Nooit weer… sal ek iemand probeer wees wie ek nie is nie

[powerpress]

Sommige lesse in die lewe leer ons op die harde manier.

Die Here gee vir ons soveel wyshede in die Bybel maar soms gebeur dit dat die universiteit van die lewe ons ’n paar lesse moet leer.

Dit is waarna ons gaan kyk in hierdie reeks.  Slaggate wat ons moet vermy.

Slaggate wat jou sal laat voel wanneer jy in hulle getrap het, nooit weer nie.

Rom. 12:6 “Ons het gawes wat van mekaar verskil volgens die genade wat God aan elkeen van ons gegee het. Ons moet hierdie vermoëns reg gebruik.”  NLV

 

Vandag se slaggat: Nooit weer… moet jy iets doen wat vereis dat jy iemand moet wees wat jy nie is nie.  Ek het dit al ’n paar keer vertel maar vergun my dit weer te vertel.

Toe ek in matriek was soos hierdie matrieks vir wie ons vanoggend gebid het, het ek baie idees en drome wat my toekoms aanbetref.

Dit was ’n blye dag toe ek matriek geslaag het, nie so goed as wat ek en ander gedink het nie maar ten minste kon ek universiteit toe gaan.

Ek onthou hoe ek besluit het om in te skryf vir B.Com Rek en ek het gedink dat ek ’n C.A. sou word en myself iewers in ’n groot mpy sou opwerk.

 

Halfpad deur my eerste jaar het daar ’n besef by my gekom dat hierdie rekeningkunde waarmee ek nie te sleg was nie, nie my passie kan wees vir my hele lewe nie.

Ek sal nooit die dag vergeet wat ek saam met my pa gery het en vir hom gevra het, sal hy my dwing om iets te doen wat ek nie wil doen nie.

My pa is vanoggend hier, hy sal die dag ook onthou, ek kan selfs die plek in die kar onthou waar ek vir hom gevra het of ek eerder teologie kan gaan studeer want hierdie rekeningkunde en finansiële bestuur sou my van my kopaf maak.

 

Ek wou met mense werk, nie met syfers nie.  Dit was net nie ek nie.

Die grootste besef was natuurlik dat ek die Here se roeping in my lewe al sterker en sterker begin ervaar het.

Ek wou niks anders met my lewe doen as om voltyds vir Hom te werk nie.

Natuurlik het ek my pa se geld vir my eerste jaar op universiteit gemors maar hopelik is die vrug van my besluit sigbaar vandag in my lewe.

Geen geld, goeie posisie of besigheid sou daarvoor kon opmaak nie.

 

As jy nie op die regte plek is nie sal jy innerlik begin verdor, Want ons kan nie vir baie lank iemand wees of doen wat ons nie regtig is nie.

As jy op die regte plek is, sal ’n nuwe wêreld vir jou oopgaan.  Jy sal lewendig voel.

Jou tyd gaan verbyvlieg, voordat jy jouself kan kry, gaan ’n dag verby wees.

Daar gaan ’n diepe genot in jou wees, iets wat geen vergoeding vir jou kan gee nie.

 

Om iets te studeer, om iets te doen dag vir dag wat nie in lyn is met jou gawes en wie die Here jou gemaak het om te wees nie sal die genot en die lewe uit jou dreineer.

En dit sal op allerhande maniere sigbaar word vir mense in jou lewe.

 

Wanneer is dit ’n goeie ding om nie “ek te wees” nie?

Ek sê nie vanoggend dat ’n mens nooit dinge moet doen wat jy nie van hou nie.

Partykeer is dit die verantwoordelike ding om te doen.

Soos om soms ’n werk te aanvaar wat nie jy is nie, maar jy weet dit gaan jou instaan stel om jou gesin te onderhou wat vir jou belangriker is as jou eie gemak.

Wanneer jy iets doen wat nie werklik “jy” is nie doen jy dit om ’n rede wat waarlik “jy” is. Die liefde vir ’n persoon of jou gesin of ’n doelwit in jou lewe.

