Nooit weer… moet jy glo dat jy almal tevrede kan stel nie

[powerpress]

Ons reeks nooit weer nie… gaan oor ’n paar algemene lewenswyshede wat ons almal op ‘n stadium in ons lewe moet leer.

Week 1: Nooit weer moet ek iemand wees wie ek nie regtig is nie.

Week 2:  Nooit weer moet ek iemand anders probeer verander nie.

Vandag- Nooit weer moet jy glo dat jy almal kan tevrede stel nie.

Die gevoel dat ander my raaksien en lief vir my is, is ’n basiese menslike behoefte.

 

Vandag gaan ons sê, ek gaan nooit weer vir die goedkeuring van ander mense lewe nie.

Is dit okay met julle?  Hou julle van my idee?  Dra dit julle goedkeuring weg?

Laat dit jou ook goed voel?  Hou jy van my boodskappe?  Hou jy van my?

Die realiteit is, meeste mense wat in die openbaar op te tree, mense soos pastore, het ’n diep behoefte aan aanvaarding.

Mense wat baie gedrewe is, baie goed is in sport, goed is in musiek of akademies het ’n diep begeerte om hulself te bewys.

 

Prov. 29:25        “Fearing people is a dangerous trap, but to trust the Lord means safety.”  NLT

 

Van my eerste begeertes as kind was die gevoel, my pa is hier, ek wil tog net goeddoen dat ek sy goedkeuring kan wegdra en dat hy trots op my kan wees.

Meeste ouers is vir hulle kinders lief ten spyte van… maar die leuen wat ’n goedkeurings verslaafde glo is – as ek goeddoen, myself bewys, dan sal hy / hulle my liefhê en aanvaar.

Die goedkeringsverslaafde is baie keer die uitblinker op skool.

Wanneer ek begin werk, gee ek my 120%.  Ek kom eerste in, ek loop laaste.

Ek doen my werk so goed dat my baas of ander my kan prys.

Niks is te veel gevra nie.  As jy my in die middel van die nag bel om uit te vind wat iemand se nommer is, geen probleem nie, ek is tot jou diens.

 

Tekens dat goedkeuring van ander mense vir jou belangrik is:

1.  Dit is vir jou belangrik wat ander dink.

Dit kan nou en dan wees, dit kan feitlik altyd wees.

Bv. as jy ooit ’n publieke praatjie moes lewer dan het jy ’n senuweeagtige gevoel gehad.

Hoekom is jy op jou senuwees?  Want jy is besorg oor wat die mense wat na jou gaan luister dink oor jou praatjie.  Het dit vir hulle iets beteken?  Het ek sin gepraat of snert?

Sosiale media.  Jy maak ’n plasing en so minuut later begin jy kyk wie hou van jou opmerking.  Wie deel dit?  Het iemand daarop kommentaar gelewer?

Selfie.  Wat dink julle van my selfie?

So nou en dan, dan gaan ons uit vir ’n spesiale geleentheid.

Wat sê meeste vrouens?  Ek het niks om aan te trek nie…  regtig?

Hoe lyk hierdie een?  Wat probeer jy vir my sê?

 

2.  Jy is baie sensitief vir gevoelens.

’n Honderd mense sal vir my kom sê, hey Braam, ek het van jou boodskap gehou.

Maar die een ou wat sê, het jy gehoor wat Andy Stanley van hierdie onderwerp gesê het, wow, dit is net amazing.

Waarna toe gaan die goedkeuringsverslaafde?

Ek is ’n mislukking.  Ek is nie goed genoeg nie.

Jy fokus op die 5% se opmerkings en die 95% s’n vergeet jy heeltemal.

 

Wanneer iemand dalk ongevra ’n stukkie raad aan jou gee of dalk kritiek.

Wat maak jy daarmee?  Raak jy onmiddellik verdedigend en wil die persoon reg help?

Raak jy dalk sarkasties en maak een of ander skerp opmerking sodat die persoon op sy plek gesit word?

Of bly jy dalk stil en dink in jou binneste, jou idioot, sien jy nie die groot balk in jou eie oog raak nie en dan wil jy die splinter in my oog kom raaksien.  Gaan vlieg.

 

3.  Jy laat jou waardes gaan. (Compromise)

Jy gaan kompromieë aan.  Jy glo iets met jou hele hart, maar jy is bereid om aan te pas of stil te bly sodat jy nie ongewild raak nie.

