50 Dae van HOOP – Week 7: Kyk Hy kom!

 

 

Vandag kom ons by ons laaste boodskap in ons reeks oor HOOP.

Ek hoop dat julle na hierdie 6 weke baie meer ewigheidsHOOP in julle het as 6 weke gelede toe ons begin het.  Ek hoop dat jou “hoop-tenk” vol geraak het omdat jy elke dag by die bron van HOOP uitgekom het. Ek hoop dat jy ‘n nuwe definisie gekry het vir Bybelse HOOP. Ek hoop dat jy geleer het om op die Here te wag, die Een wat jou laat vlieg soos ‘n arend, hardloop en nie moeg raak nie en loop en nie struikel nie.

Vandag staan ons stil by die laaste hoofstuk van die Bybel.  Open. 22.

Die hele boek Openbaring is ‘n boek van HOOP.  Nie HOOP dat ons gaan ontsnap van die moeilikhede in hierdie lewe nie maar HOOP dat Jesus belowe het dat Hy met ons is en dat Hy vir ons ‘n plek gaan voorberei het.

 

Open. 22:7-10   “Jesus sê toe: “Kyk, Ek kom gou! Geseënd is elkeen wat die profetiese woorde in hierdie boekrol gehoorsaam.” Ek, Johannes, het hierdie dinge gehoor en gesien. En toe ek dit gehoor en gesien het, het ek in aanbidding neergeval voor die voete van die engel wat al hierdie dinge aan my uitgewys het. Maar hy sê aan my: “Oppas, moenie! Ek is maar net ’n mededienskneg van jou en van jou medegelowiges, naamlik die profete, en van dié wat die woorde van hierdie boekrol gehoorsaam. Aanbid God!” Hy het toe aan my ’n opdrag gegee: “Moenie die woorde van hierdie profetiese boekrol verseël nie, want die eindtyd is naby.”  NLV

Open. 22:20-21“Hy wat hierdie dinge getuig, sê: “Ja, Ek kom gou!” Amen! Kom, Here Jesus! Mag die genade van die Here Jesus met julle almal wees.”

Wat jy eerstens moet verstaan van hierdie gedeelte is dat dit ‘n visioen of ‘n beeld was wat Johannes ontvang het toe Hy hierdie van die Here gekry het.  M.a.w. dit is hoe dit kan wees maar dit kan ook baie meer wees as dit wat Hy gesien en beskryf het.  Dit is nie bedoel om ‘n presiese boodskap oor te dra wat in my opinie ontsyfer en geïnterpreteer moet word in hedendaagse gebeure nie.

Vandag is ons besorg oor HOOP in Openbaring.

Terwyl ek aan hierdie gedeelte dink wat nogal ‘n moeilike boek is om te verstaan, juis omdat Jesus sê Hy kom gou en hier is ons 2000+ jaar later het daar een beeld by my opgekom wat ek vandag wil gebruik en wat ek hoop by jou ook sal bly.

 

Baby-in-utero

 

Hierdie beeld omskryf vir my die boodskap van Openbaring en Hoop so goed.

  1. Volledig maar nog nie volmaak nie.

Jy sien hier is die dilemma van ons lewe hier op aarde.

Ons het wonderlike beloftes en baie van hulle sien ons nog nie.

Ons omdat ons so sintuiglik ingestel is verloor ons perspektief na ‘n ruk wanneer ons nie die beloftes sien waar word nie.

Een van hierdie beloftes is Jesus se woorde, ‘Ek kom gou!’  Daar is baie ander ook.

Dink net weer aan ons beeld van die ongebore babatjie in ‘n moeder se maag.

Wanneer daardie kind op so 18 weke kom is al die fisiologiese elemente van n volwasse mens daar alhoewel hy/sy nog nie gebore is nie.

Een van die absolute wonders van hierdie lewe is om ‘n pasgebore babatjie se aanskou.

Alles is so perfek.  Klein maar perfek.

