Transformed – Week 8: Reuse in jou lewe en werk

[powerpress]

Ons vermoë om te droom is wat ons mense maak.  Ons almal het drome of het drome in ’n stadium in ons lewe gehad.  As ons nie drome het nie dan dryf ons maar net in die lewe en gaan ons nêrens heen nie.  Dit is een van ons grootste gawes, die vermoë om te droom.  Baie van ons drome word natuurlik nie waar nie, maar sommige drome word deur God in ons harte geplaas omdat ons daardeur Sy koninkryk sal bou en Hom sal eer.

Dit is Einstein wat al gesê het:  “Imagination is more important than knowledge.”

In 1 Sam. 16 en 17 sien ons ’n persoon wat drome gehad het.  En hy was ook so voorbarig om God te glo vir hierdie drome wat in sy hart geplaas is.

1 Samuel gaan oor Dawid, die 2de koning van Israel.

In Dawid se pad het ’n reus gestaan wat hy moes oorwin.  Hierdie reus het vir almal te groot gelyk.  Dit was algemeen in daardie tyd dat een weermag die ander weermag uitgedaag het met hulle beste vegter en dan is die oorlog se uitkoms bepaal deur die geveg van hierdie 2 beste vegters.  Aan Israel se kant het niemand kans gesien nie.

 

In 1 Sam 16 sien ons hoe Samuel die profeet die opdrag kry om een van Isai se seuns te gaan salf as koning oor Israel.  En dan ken ons die verhaal dat Isai al sy seuns bring en Samuel nie hoor dat een van hulle die koning gaan wees nie.

Dan nadat Samuel vir Isai vra of dit al sy seuns is laat kon hy sy jongste en kleinste seun en die Here salf hom wat die jongste is volgende koning oor Israel.

Dan weet ons jare gaan verby waar daar absoluut niks gebeur nie.  Dawid word nie koning nie en Saul gaan aan as slegte koning oor Israel.

 

Tot op ’n dag wat Dawid ’n reus moes oorwin maar voor hy by die reus kon uitkom was daar eers 4 ander reuse in sy lewe wat hy moes oorwin.

En elkeen van ons moet eers hierdie 4 reuse- in ons lewe oorwin voordat ons drome of dalk eerder God se drome vir ons kan waar word.

 

1.  Die eerste reus vir jou drome is vertragings (delay)

Geen droom word vinnig waar nie.  Ten minste nie die drome wat die moeite werd is nie.

In meeste gevalle neem dit jare voordat Goddelike drome waar word.  En hierdie vertraging laat ons opgee en laat ons twyfel of die Here werklik die droom gegee het.

In Dawid se geval was dit sy pa wat hom teruggehou het.

1 Sam 17:15      “Dawid het heen en weer beweeg tussen Saul en sy pa se skape wat hy in Betlehem moes versorg.”  NLV

Nadat Samuel vir Dawid as koning gesalf het, het sy pa hom net weer na die skape toe gestuur om hulle op te pas.  Daar was ‘n lang tyd wat verbygegaan het en sy pa het hom teruggehou.

 

Daar gaan mense wees wat jou Goddelike droom gaan terughou.  Te jonk, te oud, nie slim genoeg nie, nie die regte kleur of geslag nie.  Diskriminasie in enige vorm.

En soms is hulle wat ons die meeste terughou die mense waarvoor ons die liefste is.

As God se plan iemand anders se plan vir jou weerspreek dan gaan daar is vertraging wees.  Mense gaan jou terug wil hou.

Maar Dawid kom daar by sy broers aan en hy sien wat daar aangaan.  Almal is bang.  Goliat die Filistyn daag hulle uit en hy spot met hulle en met hulle God.

 

2.  Die tweede reus vir jou drome is moedeloosheid (discouragement)

Goliat het ’n klimaat van vrees by die Israeliete geskep en almal was oortuig dat hulle die oorlog gaan verloor.  Soms gaan niemand dink dat jy dit kan doen wat jy droom nie.

1 Sam 17:8-11   “Ek is tog ’n Filistyn en julle is onderdane van Saul. Kies iemand wat ’n tweegeveg met my kan voer. As julle man daarin slaag om my dood te maak, sal ons julle slawe wees, maar as ek hom doodmaak, sal julle ons slawe wees! Ek daag vandag die gevegsmagte van Israel uit! Stuur tog iemand om teen my te veg!” Toe Saul en die Israeliete dit hoor, was hulle mismoedig en baie bang.”  NLV

Hoekom het hulle bang en mismoedig geraak?

Want hulle het na die verkeerde stem geluister.  Soms moet ons al die stemme om ons stilmaak en na ’n ander vars stem luister.  ’n Seuntjie van die dorp af wat sê, “Hierdie ou is niks, ons kan hom wen.”

Na wie luister jy wanneer daar gesê word, dit kan nie gedoen word nie?

Wie is die een wat jou Goddelike drome plat druk en sê dat dit nie moontlik is nie.