’n Jong meisie wat by ’n ou hoor, as jy regtig lief vir my is… dan sal jy…

Of die manne wat om die braaivleisvuur begin vuil grappe te vertel en skielik ken jy ook een of twee.  So jy gaan ’n kompromie aan met jou waardes.

Of jy glo nie daaraan om skuld te maak nie maar die vakansie kom nader en ALMAL gaan weg of het ’n nuwe karavaan gekoop… jy kan tog nie met jou 1980 model daar aankom nie.

Hoekom doen ek dit?  Want ek wil tog nie hê dat ek moet uitstaan as almal met hulle 2015 model karre en karavane langs my staan in Hartenbos nie.

As dit waar is, merk hom af.  Ek compromise my waardes soms.

 

4.  Dit is vir jou moeilik om “nee” te sê.

Iemand vra jou, kan jy my kom help?  En binne jou skree jy, nee, net nie nou nie, ek is ongelooflik besig hierdie week, ek voel of ek verdrink.

Maar dit wat uit jou mond kom is: “Natuurlik, ek sal kom kyk.”

En dan is daardie aaklige gevoel van skuld want uiterlik sê jy “ja” maar binne jou begin jy voel jy almal is ondankbaar en hulle misbruik jou altyd.

Uiterlik wil jy tog nie iemand teleur stel nie maar innerlik verdrink jy omdat jy oorweldig voel.

 

Hoekom doen ons dit?

Die rede is omdat ons ego’s ongelooflik onseker voel.  Insecure.

Ons ego’s wat gevorm word vandat ons 2 jaar oud is skree ons hele lewe lank uit:  “Hou van my!  Hou van my!  Aanvaar my!  Laat my goed voel oor myself!”

En as ons nie versigtig is nie dan sal ons een van die grootste waarhede en gevare in hierdie lewe mis:

 

Wanneer wat mense van ons dink, vir ons belangrik word, is dit die maklikste manier om te vergeet wat God van ons dink.

Vrees vir mense is ’n gevaarlike slagyster, sê

Spreuke 29:25  “Jy stel vir jouself ’n slagyster as jy vir mense bang is.  Jy beveilig jou lewe as jy op die Here vertrou.”

Dit is ’n trap sê die Engels.  Dit is soos ’n jagter wat ’n slagyster stel en dan trap iets in ’n stadium daarin en hy kan nie loskom nie.

 

1 Sam. 15:24     “Saul sê toe vir Samuel: “Ek het gesondig, want ek het die bevel van die Here en u opdrag oortree omdat ek vir die manskappe bang was en na hulle versoek geluister het.”  AFR83

Saul was banger vir sy manskappe as vir God.  Hy wou in hulle guns wees.

Wat is die uiteinde?  Die Here het hom verwerp en hy het sy koningskap verloor.

 

Dink aan Jesus se dood.  Dit was goedgekeur deur iemand wat aan goedkeuringsverslawing gelei het.

Mat. 27:21-22     “Toe die goewerneur dus weer vir hulle vra: “Wie van hierdie twee moet ek vir julle vrylaat?” het hulle geskree: “Barabbas!”  “Maar as ek Barabbas vir julle vrylaat,” het Pilatus hulle gevra, “wat moet ek dan met Jesus die ‘Messias’ doen?” Hulle roep almal: “Hy moet gekruisig word!”

 

Wat is die probleem?  Wel, dit is so gevaarlik dat dit soos ’n afgod in jou lewe raak.

Mense se goedkeuring raak vir my belangriker as God se goedkeuring.

Mense raak groter, God raak al hoe kleiner.

Deesdae sien ek dit baie in ouerskap raak.  Ouers wat dink hulle hoofdoel in hulle kinders se lewe is om hulle vriende te wees en hulle gelukkig te maak.

As jy ’n dissipel van Jesus is, kan die opinie van mense nie vir jou ’n obsessie raak nie.

 

God het ons geskep om vir ’n gehoor van EEN te lewe, nie vir ’n gehoor van baie nie.

Daar is net EEN wie se goedkeuring, aanvaarding en opinie vir ons moet saak maak – God alleen.

Dit is onmoontlik om beide vir die gehoor aanvaarbaar te wees en vir God.