 

Ek dink dit is hoe die kruis vir ons moet wees.  Die kruis het alles vir ons betaal.

Die belofte van verlossing is volledig.  Die belofte van vrede is volledig.

Die belofte van genade en liefde is volledig.  MAAR dit is nog nie volmaak nie.

Ons sien nie elke dag liefde in hierdie wêreld waarin ons lewe nie.

Ons sien nie elke dag geregtigheid in die wêreld waarin ons lewe nie.

Hoekom?  Want die geboorte het nog nie plaasgevind nie.

 

Die volheid is daar.  Jy kan ‘n scan doen en sien min of meer hoe hierdie wonderlike lewe is wat God vir ons belowe maar dit is net ‘n scan.  Eers met die tweede koms van Jesus Christus vind die geboorte plaas.  Dan kom die volmaaktheid, dan is daar perfeksie.

Die Grieks gebruik die woordjie parousia.  Dit beteken die 2de koms van Iemand.  Van Christus.

Tot op daardie dag is daar nog ontwikkeling wat moet plaasvind.

God se hand agter die skerms is nog aan die werk.  Hy is besig.

 

Hoekom het ons dan HOOP?  Vra vir ‘n swanger moeder.

Het jy HOOP dat daardie kind van jou gebore sal word?  Wat sal sy antwoord, natuurlik.

Dit moet gou gebeur.  Dit raak ongemaklik.  Die tyd moet gou kom. Ek kan nie wag nie.

Maar ek kan hierdie kind in my voel skop, daarom is ek opgewonde, daarom het ek HOOP.

Met jou wedergeboorte is die saad van die ewigheid in jou gesit en dit is besig om te groei.  Die koninkryk van God is aan die werk in elkeen van ons deur die Heilige Gees.

 

  1. Wag op die belofte

Dink weer aan die swanger vrou.  Sy moet wag.  Die belofte is daar, die tekens is daar.

Maar sy kan nie die dag te vroeg bepaal nie.  Sy moet wag vir die regte tyd.

As die tyd reg is, dan vind daar ‘n geboorte plaas.

Voel die wag soms lank?  Natuurlik.  Dit is hoekom ‘n swanger vrou in dae en weke tel.

Die res van die wêreld tel in maande, net ‘n swanger vrou tel in weke.

Hoekom, want sy moet wag.  Te vroeg en dan is daar probleme.

 

Waar in jou lewe is daar dinge waarop jy nie wil wag nie?

Ek dink ons natuur is om dinge maklik en vinnig te wil hê.

Maar net soos ‘n baba op die regte tyd gebore moet word moet ek en jy ook wag totdat God op die regte tyd sy beloftes of Sy wil aan ons bekend maak.

 

Dink aan Jesus se belofte aan ons.  “Ek kom gou.”

Ek dink God het ‘n ander definisie aan gou.  Dink maar aan:

Ps. 90:4     “Duisend jaar is vir U soos gister as dit verby is, soos een enkele wagbeurt in die nag.”

Maar dit is nie ‘n wag op die belofte en sit net stil nie.

Nee, ‘n swanger vrou gaan aan met haar lewe soveel so wat sy kan.

Maar terwyl sy aangaan is daar stadig maar seker iets besig om in haar te gebeur.  Sonder dat sy dit besef is die dag besig om al nader te kom.

Hoop het altyd ‘n element van WAG by.  Dink maar aan elkeen van die amper 3500 beloftes in die Bybel.  Baie van hulle is sonder dat ons besef besig om te gebeur.

 

Wat doen ons intussen?  Moet ons stil sit en niks doen?

Nee, net soos ‘n swanger vrou wat aangaan is ons steeds besig om ons eie storie te skryf

in die groter storie van God wat aan die gebeur is.

My storie gaan waarskynlik nie God se groter storie in die wêreld betekenisvol beïnvloed nie.  Maar my storie saam met God maak ‘n verskil aan God se storie.

