Beter… verhoudings

[powerpress]

Almal wil ’n beter lewe hê.  Daar is gedeeltes van ons lewe wat ons graag beter wil hê.

Veral hierdie tyd van die jaar dink baie van ons aan nuwe doelwitte, nuwe dinge wat ons wil aanpak, nuwe uitdagings wat ons wil aanvaar om ons lewe meer interessant te maak en ook om onsself te verbeter.

As ek net aan ons derde kwartaal reeks weer kan dink was daar 6 areas van ons lewe waarna ons gekyk het:

Geestelike doelwitte; Fisiese; gedagtes of denke; emosies en gevoelens; verhoudings; finansies.

Ek is seker dat ons almal in een of meer van daardie areas van ons lewe doelwitte het of graag wil verbeter.

Die uitdaging met beter is waaroor ons verlede week ook oor gesels het.

Normaal is die vyand van Beter.

Die manier hoe ons normaalweg dinge doen hou ons weg.

Wat normaal so moeilik maak is dat dit so onsigbaar is.

Hier is die moeilike deel – jy kan nie ’n beter lewe leef soos wat Jesus vir jou beplan het indien jy net aangaan soos normaal nie.

Normaal is maklik.  Jy hoef nie veel moeite te doen om ongesond of ongesond in areas van jou lewe te raak nie – dit gebeur vanself.

Die normale goed soos skuld, ongesond leef, verhoudings wat nie uitwerk nie gebeur so maklik – dit maak dit so maklik.

Normaal werk nie.  Nie tensy jy desperaat word om iets te doen om te breek met normaal nie – gaan jy dieselfde foute of patrone oor en oor herhaal.

Jy kan nie ’n probleem aanspreek wat jy nie bereid is om te erken nie.

Jesus is nie normaal nie, Hy is BETER.

Sy hantering van Geestelike, sy geld, sy denke, sy verhoudings was nie normaal nie.

So, as jy net wil inblend met die massa, dan gaan Jesus nie vir jou werk nie.

Hy wou nie gewild wees nie, Hy wou nie ander probeer beïndruk nie.

Sy missie was ons die wil van Sy Vader te doen.  Punt.

As jy ’n volger van Jesus is – dan gaan jy ook nie normaal lewe nie maar dit gaan vir jou ook beter wees.  Luk. 6

Lukas was ’n mediese dokter – hy het mense se stories nagevors.

Hy het baie presies Jesus se woorde ook neergeskryf.  En vandag gaan ons kyk na wat Jesus gesê het oor gemeenskap met ander gelowiges.

Baie van ons het een of ander vorm van kerk agtergrond.  Vir baie is dit ook die grootste rede hoekom hulle nie meer vandag kerk toe gaan nie.

Hulle verwysingsraamwerk is sleg wanneer dit by kerk en kerkleiers en kerkmense kom.

Wat ons baie ervaar as gemeenskap van gelowiges en wat Jesus hier in Lukas 6 beskryf is nie dieselfde ding nie.

Jesus praat oor hoe ware volgers van Hom moet optree en hoe gelowiges lyk – dan sê Hy dinge wat baie abnormaal is, bv. wees lief vir jou vyande.  Seën hulle wat jou vloek.

Vandag net 2 verse oor verhoudings, maar as ons die 2 verse kan leef sal dit ons verhoudings transformeer.  Nie dit weet nie, maar dit begin leef.

Luk. 6:37  “Hou op om ander te oordeel, en julle sal nie geoordeel word nie.  Hou op om ander te kritiseer, en julle sal nie gekritiseer word nie.”  NLV

Oordeel – Grieks: krino.  Die woorde Kritiek, kritici, kom van die woord af.

Ons leef in ’n kultuur van kritiek.  As jy net die media die afgelope 2 weke dopgehou het, sal jy besef hoe krities ons is en hoe ons ander oordeel.

Ons kritiseer konstant ander – 99% nie voor hulle nie maar agter hulle rug.

Ek sal nooit so optree nie.  Ek sal nie my kinders dit laat doen nie.  Hoe kan sy so wees.

Ons kritiseer mense wat ons ken en mense wat ons nie eers ken nie.

Ons gee kommentaar oor veral mense wat in die oog is en hoe hulle dinge doen en meeste van die tyd ken ons hulle nie eers nie.

Kritiek werk gewoonlik in absolutes en veralgemenings.  “Ek sal nooit dit doen nie.”  “Ek sal nooit so onsensitief wees nie.”

Ek vang myself gereeld dit doen.  Hoe ek ander oordeel.  Hoe hulle bestuur, hoe hulle dinge doen.