Wanneer jy dit as opoffering doen, is die motiverende faktor waarlik jy.

 

Bv. Ek is nie ’n blye vroeë opstaner nie.  Ek kan veel eerder laat wakker bly.

Maar kan ek ’n doelwit hê soos verlede jaar gehad het om die Ironman te doen.

Dit het vereis dat ek vir maande lank vroeg moes opstaan sodat ek kon oefen voordat my dag begin. Die vroeë oggende was nie ek nie, maar die oefening en uitdaging was ek.

 

Die naweek het ons die Leadership Summit bygewoon en Jim Collins, een van die sprekers het gepraat van 3 dinge in ons lewe wat bymekaar moet uitkom:

 

Waaroor is jy

baie passievol?

(Jou waardes en missie)

 

 

 

Wat dryf jou ekonomiese enjin?

Tyd, inkomste.

 

Waarmee is jy die beste in die hierdie wêreld?

(Gawes / Talente)

Bly by God se plan vir jou lewe

God het jou op ’n sekere manier gemaak, met sekere vermoëns en passies.

Die Bybel praat van hierdie vermoëns as gawes.  Op Saterdag 7 November gaan ons weer ’n 1 dag retraite aanbied om ons te help om hierdie gawes weer te ontdek en so bietjie af te stof, want van ons het gawes maar ons begrawe hulle.

En ons vergeet dat die Here eendag van ons rekenskap gaan vra van alles wat Hy vir ons gegee het insluitend elke liewe gawe wat Hy vir ons gegee het.

So dit is ons verantwoordelikheid om hulle te ontdek en hulle te begin uitleef.

 

Ons keuses het ewige impak.  Sommige is baie moeilik om te verander.

Ek lees van ’n chirurg wat nie ’n dokter wou wees nie maar hy het een geword a.g.v. die druk van vele geslagte voor hom in sy familie.

Sy ware liefde was musiek en kuns. Hy het probeer om iemand te wees wat hy nie is nie.

Hy het ’n IK van ’n miljoen gehad, wonderlike vaardighede en tog het hy voortdurend foute gemaak – soos om sponse en instrumente in mense se ingewande te vergeet.

Totdat die wanpraktyksake en ontevrede hospitale besluit het om vir hom ’n besluit te neem wat hy jare gelede al moes neem.  Die dokter ding was ‘nie hy nie’.

 

Dit geld nie net vir werk nie.  Ook vir verhoudings.

Sandy wou baie graag twee dinge in die lewe hê.  ’n Huwelik en aansien.

Sy het albei gekry toe sy op Ben verlief geraak het en met hom getrou het.

Die probleem was dat Ben se persoonlikheid, waardes, familie en lewenstyl so gerig was op homself dat hy min plek gehad het vir buigsaamheid en opofferende liefde.

Om met Ben geassosieer te wees, het beteken om met alles geassosieer te wees wat Ben was.

Sandy het nie ingepas nie – nie met Ben nie en nie met wat saam met hom gekom het nie, Maar sy was verlief op die fantasie daarvan en het probeer om iemand te wees wat sy nie was nie, sodat sy kon hê wat sy begeer het.

Ben se familie het haar versmoor en die sosiale druk om iemand met ’n sekere voorkoms en aansien te wees het haar vasgedruk en depressief gemaak.

Maar omdat Ben die status gehad het waarna sy so gestreef het, het sy in ontkenning begin leef dat dit inbreuk gemaak het op wie sy werklik was.

Sy het uiterlik gelyk soos iemand wat ’n droom lewe, met ’n droom man maar innerlik het sy doodgegaan en miserabel en baie verwyte begin leef.

 

Wat sê ek?  Soms moet ons sekere skatte of passies in die lewe prys gee om juis ander te kry wat selfs meer kosbaar vir ons is.

Wat ek ook nie sê nie is: die lewe gaan oor my.