Wat gebeur as jy begin luister?  Jy word negatief.  Jy word soos hulle.  Negatiwiteit is aansteeklik.  Praat maar net met iemand in die gang wat negatief is en jy is gou ook.

 

1 Sam 17:23-24 “Juis toe kom Goliat, die uithalervegter van Gat, uit die Filistyne se linies na vore. Dawid het sy herhaalde uitdaging gehoor.  Toe die Israeliete Goliat hoor, het hulle weggehardloop omdat hulle vir hom bang was.”  NLV

Moenie met negatiewe, bang en bitter mense uithang nie.  Jy sal net soos hulle word.

 

3.  Die derde reus in jou pad is afkeuring (disapproval).

In Dawid se geval was dit sy eie broers wat sy motiewe bevraagteken het en op hom probeer afkyk het om die reus aan te vat.

Meeste van ons hou op droom wanneer mense nie van ons hou nie of nie in ons glo nie.

Ons wil hê dat ons ons almal moet hou.  Maar as jy Goddelike drome in jou lewe het, sal daar ALTYD mense wees wat jou oordeel, nie van jou hou nie en nie in jou glo nie.

1 Sam. 17:28     “Maar Dawid se oudste broer het gehoor hoe hy met die manskappe praat en het kwaad geword. “Hoekom het jy hierheen gekom?” vra hy. “En by wie het jy daardie klompie vee in die wildernis gelos? Ek ken jou domastrantheid en vermetelheid. Jy wil net die geveg sien!”  NLV

 

In Engels praat ons van sibling rivalry.  Mense die naaste aan jou wat nie kan sien wat jy sien nie.  Die hartseer waarheid is – soms is dit jou eie familie wat jou keer om God se wil te doen en om Hom te glo.

Selfs Jesus moes hiermee deel.  Jesus het verskeie broers gehad.  Hulle het nie in Hom geglo toe Hy al die wonders gedoen het nie.  Van hulle het eers begin glo nadat Jesus gesterf het en uit die dood opgestaan het.

 

Die grootte van jou God bepaal die grootte van jou drome.

Jou Goddelike drome moet groter as jy wees anders is hulle net jou drome.

As jy dit self kan regkry dan is hulle nie Goddelike drome nie.  Jy moet voel dat jy dit nie op jou eie sal regkry nie.

As jy ’n droom van die Here kry wat ander mense af skiet en jy spring daarvoor in elk geval sal jy misverstaan, geoordeel en beswadder word.

Maar jy moet besluit wat vir jou die meeste saak maak – die goedkeuring van ander mense of die goedkeuring van God.

 

4.  Die vierde reus wat jy sal moet veg is twyfel (doubt).

Daar was niemand wat ’n groter kenner was op oorlogvoering as koning Saul nie.  En die mees gesaghebbende persoon in Dawid se lewe het vir hom gesê dat hy mal is en nie teen die reus sal kan veg nie.

Miskien sê die grootste eksperts en kenner in jou lewe ook, dit kan nie gedoen word nie.

Dit is genoeg om jou te laat begin twyfel in jouself.

 

1 Sam. 17:32-33         “Ons moenie oor hierdie man moedeloos word nie,” sê Dawid vir Saul. “Ek sal teen hierdie Filistyn gaan veg!” Moenie verspot wees nie,” sê Saul. “Jy kan tog nie teen die Filistyn veg nie, want jy is nog maar ’n seun, terwyl hy van jongs af ’n vegter is!”  NLV

Selfvertroue in God word dikwels deur ander as arrogansie ervaar.

Die kenners is dikwels verkeerd.  Toe Rick Warren die boek Purpose Driven Life geskryf het, het die redakteur vir hom ’n brief geskryf en gesê, “Hierdie boek sal nooit werk nie. Niemand gaan 40 hoofstukke lees nie.”  Die boek is gepubliseer en het die beste verkoper van alle boeke ooit geword naas die Bybel.

Die eksperts is dikwels verkeerd.

 

Hoe oorwin jy hierdie reuse- in jou lewe?

1.  Onthou hoe die Here jou in die verlede gehelp het.

1 Sam. 17:37     “Die Here wat my uit die kloue van die leeu en die beer gered het, sal my ook red van hierdie Filistyn!”  NLV

Wanneer jy die manier onthou hoe die Here jou in die verlede gehelp het, sal dit jou vertroue gee vir die toekoms. Dit is ook hoekom ons dinge moet neerskryf of joernaal.

Daai tyd in jou lewe toe jy gedink het, nou is dit die einde… en toe was dit nie.

Daai tyd in jou lewe toe jy gevoel het, nou is ek heeltemal alleen… en toe was jy nie.

