Ek het ‘n vriend wat… net wil goed voel

Hy kyk na die lewe as ‘n uitdaging om geluk te vind. Hy soek heeltyd na plesier in sy lewe.  Wanneer hy goed voel, dan is die lewe vir hom die moeite werd.  Hy kyk na homself as ‘n verantwoordelike persoon wat sy lewe so leef dat hy enige vorm van ongemak vermy en wegkom van enige vorm van pyn.  Soos Freud gesê het, glo hy, ‘n gesonde mens is iemand wat pyn vermy en plesier in jou lewe in te bou.

Sy lewensbesluite word altyd geneem op grond van die vraag, hoe laat dit my voel?  Iemand wat net dinge doen wanneer hulle goed voel daaroor, sukkel natuurlik om commitments te maak.  Want as dit nie goed voel nie, dan is dit mos tydmors.  Hoekom tyd aan iets spandeer wat jy nie onmiddellik enige vorm van plesier sal gee nie?  As dit my nie lekker laat voel nie maak nie saak wat dit is nie, dan is dit nie vir my nie.

Wanneer so iemand dan ‘n gelowige word dan begin hulle glo dat God net vir hulle geluk wil gee.  God is daar om hulle lief te hê en om enige vorm van ongemak of frustrasie uit hulle lewe te verwyder.  Hy interpreteer Jesus se lewe in die lig van hierdie siening.  Jesus het gesterf, sodat ek kan lewe.  Jesus het arm geword sodat ek ryk kan word.  Jesus het pyn verduur sodat ek nie pyn hoef te verduur nie.

Ek sien soveel van myself ook in hierdie vriend en ek kan met baie daarvan identifiseer.

Maar ek moet ook dink aan Jesus se woorde aan Petrus in Matteus 16.  Dit lyk nogal of Petrus ook hierdie goed voel ingesteldheid gehad het en dat Jesus gekom het om hom te help om ‘n posisie en sukses in die lewe te bereik.

Matteus 16:21-15       “Van toe af het Jesus dit vir sy dissipels duidelik begin stel dat Hy Jerusalem toe moet gaan en baie moet ly onder die familiehoofde, die priesterhoofde en die skrifgeleerdes, en dat Hy doodgemaak moet word, en die derde dag uit die dood opgewek moet word. Petrus het Hom toe opsy geneem en Hom begin berispe: “Mag God dit verhoed, Here! Dit sal beslis nie met U gebeur nie.” Maar Jesus het na Petrus toe gedraai en vir hom gesê: “Moenie in my pad staan nie, Satan! Jy is vir My ‘n struikelblok, want jy dink nie aan wat God wil hê nie, maar aan wat die mense wil hê.”

Toe sê Jesus vir sy dissipels: “As iemand agter My aan wil kom, moet hy homself verloën, sy kruis opneem en My volg, want wie sy lewe wil behou, sal dit verloor; maar wie sy lewe ter wille van My verloor, sal dit terugkry.”  1983 NAV

Toe Jesus vir Petrus sê dat dit nou nodig is dat Hy Jerusalem toe moet gaan want die tyd het gekom dat Hy moet sterf en ly.  Toe sê Petrus, nooit, dit sal nie gebeur nie.

Dit pas nie in sy idee van die lewe nie.  Ook nie in sy idee van God nie.

God sal jou mos nie ondertoe vat nie, Hy vat jou net boontoe en hoër.

En dan draai Jesus na Petrus toe en sê vir hom, jy het geen idee hoe God werk nie.

Mat. 16:25-26     “Don’t run from suffering; embrace it. Follow me and I’ll show you how. Self-help is no help at all. Self-sacrifice is the way, my way, to finding yourself, your true self.”  MSG

 

Nie net gaan Ek ly nie sê Jesus, jy gaan ook ly.  Jy het ook ‘n kruis om te dra Petrus.

Vat dit wat God vir jou gee.  As jy dit nie doen nie, sal jy groot skade aan jou eie lewe doen.  Jy sal nie jou ware self vind nie, jy sal jou siel verloor in die proses.

Vir hierdie vriend, is daar drie vrae wat ek dink die moeite werd is om oor te dink:

  1. Hoe kyk jy na die lewe?  (Lewensbeskouing)
  2. Wie is God vir jou?  (Godsbeskouing)
  3. Hoe sien jy jouself?  (Mensbeskouing)

Wat moet jy doen, wat is jou rol en verantwoordelikheid in die lewe?

  1. Hoe kyk jy na die lewe?

Die lewe is plesier en pyn.  Dit is die realiteit van ons bestaan.