Ons ego wat heeltyd uitskree, Hou van my!  Aanvaar my!  Is eintlik is stuk gebrokenheid in ons wat ons na God toe moet neem waar Hy alle imperfeksie of gebrokenheid kan genees.  Waar Hy wat eintlik saak maak vir ons kan sê, “Ek is lief vir jou.

Ek aanvaar jou soos jy is.  Ek vergewe jou vir jou foute.”

 

Om vir ’n gehoor van EEN te lewe beteken dat ek ander se opinie en goedkeuring ondergeskik aan God s’n sit.

Gal. 1:10   “Probeer ek by mense in die guns kom? As ek nog steeds die guns van mense soek, sou ek geen dienaar van Christus wees nie.”  AFR83

Wat se Paulus?  Ek kan nie mense dien as ek ’n dienaar van Christus is nie.

 

Een van die mees bevrydende en grootste oomblikke in jou lewe kan wees wanneer jy besluit om elke dag te begin met die wete:

Ek leef vir ’n gehoor van EEN en nie van baie nie.

En soos enige verslaafde elke dag weer die besluit moet neem om bv. nugter te bly moet ’n goedkeuringsverslaafde ook elke dag weer besluit om net vir God te lewe.

En soos wat ’n verslaafde swak oomblikke het om weer terug te val na ou gewoontes toe sal ek en jy in ons “af tye” die versoeking hê om weer mense te please i.p.v. God.

Dit bly ’n worsteling jou hele lewe lank.

 

Die oomblik wat jy ’n besluit neem sal daar iemand wees wat nie van jou besluit sal hou nie.  Die enigste manier om almal altyd gelukkig te maak is om nooit iets te doen of te sê nie.  Dit is onmoontlik.

As dit moontlik was, sou jy ’n paar mense moes wees, want vir die klomp sal jy so moet wees en die ander klomp sal jy so moet wees.

Om so te leef sal jy soos ’n golf in die see wees wat op en af gaan en wat vir niks regtig staan nie.  Jy sal ook die verkeerde mense gelukkig maak.

Luk. 6:26  “Daar wag groot probleme op julle as julle net altyd wil hê dat mense mooi dinge oor julle moet sê; as julle alles in julle vermoë doen om ander te beïndruk.”

 

1. Groot besef: Jy kan nooit almal gelukkig maak nie maar jy kan God gelukkig maak.

Mense wat die moeilikste is om tevrede te stel is gewoonlik die mees egotistiese mense.

Hulle is net gelukkig wanneer jy doen wat vir hulle goed is en dit is gewoonlik nie goed vir almal nie.

Wees eerder ongewild by baie maar gewild by die EEN wat jou eendag gaan oordeel.

Rom. 14:12   “Elkeen van ons sal dus oor homself aan God rekenskap moet gee.”AF83

En wat liewer vir jou is as wat enige mens op aarde nog ooit vir jou was.

Jer. 31:3    “Ek het jou lief met ’n liefde wat nooit ophou nie. Ek trek jou met troue liefde na My toe.”  NLV

 

2. Groot besef: Leef vanuit God se goedkeuring i.p.v. vir mense se goedkeuring.

Dit sal jou lewe transformeer wanneer jy hierdie waarheid internaliseer.

Om jou behoefte aan goedkeuring en aanvaarding en liefde by God te kry is iets wat gebeur wanneer jy gereeld tyd saam met Hom spandeer en Sy liefde ervaar.

Dit raak naderhand iets innerlik, wat van binne af kom i.p.v. iets uiterlik wat die heeltyd van mense af moet kom.

My waarde is nie gebaseer op wat jy van my sê of dink nie maar is gebaseer op wat God van my sê en dink.

Wanneer jy my teleurstel moet ek weet, niemand is perfek nie.

Jy gaan my met tye teleurstel.  En ek gaan jou met tye teleurstel.

Daar is net een wat perfek is en dit is God.

Net Sy liefde is perfek.  Net Sy aanvaarding is perfek.

 

Wanneer dit by mense kom, moenie soek na perfektheid nie, soek eerder na die goeie in mense.  Die goeie is in elke mens want God se vingerafdrukke is in elke mens.

Leef vir ’n gehoor van EEN.  Maak net EEN in die lewe gelukkig.

Leef vanuit hierdie AANVAARDING en nie vir die aanvaarding van ander nie.