Die Heilige Gees – Deel 1: Die Persoon

[powerpress]

Die tydperk op die Christelike Kerk kalender waar ons nou is staan bekend as Paas.

Dit duur voort tot en met hemelvaart en Pinkster Sondag op 15 Mei.

Ons het dit goed gedink om in hierdie weke wat kom bietjie lering te gee oor die persoon van die Heilige Gees en oor die gawes van die Heilige Gees.

Vandag is net inleidend tot die hele reeks vir die volgende paar weke.

As ons bietjie gaan kyk na die geskiedenis van die mensdom van die skepping tot en met waar ons nou is daar daar iets wat ‘n mens opval in die manier hoe God homself geopenbaar het en hoe mense Hom beleef het.

Die eerste tydperk wat ons in die Bybel sien in die O.T. was God se primêre openbaring deur die skepping en deur sy volk die Israeliete of die Jode.

In daardie tyd was daar verskeie beloftes van ‘n tweede persoon in die Godheid wat sou kom, ‘n redder of Messias wat sou sterf en weer opstaan.

 

Met die tweede tydperk wat aangebreek het met die koms van Jesus Christus was die groot vraag of hulle Hom sou erken as Seun van God en tweede persoon in die Godheid?

Terwyl Jesus se werk op aarde tot ‘n einde gekom het, hy gesterf het, opgestaan het was daar die belofte daar nog ‘n derde openbaring van God sou kom.

Sy Gees wat op aarde sou wees nadat Jesus opgevaar het hemel toe en weer saam die Vader is.

Voor Christus … het die Vader wat kenmerkend werk.  Tydens Jesus se lewe op aarde die Seun wat primêr werk.  En dan sedert Jesus se hemelvaart, die Heilige Gees wat hoofsaaklik werk.

Ons kan onsself ongelooflik gelukkig ag dat ons in ‘n tyd leef wanneer ons die volheid van God soos geopenbaar is in al die persone Vader, Seun en Heilige Gees kan ervaar.

Maar vir baie mense is daar ‘n groot begrip rondom die Vader en die Seun maar ‘n stuk misterie en selfs ‘n weerstand as dit kom by die persoon en die werk van die Heilige Gees.

Dit is soms te verstane, ons as gemeente is ook baie sensitief vir die baie vreemde dinge wat gebeur in die Pinkster of Charismatiese kerk en wat dan toegeskryf word aan die werk van die Heilige Gees.

Maar tog is daar die egte, die werklike ervaring en werking van die Heilige Gees.

En ek wil elkeen verseker dat ons nie dinge by ons sal doen wat enigiemand sal laat skrik of laat ongemaklik laat nie.

 

Wie is die Heilige Gees?

Volgens ‘n studie van die Barna groep in Amerika glo 61% Christen gelowiges dat die Heilige Gees ‘n onpersoonlike krag of simbool is van God se teenwoordigheid en nie ‘n persoon of ‘n lewende entiteit van die drie-eenheid nie.

Dit is nie soos ons dit in die N.T. sien nie en is ook nie die belofte wat Jesus gemaak het voordat Hy weg is na Sy Vader toe nie.

 

  1. Die Heilige Gees is ‘n Persoon.

Dit kan ons duidelik sien in Jesus se woorde en beloftes in Joh. 14-16. (14:26; 15:26; 16:7)

Joh. 14:16-17    “En Ek sal die Vader vra en Hy sal vir julle ’n ander Raadgewer stuur om vir altyd by julle te wees; dit is die Gees van die waarheid.”  NLV

Griekse woord: Paraklete> Comforter, Encourager, Counselor.

Wanneer Jesus hom Raadgewer of Counselor noem hanteer hy die H.G. as ‘n persoon en nie ‘n krag nie.

“Hy sal vir julle ’n ander Raadgewer stuur…”  beteken “‘n raadgewer soos Ek.”

 

Net so paar verse verder sien ons Jesus sê:

Joh. 14:25-26    “Ek sê dit nou al lank vir julle, terwyl Ek nog by julle is; en wanneer die Raadgewer, die Heilige Gees, kom wat die Vader in my Naam sal stuur, sal Hy julle in alle opsigte onderrig en julle ook herinner aan alles wat Ek vir julle gesê het.”  NLV

Hy sal kom… m.a.w. Hy is nie Jesus nie.  Hy is ‘n raadgewer of leermeester in eie reg soos Jesus was.

