Die Heilige Gees – Deel 4: Werk van die Heilige Gees

[powerpress]

Drie weke gelede het ons begin kyk na die persoon van die H.G. en gaan die week verder.  Ons het al gesê dat dit baie belangrik is om die Heilige Gees te sien as ‘n persoon net soos die Vader en die Seun.  Hy is nie ‘n krag of net ‘n simbool van God se teenwoordigheid nie.  Ons het ook gesê dat sy werk insluit dat Hy enige vorm van oortuiging en geloof in ons lewe bewerk.  Ons is nie in onsself in staat om geloof te hê nie.  Ons het ook gesê dat die HG die vernuwing, transformasie en verandering in ons lewe bring.  Sonder Sy rol om ons te vernuwe is ons eintlik hopeloos en in staat tot niks.

Verlede week het Steve gekyk na van die name van die Heilige Gees en wat dit beteken.

 

Vanoggend wil ek terug gaan na ons drie kleure waarmee ons begin het en meer praat oor die HG se werk in ons.  Ons het gesê dat God homself openbaar op 3 verskillende maniere:  Vader Seun en HG.  Ons kan ook sê dat God homself eers geopenbaar het as Skepper, die een wat ver groter en BO ons is.  Dan kan ons sê dat Jesus God tussen ons geword het.  Hy het onder ons kom woon.  Hy het ons gewys hoe God se hart lyk.  En nou leef ons in ‘n tyd waar dit God IN ons is.  Die HG maak Christus lewend binne elkeen wat glo in Hom.  Hy is ons hoop op heerlikheid.

 

Die werk van die Heilige Gees:

  1. Hy vorm Christus binne elkeen van ons

Efes. 3:16-19     “Mag Hy deur sy Gees uit die rykdom van sy Goddelike grootheid aan julle die krag gee om innerlik sterk te word. Dan sal Christus deur die geloof in julle harte woon, en sal julle in God se liefde gewortel en gegrondves wees. Mag julle in staat wees om saam met al God se mense te begryp hoe breed en lank en hoe hoog en diep sy liefde is. Dan sal julle Christus se liefde, wat alle verstand te bowe gaan, beleef. Mag julle heeltemal met die volheid van God vervul word.”  NLV

Eph. 3:17  “…that Christ may dwell in your hearts through faith;”

Die woord wat in Grieks gebruik word vir DWELL beteken letterlik:

To dwell, to settle, to inhabit.

Christus het met die uitstorting van die HG in ons harte kom woon.

Die werk van die HG is letterlik om die lewende Christus in ons lewe te vorm.

Hy woon in die diepste dele van ons wese.

Met die kruis van Jesus Christus het ons gesien dat God VIR ons is.

Maar deur die krag van die HG lewe die opgestane Jesus in IN ELKEEN van ons.

 

As jy gaan probeer om ‘n volger of dissipel van Jesus te wees in jou eie krag sal dit net uitloop op absolute teleurstelling en hopeloosheid.

Enige poging van jou kant af om meer soos Jesus te word is hopeloos.

Hoe meer jy Jesus leer ken, hoe meer sal jy agterkom dat jou pogings op hulle beste nie eers ‘n druppel in die oseaan is om soos Jesus te word nie.

Maar God verwag nie die onmoontlike van ons nie.  Hy wil nie hê ons moet probeer om soos Jesus te word met ons eie krag nie.

Hy gee vir ons iets veel beter – Hy wil Jesus in jou vorm deur die KRAG van die HG.

Hoe meer ons oorgee aan die HG se werk in ons, hoe meer sal Christus in ons gevorm word.

 

  1. Die Heilige Gees maak homself sigbaar deur liefde in ons wese

Efes. 3:17-19     “Dan sal Christus deur die geloof in julle harte woon, en sal julle in God se liefde gewortel en gegrondves wees. Mag julle in staat wees om saam met al God se mense te begryp hoe breed en lank en hoe hoog en diep sy liefde is. Dan sal julle Christus se liefde, wat alle verstand te bowe gaan, beleef.”  NLV

Die vervulling van die wet is:  LIEFDE.  Ons kon nie aan God se standaard voldoen nie.

