hê om dit wat Christus Jesus deur my gedoen het, te besing.”

 

Paulus noem ‘n paar baie negatiewe dinge wat in sy lewe aan die gang is.  Maar dan gaan Paulus verder om te wys hoe God hierdie dinge gebruik in ‘n positiewe manier.

1.  Onaangename omstandighede

Fillippense 1:12         “Julle moet weet, broers en susters, dat dit wat met my gebeur het, gelei het tot bevordering van die Goeie Nuus.”

Ons dink dat ons probleme het, is dit nie?  Hoe vergelyk jou lys met die van Paulus s’n?

Hoeveel keer was jy al in die tronk?  Hoeveel keer is jy al met stokke en swepe geslaan?

Hoeveel keer is jy al gegooi met klippe tot hulle gedink het jy is dood?

Hoeveel keer is jy al ‘n dag en ‘n nag op die oop see gelos, of sonder kos en water?

Hoeveel keer is jou lewe letterlik daagliks in lewensgevaar?

En wat sê Paulus hiervan?  Dit het gelei tot die bevordering van die evangelie.

Dit het die pad oop gemaak sodat die goeie nuus van Jesus nog beter verkondig kon word.

 

Fillippense 1:12         “Dit het vir almal hier, ook vir die soldate van die paleiswag, duidelik geword dat ek in die tronk is ter wille van Christus.”

Hier is wat gebeur het.  Vir 24uur ‘n dag was Paulus aan ‘n Romeinse soldaat vasgeketting.  Elke 6 ure net ‘n nuwe soldaat gekom en homself aan Paulus vasgeketting.  Maar vir Paulus was hierdie ‘n uitstekende geleentheid om hierdie soldaat van Christus te vertel.  En dit het gewerk.  In die laaste hoofstuk van Fil. lees jy van die soldate van Caesar wat tot inkeer gekom het, wat die ander gelowiges groet.

 

Daar was nog ‘n positiewe resultaat.

Fillippense 1:14         “En die meerderheid medegelowiges hier is só deur my gevangenskap in hulle vertroue in die Here versterk dat hulle dit al hoe meer waag om oor die boodskap van God te praat sonder om bang te wees.”

Paulus sê, a.g.v. my moeilikhede en die dinge wat met my gebeur het is ander gelowiges bemoedig.  Hulle het gesien hoe God my beskerm en my krag gegee het.

Hulle het ook moeilike omstandighede wat vir hulle wag maar omdat hulle gesien het hoe God vir my sorg, weet hulle dat God vir hulle ook sal sorg.

God gebruik selfs die mees negatiefste omstandighede.  Maar ons houding of positiewe denke kan hulle in verander in positiewe dinge.

 

Eugene het hierdie week vir ons vertel van sy pa wat altyd gesê het dat ons probleme soos die Voortrekker monument is.  As jy voor hom staan dan is hy enorm.  As wat jy sien is hierdie reuse gebou.  Maar as jy so entjie weg ry en dan kyk, dan lyk die monument klein.  So klein dat jy hom met jou vinger kan toemaak.

As jy heeldag net gaan vaskyk in jou probleme, gaan hulle enorm vir jou wees.

Maar as jy jou uitkyk so bietjie verander en terugstaan, dan lyk hulle klein.

 

2.  Onredelike mense

Fillippense 1:15         “Daar is wel sommige wat dit doen omdat hulle jaloers is of iets teen my het, maar daar is ook ander wat Christus met goeie bedoelings bekendmaak.”

So baie keer is ons teenstand in die vorm van mense wat teen ons staan.

Wanneer iemand jaloers is, wat doen hulle?  Hulle probeer om iemand anders af te trek.

Hulle lys al die negatiewe dinge van iemand en dink deur die persoon af te trek gaan hulle hulself verhoog.  Kyk wat is Paulus se reaksie hierop:

 

Fillippense 1:18         “Maar wat maak dit saak? Of hulle motiewe nou onsuiwer of suiwer is – die feit is dat Christus op allerhande maniere verkondig word, en daaroor is ek baie bly!”

Paulus het besef dat hy nie die een moet wees wat ore afkap nie.  Hy is nie die een wat ander moet afbreek of oor hulle moet skinder by almal nie.

Al wat belangrik is, is dat die evangelie verkondig word of dit met suiwer motiewe is of nie.