As jy enigiets anders verwag gaan jy altyd aanhou soek na iets wat jy nie gaan vind nie.

Jy soek dalk na ‘n perfekte wêreld wat nog nie hier is nie.  Dit is ook nie God se rol om jou gelukkig in hierdie lewe te maak nie.  Dit is ‘n gevaarlike realiteit.

As jy nie met hierdie realiteit wil lewe nie sal dit vir jou baie moeilik wees.

Daar is nie net fisiese realiteite nie maar ook psigiese en geestelike realiteite waarmee ons moet vereenselwig in die lewe.

 

Die lewe se realiteit is ook dat daar soms pyn in die lewe is.  Dit is deel van die lewe.  As jy dit probeer ontsnap dan probeer jy iets ontsnap wat onvermydelik deel van die lewe is.

Net so is geluk ook deel van ons lewe.  Ek moet albei kan vat.

Beide plesier en pyn.  Nie net een van die twee nie.

Ons oriëntasie van kleins af is dat ons pyn wil vermy.

Maar goeie ouers sal vir jou leer dat jy nie net die lekker in die lewe kan kry nie maar die slegte is baie keer nodig om jou te vorm.

Dit is die beginsel van uitgestelde genot – dat ek my lewe so leef dat ek eers die pyn van dinge ervaar en daarna kan ek die beloning wat gewoonlik groter is soveel meer ervaar.

 

Baie van ons het swaar gekry om te kom waar ons vandag is.  Ons wil dit nie vir ons kinders hê nie en dan doen ons baie keer te veel vir hulle.  Die uiteinde is dat hulle alles op ‘n bord wil hê, en hulle leer nie om hard te werk, om ook te sukkel met dinge nie.

Is dit nie ook wat in verhoudings gebeur nie?

Ons kom in ‘n huwelik in met die verwagting dat iemand my gelukkig gaan maak.  Vir baie mense is hulle troudag dan ook die hoogtepunt van hulle lewe.  Maar op ‘n dag kom die realiteit by, daar is frustrasie, daar is teleurstelling, dan is uitgangspunte oor die lewe wat verskil, daar is ontnugtering.

Dan is daar ook dikwels die laagste laag in iemand se lewe, dat hierdie verhouding nie alles is wat ek gedink het dit sal wees nie.

 

 

En dan gaan enige verhouding ook deur ‘n seisoen van pyn wanneer jy voel maar ek wil nie met hierdie pyn sit nie.  Nou as jou verwagting van die lewe so is dat jy net hoogtepunte wil hê en net romantiese oomblikke en blomme dan kom jy op ‘n plek waar jy voel dit is nie waarvoor ek opgeteken het nie.  Dit is nie wat ek wil hê vir myself nie.

 

‘n Totale commitment is nie om net een deel van jouself vir iemand te gee nie.  As dit my nie meer pas nie en daar is pyn wat deurgewerk moet word dan stap ek eerder daarvan weg nie.

En hoekom commit mense vandag nie meer so maklik nie?  Daar is baie redes maar een daarvan is dat mense voel ek is bang ek kry seer, ek is bang dit is nie wat ek gedink het dit sal wees nie.  So, ek hou eerder my opsies oop.

 

Aan die ander kant kan ek sê, ek vermy pyn en ek gaan net vir dit wat die plesier in my lewe vir my bring.  As ek nie lus is vir iets nie dan doen ek dit nie.

As dit my vandag gelukkig maak, dan gaan ek daarvoor.

Pred. 2:10“Alles wat my oë begeer het, het ek my nie ontsê nie. Ek het my nie teruggehou van enige plesier nie. Ek het genot gevind in my harde werk. Dit was my beloning vir al my inspanning. Ek het daarna egter nagedink oor alles wat ek bereik het, oor al die moeite wat ek gedoen het. Ek het besef hoe sinloos dit alles is. Dis niks anders as ’n gejaag na wind nie.”  NLV

Wat sê hy, alles wat ek gedink het my gelukkig gaan maak, het dit nie gedoen nie.

Nie geld nie, nie vrouens nie, nie plesier nie.  Dit het nie werklike lewensgeluk gebring nie.

Die kersie op die koek kan nie die koek wees nie.  Plesier kan my nie gelukkig maak nie.

 

Aan die ander kant kan jy weer mense kry wat voel hulle is bestem vir pyn.

Ons kry dit dikwels met mense wat hulself heeltemal vir ander gee en hulle eie behoeftes heeltemal eenkant sit.  Hulle wil net doen vir ander.

Maar hulle bereik nooit die punt wanneer hulle ‘nee’ kan begin sê nie, hulle voel hulle verdien dit.  Dit is hoe die lewe is, net om swaar te kry.