Ons kon nie die wet wat God gegee het nakom nie.  En hoe voldoen ons aan die vereistes van die wet vandag?  Deur Christus wat ons kom wys het wat liefde was.

 

Rom. 13:10        “Die liefde doen die naaste geen kwaad aan nie. Daarom is die liefde die volle uitvoering van die wet.”  AFR83

Maar dit is nie genoeg dat ons liefhê nie.  Ons moet die liefde van Christus verstaan en daarin leef.  Liefde wat alle verstand te bowe gaan.

Ons kan dit probeer verstaan, ons kan daaroor dink en mediteer.

MAAR dit is die HG wat ons laat begryp hoe breedte, lengte en diepte van Sy liefde is.

 

Dan is daar nog ‘n 3de manier hoe die HG Christus in ons vorm:

Efes. 3:16-19     “Mag julle heeltemal met die volheid van God vervul word.”  NLV

  1. Die volheid van God word in ons gevorm

Wat is hierdie volheid van God?  Wel, dit is alles wat goed is in hierdie lewe.

As ons onsself sou volmaak met die volheid van God sou dit wees soos iemand wat ‘n koppie vat en in die see instap en dit volmaak met die oseaan se water.

Maar as die HG die volheid van God in ons bring is dit soos iemand wat ‘n koppie is en verbeel jou die oseaan het ‘n kraan en daardie kraan word oopgedraai om die oseaan se water in jou koppie te tap.

Dit is onmeetbaar, dit is meer as enigiets wat ons kan begryp.

 

Rom. 8:17 “En omdat ons kinders is, is ons ook erfgename. Ons is erfgename van God, erfgename saam met Christus. Aangesien ons deel het aan sy lyding, sal ons ook deel hê aan sy heerlikheid.”  AFR83

Ons is erfgename van God tot in die mate waar Christus ‘n erfgenaam van God was.

Ons is erfgename van alles wat God is en alles wat God het.

En dit is die werk van die HG om alles wat reeds ons s’n is in Christus na ons te bring.

Dit is Sy werk om ons ALLES te laat ervaar wat God s’n is en alles wat God gee.

Tot op die vlak dat jou koppie met ‘n oseaan se water volgemaak word.

 

  1. Die Heilige Gees lei ons in die lewe as ‘n Kind van God

Rom. 8:14 “Want almal wat hulle laat lei deur die Gees van God – hulle is God se kinders.”  NLV

Ons sien hier dat die HG ons optrede of gedrag lei.

Soos wat ‘n dirigent ‘n orkes lei, so is die HG daar om ons vir elke noot of tree in ons lewe te lei mits ons Hom toelaat om dit te doen en ons na Hom kyk of luister.

As ons Sy leiding volg kan ons lewe die mooiste musiek maak maar as ons kies om ons eie ritme of note te speel loop dit uit op iets van glad nie mooi is nie.

 

‘n Volger van Jesus se lewe word nie gelei met ‘n lang stel reëls en wette nie.

Nee ‘n dissipel van Jesus word gelei deur ‘n lewende persoon wat in hom woon.

 

Rom. 8:15 “Die Gees wat julle ontvang het, is nie ’n Gees wat weer van julle vreesbevange slawe maak nie. Julle het die Gees van ware kindwees ontvang en deur hierdie Gees roep julle uit tot God: Abba – ons Vader.”

‘n Lewe wat gelei word deur reëls en wette is ‘n lewe van slawerny.

Daar is altyd die vrees dat ek nie alles nagekom het nie.

Daar is die vrees dat ek nie goed genoeg is nie en ‘n paar reëls gebreek het.

So is daar baie Christene wat ‘n lang lys van mensgemaakte reëls het.

Dit is nie wat die HG doen nie, dit is wettisisme.

Rom. 8:15 “For you did not receive a spirit that makes you a slave again to fear, but you received the Spirit of sonship.”  NIV

 

Ons lewe word nie beheer deur ‘n lys van reëls wat gehoorsaam moet word nie.

Ons lewe word beheer deur ‘n liefdevolle Gees wat ons God se kinders maak.

