50 Dae van HOOP – Week 5: Is jy ‘n draer van HOOP?

 

 

So paar weke gelede het ek ook oor hierdie teks gesels maar in hierdie reeks van HOOP pas dit so perfek in dat ons besluit het om die teks weer te gebruik en daaroor te praat.

Jeremia 29:4-14

“Die Here, die Almagtige, die God van Israel, sê vir al die mense wat Hy uit Jerusalem na Babel toe laat wegvoer het:  “Bou huise en woon daarin. Plant tuine en eet die kos wat dit oplewer.  Trou en verwek kinders. Sorg dat julle kinders ook trou sodat julle baie kleinkinders sal hê! Sorg dat julle getalle daar vermeerder en nie verminder nie.  Dra ook julle deel by vir vrede in Babel waarheen Ek julle in ballingskap laat gaan het. Bid tot die Here sodat dit goed sal gaan met die stad waarin julle bly. As dit met Babel goed gaan, sal dit ook met julle goed gaan.”  Die Here, die Almagtige, die God van Israel, sê: “Moenie toelaat dat die profete en die waarsêers by julle julle bedrieg nie. Julle moet julle ook nie aan hulle drome steur nie.  Hulle verkondig leuens aan julle en sê hulle praat namens My. Ek het hulle beslis nie gestuur nie!” sê die Here.

So sê die Here: “Julle sal 70 jaar lank in Babel wees. Maar as die tyd verstryk het, sal Ek al die goeie beloftes begin vervul. Ek sal julle na julle land toe terugbring.  Ek weet wat Ek vir julle beplan het,” sê die Here. “Ek beplan voorspoed vir julle, nie teëspoed nie. Ek wil hê dat julle hoop vir die toekoms moet hê.  Julle sal na My roep en bid, en Ek sal na julle luister.  As julle heelhartig na My soek, sal julle My vind.  Julle sal My toeganklik vind,” sê die Here. “Ek sal julle uit gevangenskap laat terugkeer. Ek sal julle versamel tussen al die nasies waar julle nou is en uit al die plekke waarheen Ek julle verban het,” sê die Here. “Ek sal julle weer terugbring na die plekke waarvandaan Ek julle in ballingskap laat gaan het.”  NLV

Agtergrond:  Dit is die jaar 597 v.C.

Nebukadneser van Babilonië het Jerusalem, hoofstad van die Suidryk binnegeval.

Die Paleis en tempel is geplunder.  Koning Jojagin van Juda moes oorgee en die leiers en vooraanstaande mense is in ballingskap na Babilonië weggeneem.

Hulle voel Godsverlate.  Dit voel vir hulle of die Here hulle gelos het.

Hulle mooi land, hulle tempel, hulle waardigheid is daarmee heen.

Hier is hulle tussen ‘n klomp korrupte Babiloniërs wat hulle uitbuit en verneder.

Baie dinge is anders vir hulle: Nuwe taal, nuwe gebruike, nuwe gode.

Hulle voel, het God ons dan nou verlaat?  God woon immers in die tempel in Jerusalem!  En nou is Jerusalem ver en die tempel is erg beskadig.

Hierdie Babiloniërs maak die lewe vir hulle moeilik en aanbid ander afgode.

Hierdie is die agtergrond vir Jeremia se brief aan die ballinge.

Dalk soos ek hierdie dinge vertel klink dit amper soos die braaivleis gesprekke waarby jy gisteraand was.  Of soos die jongmense wat jy ken wat sê, ek gaan immigreer en in ‘n ander land werk of studeer.  Baie mense ervaar die lewe na 1994 soos ballinge hier in S.A.  My drome om ‘n lewe hier te maak is vernietig, voel baie mense.  Die land en die geskiedenis het teen ons gedraai.

Terug na die Jode in Babilonië.

Een van drie dinge het toe met hulle hier gebeur in ballingskap:

  1. Trek laer teen die vyand.

Kom ons haal weer die ou S.A. se vlag uit.  Kom ons sing weer die Stem.

Kom ons bou vir ons nog Orania’s.  Ons sonder ons af van hierdie slegte goed wat gebeur.  Ons met ons geloof gaan onsself eenkant hou.

Toe is daar selfs profete soos Gananja wat profeteer en sê die Here sê oor twee jaar sal julle teruggaan nie meer hier wees nie.  God gaan julle verlos.

Moenie tuis raak hier in Babel nie, God gaan hulle vernietig en ons verlos.

Jeremia waarsku hulle dat die drome van die valse profete dat die ballingskap binnekort verby sal wees, valse drome is. Dit het hulle net aangemoedig om onbetrokke te wees by die lewe in die stad waarheen hulle weggevoer is.   Die ballinge moet weet hulle is in vir ʼn lang verblyf in die vreemde.

 

  1. Babiloniese se agenda – assimilasie.

Neem net ons manier kultuur, geloof, taal en manier van dinge aan.

As jy hard werk gaan jy bo uitkom.

Wat dan gebeur het is, binne 2 of 3 generasies bestaan daardie volk of geloof nie meer nie en hulle het eintlik maar Babiloniërs geword.

Nou dit is in hierdie wêreld wat Jeremia vir hulle skryf terwyl hulle heeltemal moed verloor het en teen die vloer sit.  Hulle het totaal hulpeloos begin voel.

Sy boodskap is ook een van hoop.  Daar kom ʼn dag wat hulle met vreugde sal terugkeer, maar intussen moet hulle hul beywer vir die belange van die plek waar hulle woon.

Hulle moet hier tekens oprig van God se vrede.

Die vreemdheid, tuisteloosheid, kan nuwe perspektiewe open.

ʼn Krisis, ongeluk, ramp, bevestig die realiteit dat die wêreld nie voorspelbaar is nie, dat die realiteit groter is as ons persepsie daarvan.