My lewe maak saak vir God.  Hy het immers sy Seun se lewe gegee sodat nie een hoef verlore te gaan nie.  Daarom is ek ‘n medewerker van God hier op aarde.  Hy wil my gebruik.

 

Rom 8:19-25      “Die skepping smag na daardie dag wanneer God sy kinders openlik bekend sal stel. Want teen sy wil is die ganse skepping in ’n sinnelose kringloop van aftakeling vasgevang as gevolg van God se straf op die eerste mense se ongehoorsaamheid. Die ganse skepping sien uit na die dag wanneer dit ook self van die slawediens aan hierdie verganklikheid bevry sal word en deel sal kry aan die heerlike vryheid van God se kinders. Ons weet immers dat die ganse skepping nog steeds aan die kreun is soos iemand met geboortepyne. Wat meer is, ons wat die Gees as voorsmaak en waarborg van ons toekomstige heerlikheid ontvang het, kreun ook in ons binneste in ons smagting om van ons verganklike liggame verlos te word. Noudat ons verlos is, sien ons uit na ons toekomstige heerlikheid. Want as jy iets reeds het, hoef jy nie meer daarna uit te sien nie. Maar as jy dit nog nie het nie, sien jy gretig en volhardend daarna uit.”  NLV

As jy iets reeds het, hoef jy nie meer daarna uit te sien nie…

Dit is wat beloftes is.  Dink maar aan ons gebou wat ons besig is om te bou.

Dit is iets om na uit te sien.  Hoekom? Want dit is nog nie daar nie.

Dit skep HOOP in ons.  Partykeer dan vervaag die hoop.  Dit hoop lek uit.  Niks gebeur vir ‘n ruk nie.  Jy kyk na die omstandighede wat nou ongunstig is.

Maar HOOP is om terug te gaan na die belofte toe.  Dit is soos om na daardie model daar agter in die saal te gaan kyk en vir jouself te sê, onthou.  Ons het ‘n belofte.

Onthou daar is ‘n plan.  Al sien ek nie elke dag die plan nie, ek weet daar is een.

Kyk na die model, lees weer die belofte, kyk na die wonderwerke van die verlede.

Dan skep dit weer nuwe HOOP in jou innerlike mens.

 

Drie keer in Open. 22 sê Jesus, EK kom gou.  (vers 7,12,20)

Dit moet jou laat besef dat dit seker is.  Dit is nie wishful thinking nie.  Dit is ‘n realiteit.

Ons kan dit net nog nie sien nie. Net soos ‘n swanger vrou haar kind nog nie kan sien nie.

Maar hy/sy is daar.  Die tyd is besig om verby te gaan.

Die geboorte gaan plaasvind. Die verlossing van hierdie sinnelose lewe met tye gaan kom.

Moenie die fout maak om te dink daar is nie ‘n groter realiteit aan die werk as jou klein koninkrykie en jou bestaan nie.

En Hy wil jou uitnooi om in Sy realiteit in te stap.

Om HOOP te hê omdat Hy nie leë beloftes maak nie.

Hy wil jou lewe gebruik om Sy storie hier op aarde te skryf.

Hy wil jou in Sy koninkryk innooi en jou deel maak van Sy beloftes.

Hy wil jou verlos van die gebrokenheid van hierdie wêreld.

Hy wil jou ‘n helder lig maak in ‘n hopelose wêreld.

Hy’t jou beplan, Hy ken jou, Hy roep jou, Hy nooi jou uit in Sy wêreld in.

En wat Hy vra is – los daardie sinnelose lewe wat geen HOOP het nie.

Wat nie sin maak nie.  Wat altyd soek na nog meer en nooit tevrede word nie.

Los die lewe wat nooit jou dors les nie.

En kom dink by die fontein van HOOP. Maak jou HOOP-tenk vol met God se beloftes.

Laat die bron van HOOP vir jou nuwe brille gee om te kyk na jou lewe en jou omstandighede.