 

Kan ek jou vra, is dit jou gesindheid?  Dat jy die son oor ander ook wil laat skyn?

Of is jou houding om regter te speel en almal se foute aan die wêreld uit te wys.

 

3.  Onseker toekoms

Paulus se probleme eindig nie hier nie, hy is heeltemal onseker oor sy toekoms.

Fillippense 1:19-21    “My blydskap sal ook voortduur, want ek weet dat deur julle voorbidding en die hulp van die Gees van Jesus Christus alles op my vrylating sal uitloop.  Dit is my strewe en hoop dat ek nooit iets sal doen waaroor ek my sal hoef te skaam nie. Ek wil eerder, soos nog altyd, ook nou in my hele bestaan – of ek bly leef en of ek moet sterf – Christus met volle vrymoedigheid verheerlik.  Want vir my is die lewe Christus, en die sterwe wins.”

 

Wat wag op Paulus?  ‘n Verhoor.  As hy onskuldig bevind word sal hy vrygelaat word om weer te kan preek.  As hy skuldig bevind word sal hy die doodstraf kry.

Sy enigste besorgdheid is dat sy lewe Christus verheerlik.  Of hy nou alles verloor wat hy het, dit maak nie saak nie.  Solank Christus deur sy lewe verheerlik word.

Vir hom is die lewe Christus en nie enigiets anders nie.

 

As ek jou ‘n persoonlike vraag kon vra en jy het my eerlik geantwoord, hoe sou jy daardie vers 21 klaar maak?

Vir my is die lewe…  om geld te maak en om te sterf om dit vir my kinders te gee.

Vir my is die lewe… familie en om te sterf om hulle alleen te los.

Vir my is die lewe… om dinge te geniet en om te sterf is om uit te mis.

Phillippians 1:21        “To me, living means opportunity for Christ, and dying, that’s even better!”  LB

 

Ek lees die verhaal van ‘n 8 jarige seuntjie genaamd Frank.  Frank en sy pa het ‘n afspraak gehad om te gaan visvang die Saterdag.  Vrydagaand het hulle alles gepak en gereed gekry.  Alles was gereed.  Maar Saterdagoggend toe hulle wakker word, toe reën dit katte en honde en hulle kon nie gaan visvang nie.  Ou Frank het gemoan en gekla die hele oggend lank.  Niks was reg nie.  Hy was kwaad vir almal.  Hy het die meubels geskop, die hond geskop.  “Hoekom moes dit vandag reën?”

 

Sy pa het tevergeefs probeer verduidelik dat die boere die reën nodig het.  Maar dit was nie vir hom ‘n antwoord nie.  “Hoekom moes dit VANDAG reën?”  So rondom 12uur het die wolke weggetrek en die son uitgekom.  Sy pa het gesê, “Wel, ons kan nou nie heeldag visvang nie maar ons het darem nog die hele middag.  Kom ons gaan.”  Hulle is af meer toe en het heel middag gevang.  Daardie middag het hulle meer vissie gevang as wat hulle nog ooit gevang het.

 

Toe hulle huis toe kom het sy ma vir hulle van die vis gaar gemaak vir aandete.  Voor hulle begin eet het, het Frank se pa vir hom gevra om die tafelgebed te doen.  8 jaar oue Frank het gebid:  “Here, ek is jammer as kwaad en ongeskik was vroeër vandag.  Dit was omdat ek nie vêr genoeg vooruit kon sien nie.”

 

Is dit nie ons probleem nie?  Ons raak so opgevang in omstandighede, mense en dinge om ons dat ons net nie vêr genoeg vooruit kan sien nie.

As jy naby aan God leef, dan is Hy groter as jou probleme.

As jy vêr van God af leef, dan raak jou probleme groter as God.

Kyk verby jou negatiewe omstandighede, tel jou kop op.  Begin God se waarhede in die Woord in jou hart te bêre, nie die leuens van hierdie wêreld nie.

En besef dat jy soos Paulus, ‘n gestuurde is.  God se verteenwoordiger op aarde.

Met jou lewe moet jy maksimum eer aan God bring.  Dit is jou doel hier op aarde.

En maksimum eer hang nie van jou omstandighede af nie.

Dit hang van jou houding af.  Dit hang van positiewe denke af.