Nooit weer… moet jy probeer om iemand anders te verander nie

[powerpress]

Lukas was ’n baie suksesvolle sakeman wat baie mpy.’e gestig het en ’n fortuin gemaak het.  Sy seun was die mees aangewese keuse om die besigheid oor te neem aangesien sy dogter nie in die besigheid belang gestel het nie.

Nadat Morné graad gevang het, het hy vir twee jaar in Engeland gaan werk en toe het hy teruggekom S.A. toe om saam met sy pa te kom werk in die besigheid.

 

Morné het in verskillende afdelings van sy pa se besighede begin werk.  Dit was opwindend in die begin. Maar Lukas het met tyd begin agterkom dat Morné nie altyd betyds vir werk opgedaag het nie en soms glad nie ingekom het nie.

Soos tyd verloop het, het Lukas gedink dat dit tyd is om Morné meer verantwoordelikheid te gee en het hy hom in die bemarkingsafdeling aangestel omdat Morné nog altyd baie kreatief was en gehou het van strategie.

 

Maar dit het nie lank geneem voor Morné se onmiddellike hoof met hom gefrustreerd begin raak nie. Morné het ’n baie ontspanne traak-my-nieagtige houding teenoor alles gehad.

Morné se hoof het na sy pa toe gegaan en dit met hom bespreek maar Lukas het gevoel dat sy seun nog besig was om aan te pas en dat hy mettertyd homself sal regruk.

Wat ’n ongelooflike geleentheid was dit nie, om sy pa se besighede wat miljoene werd was eendag te bestuur.

 

Lukas het sy bes probeer om vir Morné te motiveer, om hom entoesiasties te maak oor sy werk.  Hy het vir hom groot bonusse gegee wanneer hy iets bereik het.

Dan het dit gelyk op daar so effense verbetering kom maar binne so paar weke gaan Morné maar net weer terug na sy laisse faire benadering toe.

 

Lukas het met ’n mentor gepraat oor Morné en raad gevra?  Die ou mentor wat ’n goeie vriend was, het vir Lukas gevra: Is jy bereid om hom af te dank indien hy nie verbeter nie?  Lukas het nie die vraag verwag nie.  Afdank, nee, hoekom, hy sal mos regkom en die erns van dinge besef, maar Lukas het een van die fundamentele beginsels in die lewe nie besef nie:  Jy kan nie ’n ander persoon verander nie.

Morné het twee dinge nodig gehad wat hy nie ontwikkel het nie.  Honger en passie.

Hy was nie honger genoeg om die dryfkrag te hê om te doen wat nodig is om ’n groot besigheid te bestuur nie.  En hy was nie passievol oor die besigheid self nie.

Lukas het gedink as hy net hom meer tyd gee, harder probeer sal sy seun ook die suksesvolle besigheidsman word wat hy was.

 

As Morné dit net wil snap?  Reg?  As hy net die kans wat hy kry in die lewe kan raaksien dan sal hy homself verander en meer gedrewe raak.  Maar Morné het nie verander nie en sy pa kon dit nie oor sy hart kry om hom af te betaal nie.

Nadat Lukas dood was, het Morné oorgeneem en die besighede bestuur maar dit was totaal en al uit sy diepte. Binne 10 jaar het hy alles verloor wat sy pa in 40 jaar opgebou het.

 

Nog ’n storie:

Stephanie was verlief op Willem.  Hulle was wonderlik saam.  Die enigste probleem was dat hulle definisie van “saam” baie verskil het.

Vir Stephanie het dit beteken om baie tyd saam te spandeer en ten volle committed te wees om moontlik te trou.  Vir Willem was dit om saam te wees wanneer hy daar is maar as hy besig was met sy sport of werk dan was dit die belangrikste dinge in sy lewe.

Hy was lief vir haar maar op hierdie stadium was hy nie die soort ou om hul verhouding so ’n groot prioriteit te maak soos sy sport vir hom was nie.

 

Dit het baie spanning tussen hulle veroorsaak.  Wanneer hulle saam was, was dit wonderlik maar Stephanie wou meer hê.  Willem het nie van die druk gehou dat hy al sy vrye tyd saam haar moet spandeer nie.

Sy kon nie verstaan hoekom hy nie kon commit om te trou en hulle meeste van hulle tyd saam spandeer nie.

Willem was nie gereed om te doen wat Stephanie graag wou hê hy moes doen en wees nie.  Stephanie het ’n paar keuses gehad:

 

1.  Sy kon aanhou neul, kla en mooipraat en deur hom te beheer te probeer verander.

2.  Sy kon haar verwagtings en behoeftes verander en aanvaar dat dit die soort verhouding is wat hulle gaan hê en in haar eie dinge te begin ontvlug.