Ek sê glad nie vanoggend dat die lewe oor my of jou moet gaan nie.  Allermins.

Die lewe gaan oor opoffering.  Dit is tog die voorbeeld wat Jesus vir ons gelos het.

Om altyd te doen waarvan ek hou en wat vir my lekker is, druis teen die hart van Christus in.  Om werk te doen wat nie jy is nie maar jou in staat stel om vir jou kind se opvoeding te betaal is die regte te ding om te doen, dit is opoffering.

Om ons eie gerief vir iemand anders of vir ’n groter doel soos God se koninkryk op te offer is die gesindheid en liefde wat Jesus vir ons kom wys net.

Fil. 2:3       “Moet niks uit selfsug of eersug doen nie, maar in nederigheid moet die een die ander hoër ag as homself.”  AFR83

 

Wat ek wel sê is:  jy moet weet wie jy is en wat God vir jou gegee het om te doen.

En as dit beteken dat jy vir seisoene van jou lewe dalk opofferings moet maak sodat jy op die lang duur God se opdrag en missie aan jou kan uitvoer dan moet jy dit kan doen.

Maar moet nooit vergeet dat die lewe oor verhoudings gaan en oor liefde nie.

Al die voorsiening in die wêreld kan nooit opmaak vir ’n ma of ’n pa wat nie ’n intieme konneksie met hulle kinders het nie.

Rom. 12:3 “…sê ek aan elkeen van julle dat jy nie jouself moet oorskat nie, maar dat jy jouself nugter moet beoordeel volgens die geestelike toerusting wat God aan jou toebedeel het.”  NLV

 

Hoekom is jy hier op aarde?

Is dit om geld te maak?  Is dit om prestasies te lys?

Ek dink ons is hier omdat God ons wil gebruik in Sy koninkryk.

Is dit sodat ons genoeg kan bymekaarmaak vir ons oudag?

Nee, ek dink dit is dat Hy van ons sy dissipels wil maak en wil gebruik om ander mense Sy dissipels te maak.  Ons primêre roeping is eerstens om God se kinders te wees.

 

Jy sien, vir ’n dissipel van Jesus is dit nie meer: “Waar is die beste moontlikhede vir my beroep? of “Waar kan ek die meeste geld maak?” nie.

Iemand wat hulle lewe rondom hierdie dinge bou sal altyd teleurgesteld wees wanneer hulle dit bereik of dit dalk nooit bereik nie.

 

Maar as jy vra:  Wat is God se wil vir my hier waar ek nou is?  Wat het God in my hand gesit om vir Hom te doen?  Wat is Sy agenda vir hierdie wêreld?

Dan sal ek al my hoop in Hom plaas.  Dan sal ek uitvind dat Hy die bron van Hoop is en nie my sekuriteit of werk nie.

 

Hy gee elke liewe een van Sy dissipels ’n doel.  Nooit raak ek verveeld as ek in Sy diens staan nie.  Hy is by jou lewe betrokke met ’n plan en doel.

Hy het vir jou ’n geseëlde koevert gegee wat jy moet oopmaak met jou opdrag.  En hierdie opdrag is iets wat jy moet ontdek en weer ontdek en foute maak en weer ontdek.

Maar met tyd sal jy God se handskrif op jou lewensbrief ontsyfer en agterkom wat Hy van jou vra.  En dit wat Hy van jou vra sal nie swaar of moeilik vir jou wees nie.

Nee, dit sal soos energieselle in jou lewe wees.  Dit sal jou laat lewe.

Dit sal jou daardie ‘AHA’ gevoel gee.  Die gevoel dat ek hiervoor gemaak is.

Eph. 2:10  “For we are His workmanship (masterpiece), created in Christ Jesus for good works, which God prepared beforehand that we should walk in them.”  NKJV

Jy is Sy meesterstuk.  As jy weer dink, maar ek is nie goed genoeg nie.  Ek kan nie iets so goed doen soos iemand anders nie.  Bely Efes. 2:10  “For I am His masterpiece.”