 

2.  Gebruik die gereedskap wat die Here jou nou gegee het.

1 Sam. 17:38-40         “Saul laat Dawid toe sy eie uitrusting aantrek: ’n bronshelm op sy kop en ’n borsharnas. Dawid het ook sy swaard bo-oor sy uitrusting vasgemaak. Toe hy probeer loop, kon hy nie, want hy het dit nog nie vantevore gedra nie. “Ek kan nie hiermee loop nie,” sê hy. “Ek is nie daaraan gewoond nie.” Daarom het hy die uitrusting uitgetrek. Hy neem toe sy herderstok, soek vyf gladde klippies in die spruit uit en sit dit in sy slingersak. Met sy slingervel in die hand loop hy die Filistyn tegemoet.”  NLV

Moenie wag vir iets wat jy nie het nie.  Nie geld, opleiding, konneksies of enigiets nie.

Gebruik die dinge wat die Here reeds vir jou gegee het om jou reuse mee te veg.

Moenie wag vir jou skip om in te kom nie, swem na jou skip toe.

Dawid gebruik waarmee hy gemaklik was.  Sy slingervel en klippe.

Baie mense sal vir jou sê, doen dit op my manier.  Gebruik waarmee jy gemaklik is en vertrou in het.  Jy is nie Saul nie.

Eccl. 11:4 “If you wait for perfect conditions, you will never get anything done.” LB

Moenie wag vir die ding wat in die pyplyn is nie, begin met wat vandag in jou vermoë is.

 

3.  Ignoreer die droom brekers in jou lewe.

Dawid het nie enige aanmoediging van enigiemand afgekry nie.  Nie sy pa of sy broers nie.

Later in sy lewe toe ander ook teen hom gepraat het moes Dawid homself telke male versterk het in die Here.

1 Sam. 30:6        “En Dawid het dit baie benoud gehad, want die manskappe het gepraat om hom te stenig; want die siel van al die manskappe was verbitterd, elkeen oor sy seuns en sy dogters; maar Dawid het homself versterk in die Here sy God.”  AFR53

As ons maar net kan leer om te doen wat Dawid gedoen het.  Om wanneer ons moeg raak, bang raak, moedeloos raak om ons te versterk in die Here.

Sommige reuse sal nie deur positiewe denke oorwin kan word nie.  Jy moet meer as dit hê.  Jy moet jouself in die Here versterk, want niemand anders kan vir jou daardie bemoediging en hoop weer gee nie.

 

4.  Verwag dat die Here jou sal help vir Sy eer.

Dawid het vertroue in God en in homself gehad en die reus stormgeloop:

1 Sam. 17:45-47         “Maar Dawid skree terug: “Jy kom na my toe met ’n swaard en ’n spies en ’n swaard, maar ek kom na jou toe in die Naam van die Here, die Almagtige…, Vandag gee die Here jou oor in my mag. Die hele wêreld sal weet dat Israel ’n God het.”  NLV

Veg jy die geveg wat die Here vir jou gegee het of jou eie geveg vir jou eie eer?

Sonder geloof sal dit onmoontlik wees om God te behaag.

Hoeveel kies jy om Hom te vertrou?

 

Toe ek klaargemaak het met matriek het ek gaan studeer wat my pa se droom vir my was.  ’n C.A.  So halfpad deur my eerste jaar het ek besef dat dit nie my droom of God se droom vir my was nie.

Ek het ’n oorlog by die huis verwag die dag wat ek vir hom gesê het dat ek voltyds vir die Here wou gaan werk.  Nie hy of my ma het geglo dat dit wat ek wou doen wys was nie.

Die Here het ook vir my ’n droom gegee om vir Hom ’n kerk te bou.

Toe ons so paar jaar gelede gekyk het na die feite was daar baie wat gesê het, julle droom te groot, in hierdie ekonomie sal ons nie so iets kan doen nie, die gemeente is nie groot genoeg nie.

Wel, ons is nog nie klaar nie maar die Here is besig om voor ons oë wonderwerke te doen en reuse te verslaan.

 

En ek sal jok as ek sê dat ek nooit moedeloos of bang of negatief raak nie.

Maar dan is my vraag, na wie luister ek?  Glo ek in myself of in ander of in God?

En die oomblik wat ek myself weer versterk in die Here begin my visie verander, begin ek weer glo dat die reuse oorwin kan word, begin ek weer sien wat God sien.

 

So, ek wonder waar is jy vandag?

Het die droom brekers en stelers jou Goddelike drome by jou kom wegvat?

Het jy dalk begin luister na al die ander stemme van die kenners wat sê dat dit nie gedoen kan word nie?

Het jy dalk toegelaat dat die houe en aanslae van die duiwel jou moedeloos maak?

 

Ek is vandag hier om vir jou te sê, die Here sal jou vyande verslaan en Hy sal jou Goddelike drome ’n realiteit maak as jy jouself in Hom versterk en by Hom gaan skuil.

Moenie dat enige mens, selfs nie die persone vir wie jy die liefste is, jou terughou om God se drome vir jou lewe na te jaag nie.

Moenie jou eie drome jaag nie.  Hulle kan dalk waar word maar hulle gaan jou leeg en ontevrede laat.  Net God se drome vir jou sal jou ’n gevoel van betekenis en “purpose” gee.  Wanneer Hy al die eer kry, is wanneer Sy hande magtig in beweging kom.