 

Joh. 15:26          “Maar as die Trooster gekom het wat Ek vir julle van die Vader sal stuur, die Gees van die waarheid wat van die Vader uitgaan, sal Hy van My getuig.” 53

Joh. 16:13-14    “Wanneer Hy ook al kom, die Gees van die waarheid, sal Hy julle begelei in die volle waarheid. Hy sal nie uit Homself praat nie, maar net sê wat Hy hoor. Hy sal die dinge wat gaan kom, aan julle meedeel. Hy sal My verheerlik omdat Hy dit wat Hy van My sal ontvang, aan julle sal meedeel.” NLV

Die Heilige Gees is nie ‘n krag of ‘n invloed nie maar ‘n persoon in eie reg wat hoor soos Jesus wat die wil van die Vader is en ons leer wat die Vader se wil is.

Dit sal ‘n reuse verskil in jou lewe maak indien jy glo dat Hy in jou woon, jou lei in waarheid en nie ‘n onpersoonlike krag van ‘n veraf God nie.

Dit is vir my hartseer wanneer die kerk die Heilige Gees verminder tot ‘n enkele gawe of ‘n paar sigbare gawes en Hom nie sien as die ontsaglike belofte van ‘n persoon wat in ons woon wanneer ons Christus aanvaar het nie.

 

Indien jy ‘n tweede waarheid tot die eerste waarheid voeg dan word die eerste waarheid selfs meer kragtig in ons lewe.

  1. Die Heilige Gees is ook God.

Die persoon wat in ons woon, ons lei en ons reinig of heilig is niemand anders as God self nie.  Dit is God wat deur sy Gees in ons woon.

Rom. 8:9   “Julle word beheer deur die Gees omdat die Gees van God in julle woon.” nl

Die Heilige Gees is deel van die Drie-eenheid.  Hy is God.

Ons sien reeds in Genesis 1 dat Hy deel van die Godheid was.

Gen. 1:2    “Die Gees van God het oor die oppervlakte van die water gesweef.”  NLV

 

So, kan jy dit indink – Dieselfde Gees wat daar was toe God ‘n Woord gespreek het en dinge is geskep.  Sterre, planete, sonnestelsels.  Hy woon in jou.

Kan jy jou indink – dieselfde Gees wat Jesus uit die dood opgewek het – Hy woon vandag nog in jou.  Dit gaan my klein verstand te bowe.  Dit is misterie en moeilik om te verstaan maar die bewyse en die getuienis daarvan is oorweldigend in mense se lewens.

So ver terug soos die ewigheid het God die Vader liefde en eenheid geopenbaar tussen Hom en Jesus en die Heilige Gees wat ook ‘n persoon in die Drie-eenheid is.

 

Verlede week het ek die film “Risen” gaan kyk wat gaan oor ‘n soldaat wat gelewe het net nadat Jesus gekruisig is en in die graf gesit is.  (Ek kan dit werklik aanbeveel.)

Wat my opval in die film wat ‘n goeie vertolking is van die gebeure net na Jesus se kruisiging is die onsekerheid en die tekort aan leiding wat daar geheers het.

Dit was ‘n kwesbare tydperk – almal het gedink Jesus is vir ewig dood, die beloftes wat Hy gemaak het was weg.  Hulle het basies uit vrees weggekruip vir die Romeine.

 

En toe kom die opgestane Jesus en verskyn aan hulle.

Hy begin hulle vertel dat Hy nie meer vir lank by hulle gaan wees nie.

Maar Hy sê dat Hy hulle nie as weeskinders gaan agter los nie.

Joh. 14:18          “Ek sal julle nie as weeskinders agterlaat nie; Ek kom weer na julle toe.”

Joh. 14:16          “Ek sal die Vader vra, en Hy sal vir julle ’n ander Voorspraak stuur om vir ewig by julle te wees…”  AFR83

 

En toe kom die Heilige Gees.  En deur die Heilige Gees het daardie groepie bang dissipels nie net moed gekry nie maar hulle het letterlik die wêreld omgekeer met hulle liefde en hulle getuienis van Jesus.

Sonder die Heilige Gees kan die kerk nie bestaan of werk nie.

Ons kan rade hê, preke preek, programme en bedieninge hê, maar as die Heilige Gees nie dit lewendig maak en kragtig maak nie, dan is dit net ‘n klub of speel ons godsdienstige speletjies.

Die kerk kan nie sonder die Heilige Gees funksioneer nie.

 

In jou persoonlike lewe kan jy nie sonder die Heilige Gees lewe nie.

Jy kan stiltetyd hê.  Jy kan ‘n teoloog wees en die Bybel goed ken.

Jy kan verse memoriseer en baie gee vir die Here se werk.

Maar as die inwonende Heilige Gees nie deel daarvan is nie dan is dit leeg en dood.

Hy wil deel van jou lewe wees.  Hy wil jou bemoedig, jou leiding gee, jou raad gee, jou krag gee, jou helper wees as jy hulp nodig het.

Nooi Hom in, raak bewus van Hom in jou lewe, wees bewus dat Hy ‘n persoon is met gevoelens en ‘n wil net soos enige van ons alhoewel jy Hom nie kan sien nie.