3.  Sy kon hom ’n keuse gee om of ten volle te commit tot hulle verhouding of om uit te maak.  Sy was selfs bereid dat hulle iemand saamgaan sien om dinge deur te werk.

 

Wat kies Willem?  Ek gaan nie sê nie, maar dit maak nie regtig saak nie.

Maar deur vir Willem keuse 3 te gee waar hy moet kies om of sy lewenstyl te verander of om eerder die verhouding te beëindig het hy en sy ten minste die vryheid om iemand te kry wat beide van hulle sal gelukkig maak.

Die oomblik wanneer daar ’n magstryd in enige verhouding is, gaan dit oor ’n ‘druk-trek-scenario’ jy probeer om iemand te verander.

 

Hoe hanteer God mense?

Daar is niks in die woord wat sê dat ons nie moet probeer om ander te beïnvloed om te verander nie.  In teendeel, God sê dat ons alles in ons vermoë moet probeer om iemand te verander wat op ’n verkeerde pad is.

Nêrens se God ons moet stilbly oor mense se destruktiewe gedrag of gewoontes wat pyn veroorsaak nie.  Hy sê dat as iemand op ’n destruktiewe manier leef, moet ons probeer help:

Gal. 6:1     “My broers en susters, as ander gelowiges aan die een of ander sonde toegee, moet julle wat julle deur die Gees laat lei, hulle dadelik reghelp. Bring hulle weer terug op die regte pad sonder om hulle te kritiseer of te veroordeel. Maar pas op. Julle kan ook maklik voor die sonde swig. Nie een van julle is verhewe bo versoekings nie.” DB

 

As iemand doen wat sleg vir hulle is, sleg vir jou is, sleg vir hulle geliefdes is, moet ons hulle konfronteer en probeer help insien wat hulle doen, selfs druk op hulle sit deur ander mense te betrek om te help:

Mat. 18:15-16     “As jou broer verkeerd opgetree het teen jou, gaan wys hom tereg waar julle eenkant alleen is. As hy na jou luister, het jy jou broer teruggewen. Maar as hy nie luister nie, neem nog een of twee met jou saam, sodat alles wat gesê word, deur die woord van twee of drie getuies bevestig kan word.”  AFR83

 

God is baie duidelik oor wat Hy van sy verhouding met ons verwag en Hy sê vir ons dat ons ook so moet wees teenoor mekaar.

Hy beskou dit as ’n goeie ding as ons mekaar ten goede probeer beïnvloed.

Spr. 9:8-9  “Moenie ’n ligsinnige mens probeer opvoed nie, hy sal jou daarvoor haat. Voed ’n wyse op, en hy sal lief wees vir jou. Gee jou aandag aan ’n wyse mens, en hy kry meer wysheid, leer ’n regverdige, en sy kennis vermeerder.”  AFR83

 

Ons moet probeer.  Maar soms val alle goeie advies en raad op dowe ore.  En dan is dit tyd om te besef:

Ek kan nie iemand anders kry om te doen wat hulle nie kies om te doen nie – of omdat hulle nie kan nie OF omdat hulle dit nie wil doen nie.

 

Die rede?  Ons kan nooit iemand anders se vryheid van keuse oorneem nie.

Om te probeer om mense te verander, al is dit net in die kleinste dingetjies wat jou irriteer druis in teen die manier hoe God met ons werk.

God dwing nie een van ons om sy robot te wees om te doen wat Hy wil hê nie.

Hy nooi ons wel uit, Hy beïnvloed ons dikwels deur omstandighede en mense.

Maar Hy maak ons nooit om te doen wat Hy selfs weet vir ons goed sal wees nie.

Dit werk nooit nie.

 

Die toepassing van hierdie lewensbeginsel is eindeloos.

  • ’n Kritiese mens wat nooit goedkeuring of positiewe opmerkings gee nie.
  • ’n Verslaafde wat nie wil doen wat nodig is om los te kom nie.
  • ’n Onverantwoordelike mens wat nie wil doen wat gedoen moet word nie.
  • ’n Werker wie se werk nie op standaard is na verskeie gesprekke nie.
  • Iemand wat net ontvang in ’n verhouding en niks wil gee nie.
  • ’n Ouer wat jy wens net anders kan wees.
  • ’n Volwasse kind wat nie wil grootword en beter keuses maak nie.
  • ’n Vennoot wat nie so hard soos jy werk nie.

 

Die beginsel is nie dat ons passief en onbetrokke moet wees in verhoudings nie.