En alles gebeur buite hulle.  Hulle kan nie self kies nie.  Nee, die besluite word vir hulle gemaak.  Die kontrole van hulle lewe lê buite hulself.

 

So ons dilemma is met die lewe.  Daar is plesier wat ons s’n is.  Dan is daar pyn wat ons s’n is.  Ons moet met albei kan leef anders werk ons lewe nie uit nie.

 

  1. Wie is God vir jou?

Die idee dat God daar is net om vir my dinge te laat uitwerk en net om vir my plesier te verskaf in die lewe sit my op net soos in enige verhouding om ‘n groot teleurstelling te ervaar.

Want as Hy dan net al jou paaie gelyk moet maak en daar kom ‘n dag wat jy voel Hy maak nie die pad voor jou gelyk nie dan doen Hy nie waarvoor Hy daar is nie.

En die een groot vraag wat jy gaan ontwikkel is:  Hoe kan ‘n God van liefde dit aan MY doen?

Ek doen alles wat ek kan, om Hom gelukkig te maak en Hy gee nie vir my wat ek nou nodig het nie.

 

Jesus sê vir Petrus, God gaan jou nie help om nie pyn te hê nie.

Maar, jy gaan God kan vind in jou pyn.

As hierdie goed jou pad langs kom, dan is God met jou.  En as jy dit vat, dan kan daar groot en wonderlike goed in jou lewe gebeur.

Dit is wat Jesus bedoel het toe Hy gesê het, Ek moet nou Jerusalem toe gaan en Ek gaan moet ly en dan sal ek sterf maar dan sal Ek opgewek uit die dood kan word.

 

Dink ‘n bietjie vandag aan Sy emosionele lyding wat net so groot gewees.

Hy word verraai deur Sy beste vriende.  Die een wat die naaste aan Hom was, Petrus, is die een wat sy rug op Hom draai toe dinge moeilik raak.

Dan is daar Sy eie planne wat Hy moes opgee.

Hoekom sal Jesus dan bid, nie My wil nie maar U wil moet geskied.

Maar deur hierdie bloed sweet wat Hy moes deurgaan, die teleurstelling van almal wat Hy geken het op aarde, het Hy ‘n nuwe lewe en ‘n nuwe opstanding beleef.

 

  1. Hoe dink jy oor jouself?

Col 3:5      “And that means killing off everything connected with that way of death: sexual promiscuity, impurity, lust, doing whatever you feel like whenever you feel like it, and grabbing whatever attracts your fancy. That’s a life shaped by things and feelings instead of by God.”  MSG

Dink maar aan al die lewensfases ook waardeur ons moet gaan.  Van ‘n baba na ‘n kind, van kind na ‘n tiener toe, van tiener na adolessent, van adolessent na jong volwassene, van trou, van kinders kry, van kinders wat groot word en hulle eie lewe begin leef.  Al hierdie dinge is moeilik.

Dit bring groot plesier en ook vreugde ja, maar dit bring ook baie pyn en seer in die lewe.

Deur die pyn in die lewe te wil uithaal en net te leef vir die plesier lewe, is om eintlik die werklike plesier in die lewe te mis.

Elke lewensfase bring pyn vir ons.  Dit is amper soos ‘n nuwe identiteit wat gevorm word.

Soos wat ‘n mens in hierdie wêreld inkom met groot pyn.

 

Hier is die vraag vanoggend:  Word jy uitgenooi om jou kruis op te neem vandag?

Dalk sit jy met frustrasie, met iets wat nie afgehandel is nie, iets wat nie nou uitwerk nie.

Is jy een van daardie haastige mense, jy wil dit nou hê?

As ek my kruis vermy en net wil goed voel, dan het ek ‘n ander kruis wat ek dra maar dit is nie Sy kruis nie.  Dan raak dit te swaar vir jou.

Jesus sê my kruis, My las, is lig en sag.

Dit bly ‘n kruis maar dit lei na lewe toe.   Deur die pyn kom daar op die ou einde oorwinning.  Jy vind jou ware self, jou siel gaan nie verlore nie, jy vind hom. Iets sal met jou gebeur wat jy nie kan glo nie, ‘n opstanding uit die dood uit.  As jy kan wag, as jy kan dra aan die onvoltooidheid van hierdie dinge, dan sê die Here vir jou ek gee vir jou ‘n opstanding.

Hy sê dat Hy elke behoefte en begeerte van jou vervul.  Kan ons dit glo?

(Aangepas en gebruik met toestemming van Mosaiek en Dr. Johan Geyser)