Ons behoort absolute beheer van ons lewe vir Hom oor te gee en na Hom kyk of luister om elke besluit in ons lewe te neem met Sy leiding.  Nie net die groot besluite nie.

Soos ‘n kind sy pa of ma vertrou met sy lewe, so behoort ons die HG te vertrou met ons totale lewe.

 

Die HG weerspreek homself nooit nie en Hy lei ok nooit iemand om iets te doen wat teen die geskrewe Woord van die Here is nie.

Hy lei ons om die Bybel te verstaan en om die Bybel te leef met integriteit.

Die dag wat ons Jesus aangeneem het as ons redder het die Gees van Christus, die HG in ons kom woon.

 

Sy teenwoordigheid in ons lewe getuig daarvan dat ons nou God se kinders is.

Die HG in ons lewe gee vir ons die versekering, die wete dat ons Sy kind is.

Die Heilige Gees in ons roep uit na God, “Abba (pappa), Vader.

Die ou mens, die natuurlike mens roep nie uit na God as Pappa Vader nie.

Hy bid met sy lippe en met sy verstand miskien “Ons Vader wat in die hemel is.”

 

Maar die ou mens, die ou-ek voordat ek Christus die beheer van my lewe gegee het vertrou Hom nie soos ‘n Pa nie.

Die ou mens is bang vir God.  Die ou mens dink aan Hom as ‘n kwaai regter wat net reg staan om enige oortreding te straf.

Die ou mens bid miskien maar net omdat hy moet, nie omdat Hy wil met sy Pa praat nie.

Maar as die HG beheer neem van iemand se lewe dan getuig hy in jou gees dat jy Sy kind is.  Dan begin ek Hom vertrou meer as ek my aardse pa vertrou.

Daar is selfs minder vrees vir Hom as wat daar is vir ons aardse pa.

Ontsag en eerbied, ja, maar ‘n ongelooflike ervaring van kinderlike vertroue.

Dat Hy vir my lief is, dat Hy net die beste vir my wil hê, dat Hy my wil vol maak met Sy liefde en volheid.

 

Ons hemelse Vader hunker daarna dat ons moet weet en besef dat ons Sy kinders is.

Hy verlang dat ons Hom Vader, Pappa moet noem.

Hy begeer dat daar geen vrees of angstigheid moet wees as ons aan Hom dink of na Hom toe gaan nie.

Hy is ons Pa.  Hy alleen in die heelal weet wat die volle betekenis van die woord Vader is.

Hy kry soveel vreugde wanneer ons aan Hom dink en met Hom praat en na Hom toe gaan en raad vra.

 

Jare gelede toe daar nog nie so baie hulpmiddels was nie het ‘n pa ‘n kind gekry wat doof en stom gebore is.  Dit was vir hom ‘n baie hartseer dag toe hy uitvind dat sy kind nooit sal hoor en soos hy gedink het sal praat nie.

Hy het gehoor van ‘n inrigting ver van hom af wat doof stom kinders geleer kommunikeer het.  Hy het sy kind na die inrigting toe geneem.

Na ‘n lang ruk wat die kind daar was het die hoof van die inrigting vir die pa geskryf en hom laat kom sodat hy sy kind kan besoek.

Die datum was bepaal en die kind het geweet wanneer haar pa sou kom.  Soos die tyd verby gegaan het die dag het sy by die venster gesit en die hek dopgehou wanneer haar pa sou kom.

Die oomblik toe hy by die hek inkom het sy na haar pa toe gehardloop en in sy oë gekyk en haar eerste woord vir hom gesê:  “Pappa”

Toe die pa die stom lippe hoor wat praat en die mooiste woord ooit vir hom sê het sy so oorweldig van emosie geraak dat in trane uitgebars het en op sy knieë geval het.

Daar is ‘n Vader wat jou lief het soos geen aardse pa kan liefhê nie.

Hy begeer dat Sy kinders sal besef dat hulle Sy kinders is en dat hulle sal in Sy oë kyk en van ‘n hart wat die HG gevul het met Sy kindskap sal roep: “Abba, pappa, Vader.”

Geen woorde kan die vreugde beskryf wat God ervaar as een van Sy kinders dit doen nie.  Veral as hulle dit vir die eerste keer doen nie.