So paar weke gelede hardloop ek een oggend en die wind waai nogal sterk.  Terwyl ek hardloop kom ’n ou oom en tannie met ‘n kar en stop teen ’n redelik skuins driveway.  Hulle het seker iemand gaan oplaai.  In die wind kom toe nog van vooraf.  En ek sien die oom klim uit die kar uit en die tannie probeer ook by die kar uitklim maar die kar staan so skuins en die winddruk die deur ook nog toe van vooraf.  En my eerste gedagte is – jou idioot, dink bietjie aan jou vrou, sy sukkel haar as af.  En net daar praat die HG met my en sê vir my… nou hoeveel keer dink jy het jy nie dalk iets soortgelyks met jou vrou gedoen nie?

En wat onderliggend lê aan kritiek en oordeel is – ek is beter as hulle.  Ek sal nie doen wat jy doen nie.  Ek sal nie optree soos hierdie ou oom met sy vrou maak nie.

Maar dit is presies wat ons doen – Ons posisioneer onsself net so bietjie bo die persoon wat ons kritiseer.

Ek weet nie of jy al in ’n hof was nie maar die regter of landdros se regbank is hoër as die res van die hof vertrek.  Hoekom?  Want die regter se woorde of opinie tel in ’n hof meer as joune.

As die regter sê ek gee vir jou ’n boete van R10,000 en jy sê, wel… dit is net jou opinie.  Ek gaan dit nie betaal nie.  Nee, jy kan nie dit doen nie, want hy is belangriker as jy in die reg se oë.

Wanneer jy kritiek of oordeel uitspreek – dan plaas jy jouself bo ander mense.

Met vryheid van spraak en sosiale media dink ons vandag dat ons kan sê wat ons wil vir wie ons wil.  Behalwe as jou naam Penny Sparrow is, maar dit is wat ons dink.

Jesus sê, dit is nie hoe jy moet lewe nie.

Ons dra dit saam in ons huwelike en verhoudings ook.  En weer werk ons in absolutes en veralgemenings.  “Jy is altyd in ’n slegte bui.”  “Jy wil nooit na my luister nie.”

As jy in 2016 verbeterings in jou verhoudings wil sien, hou op om te veralgemeen.

Nie totdat jy in iemand ander se skoene geloop het nie, sal jy nie weet wat daardie persoon ervaar, dink of doen nie.

Dit is nie normaal nie – maar dit is BETER.

Luk. 6:37  “Moenie veroordeel nie, en julle sal nie veroordeel word nie.”  AFR83

Wanneer veroordeel jy?  Wanneer jy mense in kategorieë sit of labels te gee of hulle veroordeel op grond van hulle voorkoms.

Jou verhouding met iemand kom tot ’n einde wanneer jy begin veroordeel.  Want as jy iemand ’n label gee of in ’n boksie plaas gaan hulle altyd optree soos jy verwag hulle sal optree maak nie saak wat nie.

Ons sê basies, daar is nie hoop vir jou nie.  Dit is net wie JY IS.

As jy gesonde verhoudings wil hê, moenie veroordeel nie.

Luk. 6:37  “Spreek vry, en julle sal vrygespreek word.”  AFR83  “As julle ander vergewe, sal julle vergewe word.”  NLV

Vergifnis dink ek kan die beste verduidelik word wanneer jy praat van ’n skuld en skuldenaar verhouding.

Wanneer iemand jou te na kom – dat ontstaan daar ’n skuld of ’n gaping.  Ek het van jou iets verwag – en jy het dit nie gedoen nie.

En hulle skuld ons iets – om te bewys aan ons dat hulle waardig om vergifnis te kry.

Dit is die normale manier van kyk na vergifnis.

In sommige gevalle is die gaping groot en in ander gevalle is die gaping klein.

Jesus se BETER manier is nie jy gaan op een of ander manier moet opmaak nie.

Nee, in die lig van wat God ons al vergewe het, sê Jesus, moet ons t.w.v. onsself, nie die skuldenaar nie, die gaping afskryf soos wat Hy ons al vergewe het.

Ek laat dit gaan.  Dit is soos ’n bedrag wat jy skuld en die brief of epos kom, jy skuld dit nie meer nie.

Onvergifnis is soos ’n klip wat jy begin ronddra saam met jou elke dag en hy word al hoe swaarder en al hoe swaarder, Maar hierdie gaping is so belangrik vir jou dat jy nie daardie klip kan laat gaan nie.  En wanneer jy met ander mense in ’n ander verhouding is dan kom hierdie klip in die pad want jy kan nie iemand omhels, of liefhê of druk met ’n klip in jou hand nie.  En die klippe wat ons ronddra maak ons emosioneel moeg.