  1. Draers van HOOP – Die Here is steeds by julle.

Al is dit nie net op die tradisionele plekke nie.  Al voel hulle tuisteloos en ongeborge tussen mense wat ʼn vreemde taal praat en ander gode dien.

God se liefde dra ons ook.  Hy sal ons nooit los nie.

Hy is in ons ballingskapervaring teenwoordig om vir ons ware hoop te laat deurbreek!

Moenie aan die versoeking toegee om aan die openbare lewe te onttrek nie.

Moenie innerlik emigreer nie (terugtrek in julle private geestelike en kulturele wêreld).  Moenie julle self bejammer nie, moenie leef asof julle slagoffers is nie.

Neem deel aan verkiesings, plant bome en beywer julle vir die bewaring van die omgewing.

Maar as julle deelneem, neem deel as mense wat weet aan Wie julle behoort.

Onthou wie julle is en vier julle identiteit.

Moenie word soos Babilonië nie, moenie assimileer nie, dit sou in elk geval maar net ʼn herhaling wees van die sondes van die vaders, wat hul hier laat beland het.

 

Bou huise en woon daarin. (Vers 5)

Julle is nie besig om uit te kamp nie. Ontwikkel die beste omgewing moontlik om in te lewe.  Julle lewe nou is net so belangrik as julle lewe in Jerusalem.

Ballingskap is nie julle keuse van lewe nie, maar dit is wat vir julle gegee is.

Bou ʼn Babiloniese huis en leef so goed as moontlik daarin!

 

Plant tuine en eet die kos wat dit oplewer. (Vers 5)

Neem produktief deel aan die ekonomie van Babel.  Moenie parasiete wees nie.

Laat julle hande vuil word van die Babiloniese aarde.  Leer ken hulle besproeiing sisteme. Leer vrugte en groente kweek in hierdie aarde en klimaat.

 

Trou en verwek kinders. (Vers 6)  Bevorder die belange van die stad… (Vers 7)

Julle is daarmee ook draers van hoop!

So wys julle dat julle gesinne ʼn toekoms het saam met God.

Hulle haat hierdie Babiloniërs – die Here sê vir hulle, waartoe julle geroep word is om daar waar julle is, lig te wees, te skyn, ‘n verskil te maak.

Hy sê nie vir hulle word soos hulle, neem hulle kultuur, geloof en gebruike aan nie.

Nee, die Here sê vir hulle, wees my kinders op ‘n plek wat vir julle nou donker is.

Maak ‘n verskil waar daar nie hoop is nie.  Wees draers van HOOP.

Bly by My, Ek is saam met julle hier.

Word lief vir hierdie heidene, moenie julleself eenkant hou nie.  Ek dink hulle was vies en kwaad toe hulle hierdie brief gekry het.  Later sê die Here, julle gaan nog vir 70 jaar hier wees.

Moenie jou tas pak nie, pak hom maar uit.  Besef dat My plan groter as jou plan dalk is.  Moenie jammer vir julself voel nie, die doel van ʼn gelowige is nie om so gerieflik as moontlik te leef nie, maar om eg, diep, geloofwaardig te leef saam met God.  Julle het dit nie gedoen toe julle nog in Jerusalem was nie. Miskien moet julle dit nou in Babel probeer.

Dit is in elk geval die enigste plek waar julle jul kan beywer vir die salom.  En die enigste geleentheid om julle geloof uit te leef is die omstandighede wat julle nou ontvang het: die huis waarin jul leef, die gesin wat jy het en die werk wat jy nou doen.

 

Dit lyk soos die einde, maar dit is nie.

Jer. 29:11“As soon as Babylon’s seventy years are up and not a day before, I’ll show up and take care of you as I promised and bring you back home. I know what I’m doing. I have it all planned out—plans to take care of you, not abandon you, plans to give you the future you hope for.”  Message   “Want Ék weet watter gedagtes Ek aangaande julle koester, spreek die Here, gedagtes van vrede en nie van onheil nie, om julle ’n hoopvolle toekoms te gee.” AFR53

Dit lyk of geskiedenis teen hulle gedraai het.  Dit lyk dalk of dit die einde is maar dit is nie.

Die storie gaan aan.  Dit lyk of dit hopeloos is maar dit is nie.

En Jesus die Messias kom ook op ‘n tyd in hulle geskiedenis toe hulle Hom die minste verwag het.  God het hulle totaal verras.  Dié dat meeste van hulle Hom nie erken het nie want hulle het hom nie verwag in ‘n tyd toe dit gelyk het soos die einde nie.

Jesus kom nie Jerusalem en tempel toe nie.  Die plek waar Hy moet heers en regeer.  Nee, Jesus kom Betlehem toe.  ‘n Romeinse keiser regeer toe Hy kom.  Hy kom in omstandighede wat nie gunstig is vir ‘n bewys van Sy mag nie.  Hy kom in daardie ongemaklike spasie in.

Dit wat julle gedink het die einde is, was toe nie.

Die Here sê:  Ek werk wanneer jy dit nie verwag nie.  Ek daag op wanneer daar nie meer hoop oor is nie.   Selfs toe Jesus sterf en in die graf gesit word.  Dan lyk dit of alles verby is.  Dit lyk of dinge nie uitgewerk het nie of God hom misgis het met hierdie aardse magte.

Daar is hoop.  Jesus sê, kom Ek gee vir jou nuwe brille.  Wees draers van HOOP in ‘n hopelose omgewing.  Daar tussen die braaivleisvure, wees ‘n draer van HOOP daar.  Daar by die werk waar almal pessimisties is.  God wil jou daar gebruik as draer van hoop.  Die Here vra jou vandag: Sal jy My draer van HOOP wees waar jy kom?