As ons mekaar lief het, sal ons ons bes doen om mekaar ten goede te beïnvloed.

Die kwessie is dat ons ander se vryheid moet raaksien en respekteer om hul eie keuses te maak al is dit hoe sleg vir hulle.

As ons daardie vryheid nie erken nie sal ons een van twee dinge doen:

Ons sal aan hulle karring en neul en aan maniere dink ons hulle te beheer totdat hulle ons begin kwalik neem.

Of ons sal onsself voortdurend frustreer as ons eis dat iemand iets moet wees of doen wat ons wil hê hulle moet wees of doen.

As hulle dit weerstaan sal ons kwaad word, hulle verkleineer of skuldig laat voel.

Dit is moeilik om eerlik en openhartig te wees en verantwoordelikheid te aanvaar vir ons eie wense as ons besef dat ander mense vry is om te doen wat hulle wil doen.

 

Partykeer is die gevolge en konsekwensies die enigste ding wat mense sovêr kry om ’n keuse te maak.  Maar ons kan nie beheer wat hulle kies en selfs of hulle ’n keuse gaan maak nie.

Die gevolge of konsekwensies is nie dat ek hulle maak om ’n keuse te maak soos ek hulle graag wil hê hulle moet maak nie.

Nee, die gevolge is dat hulle die vryheid het om te kies wat hulle wil en dat ons dan ons reaksie kies in die lig van hulle keuse.

 

Dink weer aan Stephanie en Willem.  As dit by Willem se keuse kom, moet Stephanie nie probeer om hom te verander om te doen wat sy wil hê nie.  Dit sal ’n magstryd afgee en sal nooit werk nie.

Om vir Willem ’n duidelike keuse te gee en hom die vryheid te gee om te kies, a of b.

Dit sal ander dinge laat gebeur waaroor sy nie beheer het nie.

Dieselfde vir Lukas en Morné.  Morné moet kies a of b.  En as b sy keuse is dan moet Lukas dit aanvaar al beteken dit dat Morné nie sy empire gaan oorneem nie.

Dit gaan nie oor ompraat, neul, beheer nie. Dit veroorsaak net slegte dinge in verhoudings.

 

Die tema kom regdeur die Bybel voor:

Jos. 24:15 “As julle nie die Here wil aanbid nie, moet julle vandag vir julleself besluit wie julle dan wil aanbid. Is dit die gode wat julle voorouers anderkant die Eufraat gedien het, of is dit die gode van die Amoriete in wie se land julle nou woon? Ek en my huisgesin sal die Here aanbid.”  NLV

’n Duidelike keuse wat Josua hulle gee.  Hy gee hulle die vryheid om te kies.

 

Jesus het dit ook gedoen met die ryk man:

Natuurlik wou Jesus hê die ryk man moet Hom boweal anders kies en die ewige lewe hê. Maar Jesus het nie sy keuse probeer beheer nie.

Toe die ryk man vir Jesus vra wat hy moet doen om die ewige lewe te verkry het Jesus basies vir hom gesê dat sy rykdom tussen hom en God staan en dat hy sal moet kies.

Die man het sy rykdom gekies en weggegaan en Jesus het hom laat gaan:

Mark. 10:22        “Hy het egter geskrik toe hy dit hoor en het bedruk weggegaan, want hy het baie besittings gehad.”  AFR83

So stilswye en passiwiteit om ander positief te beïnvloed is nie ’n opsie nie.

Maar ons moet ander die vryheid gee om keuses te maak en daarop reageer.

 

Die ou spreekwoord lui:

Jy kan ’n perd na die water toe bring, maar jy kan hom nie dwing om te drink nie.

Hoe gelukkig is mense wat frustrasie vermy deur nie te probeer om die perd te dwing om water te drink as hulle nie dors is of van water hou nie.

Wys mense die water.  Wys hulle hoe koel en verfrissend die water is.

Wanneer hulle gedehidreer is, vertel hulle dat water hulle sal help.

Sê vir hulle hoe jy dit sal geniet om water saam met hulle te drink.

Wys hulle wat die water vir jou al beteken het.

 

MAAR weet dat jy hulle nie kan dwing om te drink nie.

Dit is iets wat net hulle kan doen wanneer en as hulle wil.

Onthou… hulle is vry om te kies.

Nooit weer… moet jy dink jy kan iemand dwing om iets te doen nie.

Kom tot inkeer as jy probeer het om ander te probeer beheer.

Laat God toe om die werk te doen wat net Hy kan doen en waaroor jy in elk geval geen beheer het nie.