Sommige van hierdie vergifnis het ook te doen met onsself en om onsself te vergewe vir die dom dinge wat ons al gesê en aangevang het.

Sonder dat ons vryspreek, kan ons nie God se vergifnis in ons lewe ervaar nie.

Ons het net nie die emosionele kapasiteit om vry te voel as ons aan iets vashou nie.

Maar dit is nie normaal nie.  Normaal is – iemand het my te nagekom, iemand skuld my iets, iemand moet gestraf word.  Dit is net menslike natuur om eers vir jouself uit te kyk.

Luk. 6:38  “As julle gee, sal julle ontvang.”  NLV

Jesus praat nie hier net oor gee van iets vir ander of vir Hom nie.  Hy praat hier oor hoe jy na die lewe kyk.  Is jy ’n GEWER of ’n NEMER?

Wanneer jy in ’n vriendskap of ons as gemeente of by die werk is – dink jy meestal oor hoe JY iets kan kry OF dink jy meestal oor hoe jy iets kan gee en waarde kan toevoeg?

Jesus sê, GEE eerste en dan sal daar vir jou gegee word.  Dit is nie normaal nie.  Dit is nie instinktief nie.  Normaal is – jy gee vir my respek, dan sal ek vir jou respek gee.

 

BETER is, ek gee eerste.

Ek het van ’n prokureur gehoor wat vir sy kliënte gevra het om net een ding te doen wanneer hulle in die hof is.  Hulle moet sit met hulle hande of palms oop.

Want wat hy agtergekom het, is wanneer iemand sit met hande oop is hulle geneig om meer oop te wees, om meer eerlik te wees, om meer kalm te wees.

Dit sê, ek het niks om weg te steek nie, ek is oop.

Weet jy wat normaal is?  Normaal is hande toe.  Gryp vir wat jy kan.  Wys jy sal terugveg sal hulle oor jou loop.  Beskerm jouself.  Verdedig jouself.

En dit is hoe baie mense leef.

Ek sal gee as hulle gee.  Ek sal vriendelik wees as hulle vriendelik is.

Maar Jesus sê, nee, gee jy eers.

Wat as ons begin om hande oop i.p.v. vuiste toe te leef?

 

Hoe belaglik is dit nie?

Ons leef met ’n hierdie wag-en-kyk-houding teenoor mense en teenoor organisasies.

Ek sal – as jy sal.  Ek sal nie – as jy nie sal nie.  Dit is vuiste toe.

Maar Jesus sê, BETER is hande oop.

Ek gaan omgee, selfs as jy nie omgee nie.  Ek gaan gee selfs as jy nie gee nie.

Op Kersdag het ons pakkies met koekies uitgedeel vir almal wat hier was.  En ek het met my kinders die strate ingery die Vrydagmiddag en mense gaan soek daarom voor te gee.

En die blydskap by feitlik almal van hulle – is meer werd as wat daardie koekies gekos het.  En my kinders het iets geleer – dit is beter om te GEE as om te ontvang.

Jesus sê, dit is ’n saak van vertroue.  As jy bereid is om My te vertrou dan sal jy (oop hande) leef.  Wat ek het, het nie van my afgekom in die eerste plek nie.

Wat na my toe kom, kan deur my vloei.  Dit was nie myne om mee te begin nie.

As ek (toe hande) leef is dit ’n selfsugtige lewe, dit is ’n geïsoleerde lewe.

Ek leef in die veronderstelling dat wat ek het, het ek myself bymekaargemaak.

Dit (toe hande) is normaal, dit (oop hande) is BETER.

Luk. 6:38  “Julle gawe sal na julle terugkom in volle maat, ingestamp, geskud om plek vir meer te maak, tot oorlopens toe vol. Met watter maat julle ook al meet – klein of groot – dit sal gebruik word om te meet wat julle sal terugontvang.”  NLV

Hy praat hier van hoe jy leef.  Hoe jy dink oor die lewe, oor alles.

Die liefde wat jy ontvang vir ander sal onderhewig wees aan die liefde wat jy gee.

Die talente wat jy bereid is om te gee en ander te dien sal bepaal hoe ander jou ook dien.

Hoe vrygewig wil jy graag wees?

Wat dink jy sal gebeur as jy so (oop hande) lewe?

En nie wag vir ander om eers vir jou te gee nie.

Jou lewe sal meer soos Jesus s’n lyk, dit is verseker.

Want sy hele lewe, tot Sy dood toe was oop hande.